Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Ouers sal eerder getref en trap word
 

Cars 3***

Met die stemme van Owen Wil­son, Armie Hammer en Cristela Alonzo. Regisseur: Brian Fee.

Hierdie derde hoofstuk in die Cars-reeks sal Pa en Ma miskien meer opgewonde maak as die kleinspan, want dit is onbeskaamd nostalgies oor die krag van jonk wees en nog meer gerig op motorliefhebbers as sy twee voorgangers.

Die oorspronklike Cars, waarin Paul Newman, wat intussen oorlede is, Doc Hudson so inspirerend gespeel het, was ’n onverwagse treffer vir Disney en Pixar, want dit het daar ook gegaan om aksie en jaagtogte doller as enigiets wat die Fast and Furious-reeks ooit kon optower omdat daar meer hart en humor in was. Maar die opvolg, Cars 2, was ’n blote nabootsing van jaagtogte, brullende enjins en blitsige vuurwaens wat Ben Hur se vuurwa­resies in die skadu gestel het.

Die derde hoofstuk volg ’n ander roete, wat dit miskien buite die bereik van kinders plaas, maar meer in die kraal van volwassenes. Hier gaan dit om die blitsige rooi Lightning McQueen, wat met Owen Wilson se stem praat, en besef dat sy tyd verby is. Vurige blitse van motors is besig om sy kroon te steel. “ ’n Mens moet weet wanneer om te gaan,” sug hy wanneer die verwaande swart weerligstraal, Jackson Storm (met die stem van ­Armie Hammer), hom klop.

Dié animasierolprent raak dan nostalgies. Dit besin oor hoe ’n mens (of in dié geval ’n motor!) nie waardeer wat hy gehad het totdat hy dit verloor nie. Hy verlang terug na die dae toe hy ’n held was. Nou steek die jonges hom verby. Maar hy weet dat hy nog ’n wenner iewers onder sy enjinkap het wat brul om weer eerste oor die wenstreep te jaag. Maar sal die noodlot hom een laaste segetog toelaat?

Wat die rolprent bokant sy ­opvolg-voorganger laat uitstaan (maar nie dieselfde standaard as die oorspronklike Cars laat bereik nie) is die feit dat Lightning McQueen besin oor wat dit is om te wen, maar ook wanneer hy moet aanvaar dat sy tyd verby is. Maar dan maak hy vriende met nog ’n vurige blits, ’n “afrigter”, Cruz Ramirez, indrukwekkend gespeel deur Cristela Alonzo, wat weer die vuur in sy uitlaatpyp sit. Dit is hierdie verhouding wat die dryfkrag agter die derde rolprent is.

Hierdie lewegewende vriendskap motiveer McQueen opnuut en gee aanleiding tot ’n baie intenser slotjaagtog, wat ’n mens nie hier wil verklap nie, as in ­enige van sy voorgangers.

Wat die rolprent nog interessanter maak, is die rit deur Amerika se geliefde Route 66, waar die Amerikaanse landskap en kultuur op subtiele wyse gewys en gevier word. Visueel is die rolprent pragtig. Die woestyntonele met reusagtige rotse wat waghou oor die motors wat deur die landskap gly, is asemrowend. Net hierdie tonele alleen is, veral vir volwassenes, die prys van ’n toegangskaartjie werd.

Dan vergaap ’n mens jou ook aan die manier waarop die animeerders motors menslike eienskappe gee. Hulle dans, doen opwarmingsoefeninge en wikkel hul wiele soos wafferse spiertiere in ’n gimnasium. Daar is nie ’n mens in sig nie – dis net motors wat soos mense optree. Die gevoelvolle oë is die kyker se enigste toegang tot die emosies van die vuurwaens, en hierin blink die animeerders uit, want dit stel hoë eise aan animasietalente.

Ongelukkig is daar tonele waar die rolprent amper tot stilstand kom, veral wanneer daar gefilosofeer word oor die leeftyd van vuurwaens en renjaer-blitse, en hoe triomf en om te wen in die meeste gevalle belangriker word as enigiets anders.

Daar is enkele jaagtogte, onder meer waar ’n klomp veteraan­motors raad gee en renmotors ’n modderbad beleef, wat vir kinders opwindend kan wees. En natuurlik staan die slotjaagtog uit as doller as kopaf en ’n wilde resies wat pikkies wakker sal hou.

Maar daar is van die ander ­tonele waarby hulle dalk nie ­aanklank sal vind nie en hulle selfs ’n bietjie sal verveel – vandaar ’n driester-gradering en nie vier nie.

Cars 3 kan jou nostalgies maak en die renjaer in jou tevrede stel. Dit is ’n ander soort animasierolprent as waaraan jy dalk gewoond is. Dit is egter meer op volwassenes ingestel as op kinders.

Nuwe flieks

This Beautiful Fantastic ***

Jessica Brown Findlay is nommerpas as ’n bleeksiel-boekwurm wat die tuin van ’n huis wat sy huur, moet opknap.

Haar knorrige buurman, gespeel deur die altyd indrukwekkende Tom Wilkinson, versuur haar lewe.

Die storie is eintlik ’n sprokie van ’n verloorder wat ’n wenner word en belig die wyse waarop die uitroei van onkruid simbolies raak van die suiwering van haar eie gedagtes en siel.

’n Verrassende, inspirerende en sielvolle rolprent vir mense wat van kunsflieks hou.

Free Fire *

Dit is ondenkbaar wat ’n ateljee laat besluit het om geld vir so ’n rolprent voor te skiet, laat staan nog talente soos Brie ­Larson te oorreed om daaraan deel te neem. ’n Wapentransaksie loop skeef. Die hele rolprent speel net op een plek af, ’n

pakhuis, en die skietgeveg wat plaasvind hou nimmereindigend aan.

Dit is Reservoir Dogs-Lite en is ’n pynlike ervarings. Eentonig en sieldodend vervelig.

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.