Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Kamera tol jou tot binne in die aksie

 

Dunkirk met Fionn Whitehead en Damien Bonnard. Regisseur: Christopher Nolan.*****

Christopher Nolan, wat as een van die rolprentbedryf se gerespekteerdste genieë bestempel word, het gehore al verstom met sy unieke rolprentvisies in Inception, Interstellar, The Dark Knight en The Dark Knight Rises. 'n Mens sou hom dus nie vereenselwig met 'n rolprent oor die Tweede Wêreldoorlog nie.

Hy vertel dié slag die verhaal van die Geallieerdes van lande soos Brittanje, België en Frank­ryk wat aan die einde van Mei 1940 by Duinkerken na veiligheid gebring moes word toe hulle omsingel is deur Duitse troepe.

Nolan is die Stanley Kubrick van die moderne era – 'n visioenêre regisseur wat die rolprentmedium tot die maksimum effek gebruik om ? storie te vertel.

Vir hom gaan dit hier nie net oor die aanvalle deur die Duitsers op die soldate wat meestal nog melkbaardseuns was nie.

Dit gaan om oorlewing, maar ook om kameraadskap en die dikwels desperate manier waarop manne aan die lewe vasgeklou het. As jy al ooit ? rolprent gesien het wat 'n viering van die krag van die kosbaarheid van die lewe is, is dit hierdie een.

Nolan gebruik sy kameras en Hans Zimmer se geweerskoot-musiek, asook verbysterende goeie klankeffekte om jou midde-in die reddingspoging te dompel.

Die spelers se oë vertel die storie. Die meeste karakters het feitlik geen dialoog nie. Dit is net die manier waarop hulle na mekaar kyk, die reddeloosheid in hul oë, die vrees vir die onbekende en die stiltes voor die oordonderende klank van bomme wat hier uitgelig word.

Nolan span die kamera as verteller tot die uiterste toe in. Ons word in die plek van die soldate geplaas. Dit gaan ook vir die kyker om oorlewing wanneer ons saam met die manne in kloustrofobiese ruimtes opgesluit is met water wat deursypel, of wanneer die fliekganger op ’n boot vasgevang is wat deur bomme getref word, of wat saam met 'n dapper vlieënier ('n manjifieke Tom Hardy) deur die lug sweef en die vyand keer om nog verdere verwoesting te saai.

Maar dit is ook 'n rolprent van patrone – van honderdduisende soldate wat in gelid soos domino-steentjies op die strand staan en wag om gered te word. Die skote vanuit die lug – met die kamera wat oor soldate wat almal dieselfde aangetrek is swiep – is seker van die onvergeetlikste visuele beelde van die jaar. Hier sien jy hoe soldate soos skape staan en wag om doodgeskiet of gered te word. En hoe elke mosdop ? menselewe verteenwoordig.

Die manier waarop vissersbote die soldate help oppik het en die dapperheid van offisiere, soos dié een gespeel deur die briljante Kenneth Branagh wat feitlik net gesigspel lewer en min sê, maak 'n veel kragtiger impak as bladsye se dialoog.

Nolan het in 'n onderhoud gesê die idee is gebore toe hy en sy vrou van Duinkerken af op 'n boot gevaar en in die woeste see beland het. Terwyl die boot waarin hy was deur die see rondgeskommel is, het hy onthou van een van die Tweede Wêreld­oorlog­­stories wat nog nooit behoorlik vertel is nie: die reddingspogings by Duinkerken.

Die chaotiese geskud van die boot was vir hom 'n skrikwekkende ervaring, en dit is wat in die kamerawerk vasgevang word. 'n Mens word soos ’n sardientjie wat in 'n blik in die rondte getol word.

Die spesiale effekte kaap nie die rolprent nie, nog minder is daar heldhaftige spiertiere wat die Geallieerdes kom red.

Onbekende akteurs speel doodgewone manne wat in buitengewone omstandighede beland en probeer om heelhuids by die huis aan te kom. ’n Bottel bier wat deur 'n treinvenster aangegee word, het lank laas so 'n kragtige visuele impak gehad soos in hierdie rolprent.

Nolan bewys homself as die meester van al die gereedskap wat die rolprentmedium aanwend om sy storie te vertel. Van ritmiese redigering tot die skokklanke van bomme, tot die kamera wat deur die lug tuimel of in die water beland, benut Nolan die krag van die medium tot die alleruiterste.

Moenie ’n skiet-skop-en-doodbloei-fliek of selfs Hacksaw Ridge verwag nie. Die verhaal van doodgewone soldate wat op ’n ongelooflike manier gered is, word met die krag van 'n ontploffende bom vertel.

Nuwe flieks

VAN DER MERWE *
Net toe ’n mens dink die Afrikaanse fliek het ? ongekende laagtepunt met Kampterrein bereik, kom dié platvloerse en belaglike komedie wat by tye onuitstaanbaar neerhalend word.
Rob van Vuuren is dalk ? puik regisseur en teaterpersoonlikheid, maar as rolprentakteur oorspeel hy verby selfs die grense van die verhoog. Hy maak van ? geliefde karakter ? stereotipe. Die storie is banaal oorvereenvoudig en onoortuigend. 


VICEROY’S HOUSE ****
Kunsfoendi’s kan aanklank vind by dié ware en aangrypende drama oor die oordrag van mag van Brittanje aan Indië, onder lord Mountbatten se toesig. 
Maar dan skeur die land in twee en die Pakistani’s raak onrustig en selfs gewelddadig. Gesofistikeerde en intelligente regie en ? respek vir die karakters en politieke magspeletjies agter die skerms maak hiervan ? Cinema Nouveau-gunsteling.
Veral Gillian Anderson verras as die mag agter die Mountbatten-troon. As jy van Churchill gehou het, sal jy dol wees hierop. 

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Dunkirk  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.