Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Plaaslike storie oor roei-paar inspireer

 

Beyond the River met Grant Swanby en Lemogang Tsipa. Regisseur: Craig Freimond****

Ware verhale maak nie altyd interessante rolprente nie. Dikwels moet aan die waarheid gepeuter word om kommersiële redes, en die karakters se agtergronde is bietjie verander om ’n beter rolprentstorie te maak. Tog is daar in hierdie rolprent nie aan die boodskap gepeuter nie. Feit is: ’n Onwaarskynlike vriendskap kan werk, en gee vir mense opnuut hoop.

Beyond the River gaan nie noodwendig net oor wát gebeur het nie, maar hoe twee mans, uit verskillende agtergronde en ten spyte van verskille, vriende word.

Hul bondgenootskap inspireer ’n knap rolprent sonder om gedwonge polities korrek te wees, of ’n bieradvertensie te word waar almal hand om die lyf ’n heildronk instel waarvan jy nie ’n woord glo nie.

Steve, losweg gegrond op Piers Cruickshanks en skitterend gespeel deur Grant Swanby, ontmoet ’n man wat kabels steel, die briljante Lemogang Tsipa as Si­seko Ntandini of “Duma”. In die ware lewe was Siseko nie ’n dief nie. Dit is aangedik. Steve gaan ook nie deur ’n egskeiding nie.

Steve oorreed Duma dan om saam met hom te oefen en deel te neem aan die Dusi-kanomarathon. Daardie deel is waar. En dis hierdie bondgenootskap wat die rolprent se sterkpunt is.

As iemand die roeiery as gerieflike metafoor uitgedink het, sou ’n mens die skrywer geloof het vir sy verbeelding om vir ons verskeurde land darem bietjie hoop gee. Maar die Dusi-kanomarathon-deel is waar. Die vreugde is om te sien hoe mense, van watter kleur ook al, dit regkry om vriende te word ten spyte van kulturele verskille. Die rolprent demonstreer dit sonder om ’n neerbuigende vuis in die lug te bal.

Die akteurs lewer nie net op fisieke vlak nie, maar ook op emosionele vlak spel wat oortuig. Swanby se behoedsaamheid en Tsipa se ontginning van ’n vreemde kultuur is prysenswaardig.

Sosiale en politieke druk kan nie die twee hoofkarakters se bondgenootskap kelder nie. Twee ander roeiers bespot Steve omdat hy “polities korrek” sou wees, terwyl Duma se “vriende” hom in die draaiboek gewelddadig probeer beïnvloed teen die wit roeier.

Maar niks kan hierdie twee manne se harte aantas nie. Hulle is onvoorwaardelik broers en dít is waarop die rolprent klem lê. Ook hoe hulle mekaar deur middel van roei vind.

Die simboliek is duidelik. Jy kan ’n wedstryd (en ’n land) net laat werk as almal saam roei sonder aansien des persoons en sonder selfsugtige, korrupte bymotiewe.

Die roeitonele is uitmuntend verfilm. Dit verander nie in ’n klaskameragtige dokumentêr oor roei nie, nog minder is daar ’n oormaat roeitonele net omdat daar moontlik genoeg materiaal geskiet is. Elke roeitoneel dra by tot die storie en wórd die storie. Wys hoe die manne mekaar op die harde manier leer ken en verstaan. Maar bowenal leer dit hulle om saam te werk. Verskille is daar wel, maar dit kan oorkom word. Daarvoor verdien die rolprent jou ondersteuning.

Craig Freimond is ’n bedrewe regisseur. Dit het hy al bewys met Gums and Noses, asook Jozi en Material. Omdat die waarheid dan “vervelig” was, beweeg sy rolprent steeds teen ’n gemaklike tempo sonder om die stiller tonele te oordryf.

Funksionele redigering, veral in die roeitonele, maak dit toeganklik. Freimond trek nie kokipenstrepe daaronder nie. Hy wys die werklikheid op ’n ongedwonge manier en verduidelik mense se optrede. Natuurlik is kabeldiefstal verkeerd, maar in die draaiboek word die ander, minder gewilde kant daarvan ontbloot wat die storie nog interessanter maak. So handhaaf die rolprent ’n balans.

Melding moet ook gemaak word van Emily Child as Steve se “vervreemde vrou”. Met slegs enkele tonele en volkome beheer oor haar tegniek, verstaan ons haar volkome. Sy ondersteun Swanby met haar deurleefde spel.

’n Mens hoop dat almal nou genoeg gehad het van die brul-orgasmes van The Fate of the Furious. Gee die skitterende Beyond the River ’n kans. Gaan kyk hoe ’n inspirerende plaaslike storie op ’n sober dog boeiende manier vertel kan word sodat jy die land, sy mense en die storie herken en glo. En jy word sommer op die koop toe op ’n natuurlike manier vermaak.

Ons het meer sulke stories nodig.

Nuwe flieks

Sleepless ***

Nog nie genoeg opwinding gehad hierdie week nie? Dan kom dié aksiedrama as ? soort stiefboetie van The Fate of the Furious. ? Korrupte polisieman (Jamie Foxx) se seun word ontvoer omdat die speurder dwelms van ? sindikaat gesteel het. Woeste aksiejaagtogte, glansryke tonele in dobbelsale en oordramatiese spel wat die storie nog verder aandik, verander dit in kunsmatige, glansryke springmielies vir die brein. Net as jy van aksiedramas vol toevallighede en gedwongenheid hou. Michelle Monaghan se talent word vermors.

The Shack *

Die blitsverkoperroman oor ? man wie se dogtertjie ontvoer word, en wat dan God, die Heilige Gees en Jesus ontmoet wat aan hom verduidelik hoe hy hierdie tragedie moet verwerk, is so prekerig en so stroopsoet opgedis dat dit moeilik oortuig. Tog – lesers wat die roman gelees het en daardie storie inspirerend vind, hou dalk hiervan. Die spel, veral van Octavia Spencer as “Pappa”, is oordramaties, en alles is net te goed om waar te wees. 

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Sleepless  |  Beyond The River  |  The Shack  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.