Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: ’n Gruwelike skoonheid

’n Pawpaw vir my darling

Met Deon Lotz en Lida Botha

Regisseur: Koos Roets

Jy ontdek hierdie verworpe siele soos stukkies kougom wat in 'n woonbuurt uitgespoeg is. Sommige lê tussen die jakobregops, ander is teen die deurkosyn vasgeplak en nog ander lê onder draadtafels. Maar dan is daar die gommetjies wat onder jou skoen vassit en lang drade trek as jy dit afhaal. Dit is op dié karakters wat hierdie rolprent fokus.

Damnville se mense (oorspronklik uit Jeanne Goosen se pen), veral die Beeslaers, is die townshipblomme van ? agtergeblewe gemeenskap. Die wind waai hulle teen doringdrade vas en daar klou hulle, elkeen met ? ander klank wanneer die wind daardeur fluit.

Die Beeslaers se lewe word omvergewerp wanneer Soufie, ? pragtige Deirdré Wolhuter, besef sy het kanker. Dit verenig die mense. Haar medemens se mededoë is vertroostend, maar dit keer hierdie melancholiese peloton nie om die tong in te lê as daar ? skinderstorie is nie.

En dis waarop Koos Roets fokus. Hy misbruik nie spottenderwyse die onverfyndheid van die mense nie, maar respekteer hul alledaagse menswees. Hulle wil weer trek en Gróót Trek, maar al waarheen hulle nou kan trek, is na die naaste Superette, want die veranderde Suid-Afrika het hulle verwerp.

Tog probeer hulle hul waardigheid behou en sin maak uit hul sloerbestaan agter mure met wawiele in.

Hulle wil van gewéét wees.

Dit gebeur veral as ? oumatjie tussen ? klomp prostitute in ? tronk beland. Die filmiese waarneming van hierdie onthutsende stukkie komedie is weergaloos.

Roets nooi jou om dieper te kyk wanneer hy oor die treinspoor dwaal na die verkeerde kant van die dorp, maar nooit om op die karakters neer te sien nie. Hulle is net mense en dit is wat vir hom belangrik is. Hy ontbloot elkeen in sy of haar eie gruwelike skoonheid, wys hoe hulle ­cope en neem saam deel aan die parade van die tantes wanneer dit betaaldag is.

Maar hierdie lastige siele kriewel soos rooimiere aan jou gedagtes – en waar hulle byt, is dit seer.

Hoewel ? mens voel dat sommige spelers nog te mooi praat – dus te veel akteur is en nie altyd volkome karakter word nie (jy is net te bewus dat hulle mooi artikuleer en klanke vorm) – is daar akteurs wat net diep genoeg onder die vel van die flenterkarakters inkruip. Brümilda van Rensburg met ? kapsel wat lyk of sy ? vulkaanspuwende Majuba op haar kop dra, Deon Lotz wat net soveel hare op sy skouers het as sy brak Tsjaka, en Lida Botha as Sally Caravan met lippe wat jy vir ? waterpas kan gebruik, se straatklanke kom lekker diep agter uit die keel. In húl manier van praat hóór jy die straat.

So sien en hoor jy ook die karakters se agtergrond in Jana Nortier se wilde wikkelstappie en Kaz McFadden se nonchalante Brylcreem-maniere, terwyl Wolhuter se pogings om moedig te bly skrynend eerlik is. Wat ? span!

Foute is daar wel. Ons wil meer van die ander uitgespoegde stukkies kougom sien. Die res van die straat, daardie stom gesigte wat argeloos verbyslenter, ? uittand-glimlag gee en voortwaggel na die Lotto-toonbank, kom te min voor. En die hond Tsjaka wat kommentaar lewer op die windverwaaide doen en late van sy eienaars maak nie altyd hond haaraf nie. Dalk, as daar meer interaksie tussen die brak(ke) en die mense was, sou hierdie wisselwerking geslaag het. Maar telkens, wanneer die brak kommentaar lewer op wat hy sien, kort sy gevleuelde woorde die vlerke van ? groter ironie.

Maar genoeg gekef oor besware. Is dit die moeite werd om R60 op hierdie mense uit te gee? Já. Want hierdie kronieke van ? groep Jobstroosters neem fliekgangers na plekke waar die rolprente Siener in die suburbs en Michael Raeburn se Triomf kykers nie altyd geneem het nie. Net Roepman het dit reggekry. Roets dwing jou om die plastieksakke van die draad te bevry en die vergeelde letters op die flenterplastiek aandagtig te lees.

Jy kan dalk gebelgd uitstorm en ? kwaai brief skryf, of jy sal die Chappie onder jou skoen deeglik beskou en sug: “There, but for the grace of God. . .

Nuwe flieks

Secret in Their Eyes **** 

In dié rateltaaie speurdrama speel bekende akteurs ander rolle as gewoonlik en gee gesaghebbend gewig aan ? wrede storie.

Nicole Kidman, Julia Roberts en Chiwetel Ejiofor speel drie ondersoekbeamptes wat ? moord moet oplos. Die Julia Roberts-karakter se dogter is vermoor. Hul diepgaande ondersoek, wat om wraak wentel, maak hiervan ? meesleurende drama waarvan die einde jou verstom sal laat.

99 Homes **** 

Dié sielkundige drama gaan oor ? man (Michael Shannon is uitstekend) wat mense uit hul huise moet sit sodat die banke dit kan terugvat.

Wanneer hy die gesinsman Andrew Garfield wil uitskop, besef die outjie hy moet saamspeel om te oorleef. Die kliphardheid van mense wat bloot hul werk moet doen en die tragiek van die slagoffers word knap teen mekaar afgespeel.

Dit is 'n kunsfliek wat jou dadelik jou agterstallige huispaaiemente sal laat betaal. Moeilik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.