Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: ’n Mens mis vir Ripley, glo dit of nie

Alien: Covenant. Met Michael Fassbender en Katherine Waterston. Regisseur: Ridley Scott ***

Daardie staaltentakels, druppend van suur, en ’n kat se verskrikte oë waar niemand jou kan hoor skree nie, is een van die rolprentbedryf se mees ikoniese oomblikke in die eerste Alien.

Talle rolprente, insluitend ­Alien: Covenant, het sy suurdruppende sjarme al probeer naboots, maar verniet. As iemand een keer “boe!” van agter dieselfde pilaar geskreeu het, skrik jy nie ’n tweede keer vir ’n koue pampoen nie. Dit is die probleem met hierdie vyfde hoofstuk in die reeks. Dis ’n voorganger van Alien en ’n opvolger van Prometheus, maar lyk na ’n nabootser op soek na ’n identiteit.

Scott het die eerste keer probeer verduidelik wat die “Space Jockey” was en hoe die ruimtetuig met die hoepelarms op die agterbakse planeet beland het. Maar hy het te veel verduidelik en te min gegee, wat baie bewonderaars teleurgestel het.

Nou maak Scott weer dieselfde fout. Hy maak eintlik twee rolprente in een. Die eerste stuk filosofie gaan oor die skepping. Hoekom is die mens op die aarde? En kan robotte ook gesien word as wesens wat deur ’n superkrag ontwerp en vervolmaak is? Wat gebeur as so ’n robot self wil skepper speel? Die eerste uur handel hieroor. Ook oor ruimtereisigers wat op die planeet land en dit verken.

Die boodskap is duidelik: Moenie horisonne verken waar jy, onvolmaakte wese, nie hoort nie. Dit neem die ruimtevaarders ongelukkig te lank om dit te besef.

Alien-verslaafdes, wat nie genoeg van hierdie gruwelmonster kan kry nie, sit gretig en wag dat die monsters hul slagoffers moet verskeur. Die eerste aanval gebeur eers ná ongeveer 45 minute. Daar word te veel tyd gemors in hierdie uitgerekte gedeelte waar Scott dit nie kan regkry om karakters te skep vir wie jy omgee nie. ’n Mens mis vir Ripley. (Sy was natuurlik toe nog nie eens gebore nie.) Maar die vroue wat haar karakter probeer naboots, sexy onderklere en al, misluk jammerlik.

Die “held” van hierdie hoofstuk is eintlik die robot David/Walter. Michael Fassbender speel hom goed, en hy kry die meeste aandag en simpatie. Jy het geen gevoel vir die mense wat jy moet bejammer wanneer die monster hulle bevrug en uit hulle bars nie. Die robot word nou die onwaarskynlike en slimste held wat betower raak deur volmaaktheid, en raak ’n ankerfiguur. Die mense verdwyn in die newels.

In hierdie opsig is Kong: Skull Island beter. Hoewel die regisseur eintlik karakter-snelskrif gebruik het in ekonomiese, kompakte tonele om mense te skep van wie jy hou, kry Scott dit nie hier reg nie. Die aanloop tot die jagtogte is so omslagtig soos daardie lang storie wat jou oupagrootjie uit die oorlog gaan haal het en waarna jy geduldig moet luister. Dit raak so uitgerek soos ’n sepie.

Tog is die kinematografie en spesiale effekte uitsonderlik en Oscar-waardig. Die reuse-paleise waarin slagoffers gesterf het, en die standbeelde wat opgerig is in gange wat soos staalderms lyk, is asemrowend. Die rolprent is visueel dus oorweldigend, maar dit bly beelde. Dit kry nie lewe soos die ruimteskip of planeet in die eerste twee Aliens nie.

Wat egter wel prikkelend van hierdie hoofstuk is, is dat die ­aliens interessanter en meer “welgeskape” as die mense is. Dalk is hulle aanlokliker as die vervelige aardlinge, en jy verstaan die aantrekkingskrag tussen die robot en die monsters. Sonder om te veel te verklap, is dit daardie ooreenkomste, en die skepping van ’n nuwe, volmaakte gevegsmag, wat ’n mens enduit laat bly sit.

In ’n radio-onderhoud het Scott laat blyk dat daar nog vervolge op pad is. Dan begin dit soos ’n kitskosrestaurant te raak. Aan die begin is die byt in die rissie lekker. Maar met die sesde byt verloor jy aptyt.

As jy ’n Alien-verslaafde is, gaan maak weer kennis met die volmaakste monster in rolprentgeskiedenis. Jy sal net groter respek vir hierdie supervreters kry.

Dalk handel die volgende rolprent net oor hulle en hoe hulle saamspan om die Nostromo nader te lok vir die eerste Alien.

Ná hoofstuk 5 se viering van die aliens se bedrewenheid, is ons nou aan die vyand se kant.

Nuwe flieks

The Founder ***

Die waarheid is vreemder as fiksie, en in hierdie verklaring van hoe ’n slu verkoopsman, Ray Kroc, (’n knap Michael ­Keaton) uiteindelik al die eer en geld gekry het vir die bevordering en uitbouing van die hamburger-sakeryk McDonald’s, is verstommend. Met bravade en ’n vuurwarm vermetelheid maar ’n slinkse sakebrein het Kroc die twee McDonald-broers ingeloop, en die regisseur John Lee Hancock vertel die ware storie met wrede humor, ’n geniepsige genot en volle oortuiging. Jy sal nie glo wat jy sien nie! Lekker met of sonder slaptjips.

Diary of a Wimpy Kid: The Long Haul **

’n Nuwe rolverdeling omdat die vorige akteurs te oud geword het of nie wou terugkom vir die vervolg nie, en ’n storie lawwer as ’n vrot vlapastei kniehalter hierdie derde fliek in die reeks oor ’n bleeksiel wat dagboek hou van sy mal lewe. As ’n varkie meer storie het as die menslike karakters, is jou fliek in die pekel. Dis oordrewe en so slapstick jy wil jou kop in jou springmielies verberg.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.