Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Koue kos was lank laas so warm . . .

Dis koue kos, skat met Anna-Mart van der Merwe en Deon Lotz.
Regisseur: Etienne Fourie

Hierdie warm rolprent oor yskoue wraak wil ooglopend graag hê jy moet daarvan hou. En hoe dan anders? Dit is op 'n roman deur Marita van der Vyver gegrond en het al die regte bestanddele – amper soos ’n beproefde resep wat presies weet hoeveel room om by te klits. Veral vroue sal die gekruide dialoog, die grappe ten koste van mans en die wraak wat op plesiertiere geneem word soos mengeldrankies opsuig.

Die rolprent is Bad Moms wat in koeksisterstroop gedoop is met mampoer by om woema in die geur te sit. Lesers wat net wil tjil en giggel, sal hierdie warmbrak-mammie se vergelding waardeer en luidkeels aanmoedig.

Dit gaan oor ’n werkende ma met batterysuur in haar are wat haar ontroue man betrap en dan Kaap toe trek om van voor af te begin. Maar hoe ontsluit jy ’n nuwe lewe op 40? Is taai skarniere nog soepel genoeg om deur die liefde geolie te word?

Soms wil die rolprent te oordrewe raak in ’n verhoogstyl, en dit probeer plek-plek te hard om sy gehoor te bevredig. Jy sien soms hoe hierdie brakkie se tong uithang dat jy asseblief van haar moet hou. Maar dit is resensent-krapperigheid waarmee die voorgenome gehoor hoegenaamd nie sal saamstem nie.

Dit is verkwiklik om Anna-Mart van der Merwe (as Clara Brand) weer te sien, dié slag met ’n lekker skootjie vierletterwoorde. Net sy kan “bliksem” soos Shake-speare laat klink.

'n Vrou wat gewond is, is wreder as ’n onverwagse spoedlokval, en nes in It’s Complicated verlustig fliekgangers hulle in dilemmas van mislukte huwelike wat hulle dalk herken.

As ’n komedie wat Afrikaanse rolprente se horisonne verbreed soos lakens wat wulps oopgegooi word, werk dit vir die roman se aanhangers.

Elzabé Zietsman steel die fliek onder die meeste spelers uit. Haar Minette herinner aan 'n heks uit Macbeth, net sonder die slegte asem. Elke slag wanneer sy verskyn, verlustig 'n mens jou in die vernuftige wyse waarop sy komedie kafdraf. Elke plooi op haar karakter se gesig verklap ’n mislukte katelknapie. Dieselfde geld Deon Lotz wat Bernard in fyn, sexy gesigspel uitbeeld. Dié man weet van komedie speel!

Deànré Reiners as sy seun raak beter met elke rol, en hy gee ’n goeie klipgesig-balans aan die soms oordrewe gesigsuitdrukkings van enkele ander akteurs.

Jammer sy karakter, Nicolas, kon nie ’n meer prominente rol gespeel het nie, want kinders, wat nie die luukse van koddige woordspelings het wat uit ’n rekenaar vloei nie, ly die meeste en die fliek wys dit nie altyd nie.

As ’n mens jou resensentehoed egter opsit, en dit is tog die doel van ’n resensie wat nie net reklame wil wees nie, geld die kritiek dat sommige tonele te lank talm soos ’n kuiergas wat een loopdop te veel drink. ’n Voorbeeld is waar Clara Brand (’n toepaslike van!) en Ari, die wulpse kombuisbeer (Frank Opperman), vrolik in die kombuis koekeloer-kuier. Snaaks is snaaks en jy giggel hard en lelik, maar dit duur te lank.

Soms wil die rolprent ook na ? roman met prentjies lyk. Natuurlik moet Clara van ’n verteltegniek gebruik maak, want die skerpste waarnemings lê hier binne-in haar agter die frons – dele wat net so uit die roman geneem is en wat nie op die oog af in dialoog weergegee kan word nie, tensy jy ’n vernuftige draaiboek het! Maar baie van die tonele het nie altyd daardie vertellings nodig gehad nie. Die dramatisering is snaaks genoeg.

Maar tog, soos met Bad Moms moet vroue ook die kans kry om hulle sê te sê. 'n Mens lag hardop vir 'n klugtigheid wat strate beter is as die klugspel in Willie Esterhuizen-komedies wat slapstick bloot gebruik het wanneer die draaiboek suf geraak het, maar ook om te skok. In Koue kos se geval is woordspelings en slapstick nie moedswillig of kru nie, maar gesofistikeerd slim met volwasse subteks.

Koue kos was lank laas so warm. As jy moeg is vir kommin Afrikaanse komedies oor banale seks, sal hierdie een jou plesierspiere op die regte plekke kielie.

Jy sal lê soos jy lag.

Nuwe flieks

Star Trek: Beyond ***

Vir ’n Trekkie-heiden sal hierdie rolprent net nog ’n onwaarskynlike en uitgerekte besoek aan die ruimte wees met kreature leliker as jou skoonfamilie.

Maar vir deurwinterde Trekkies sal dit ’n opwindende ruimte-avontuur wees waar ’n ruimteskip, nes in Alien, in ’n lokval gelei word deur ’n noodroep. Die rolprent respekteer sy volgelinge en die spesiale effekte slaan jou asem weg. Maar die rit tot by die einde rafel later uit. Tog word dit vir Trekkies aanbeveel, want daar word ook hulde aan die TV-reeks en sy akteurs gebring.

The Shallows ***

Dat 'n skrapse bikini nou soveel haaiaanvalle kan oorleef! Blake Lively (wat 'n lyfie!) word deur ’n mensvreterhaai op 'n rots vasgekeer. Sy is alleen en probeer, sonder die luukse van Jaws se musiek, ’n eetmasjien uitoorlê.

Die rolprent is verrassend boeiend en senutergend. Hierdie een kan maar sy slagtande in jou beursie inslaan. Aanbeveel!

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Star Trek Beyond  |  Skat  |  Silwerskerm  |  Resensies  |  Dis Koue Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.