Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Soos om vermaak uit ’n klip te trek

King Arthur: Legend of the Sword met Charlie Hunnam, Jude Law en Àstrid Bergès-Frisbey. Regisseur: Guy Ritchie

In hierdie treinramp van ’n rolprent is ’n mens van twee dinge seker: dat al die manne aussieBum-onderbroeke dra, en elkeen sy hare daardie oggend ná gim presies in die regte posisie gejel het.

Met die legende van koning ­Arthur en sy ridders om die ronde tafel het dit min te make. As jy dus gaan kyk in die hoop dat jy ’n prentjiemooi Brittanje gaan sien waar Guinevere tussen die grasvelde na ’n glimlaggende koning Arthur nader huppel, terwyl Lancelot hulle dophou, gaan jy teleurgesteld wees.

Dit is Game of Thrones Lite, wat lyk soos ’n videospeletjie wat in die styl van ’n musiekvideo geredigeer is. Met die superkoel Guy Ritchie in beheer, kom dit oor as ’n Middeleeuse Snatch.

Die tempo is so vinnig, jy sal die trein verpas as jy op jou horlosie kyk. Geen skoot is langer as ses sekondes nie.

Die redigering laat geen karakter toe om diepte te kry nie, terwyl daar net soveel onnodige monsters is as in The Great Wall. Reuseslange, tower-arende en olifante groter as die parlement oorheers ’n rolprent waar jy ’n afstandbeheerder ­nodig het om die videospeletjie te voltooi.

Verder is dit tegnies oor-geregisseer. Dit is asof Ritchie bloed uit elke oomblik wou tap wat so dramaties is, jy koes vir die oormaat. Oordrewe spel soos Jude Law wat seker volgende jaar ’n Razzie gaan kry vir die swakste vertolking van die jaar as Vortigern, is lagwekkend. Massatonele wat duidelik op ’n rekenaar geskep is, verhoog die rolprent se kunsmatige voorkoms verder.

Dié slag gaan haal vyf skrywers die storie by Arthur se geboorte, en bied dit as ’n voorganger tot die Camelot-legende aan.

Aan die begin word Arthur se ouers wreedaardig vermoor.

Met kortaf tonele waar elke skoot uit ’n ander hoek verfilm is, en ’n kamera wat soms vier keer van posisie verander gedurende een spraakbeurt, volg ons Arthur se opgang totdat hy die swaard Excalibur uit ’n rots trek.

Dié sekwensie is uitspattig geregisseer asof Ritchie ’n advertensie vir ’n duimspelende hoërskoolkind maak. Jy kry nie kans om die grootsheid van die oomblik in te neem nie.

Die rolprent is selfverheerlikend verlief op homself en bewus van sy byderwetse kamerawerk. Dit word vertel in ’n chaotiese styl waar die fliekganger vroeg-vroeg belangstelling verloor tussen al die grieselgeeste en ontwerpervegters. Maar wanneer David Beckham, hare netjies teruggejel, sy verskyning as ’n vegtende ekstra maak, wonder jy of jy in ’n pretpark beland het met die wie’s wie van Engeland waar almal mekaar mate noem.

En dan is daar Charlie Hunnam, wat gespog het met hoeveel kilogram hy aangesit het vir die rol. Ook die feit dat hy meer as 1 000 opstote per dag gedoen het om ekstra spiere te bou. Die enigste kans wat die spiertier kry om met sy lyf te spog, word so vinnig geredigeer dat jy skaars die geveg kan volg, laat staan nog vir Hunnam behoorlik kan sien.

Sy vertolking is meganies en sonder enige karakterontwikkeling of diepte – moontlik as gevolg van gebrekkige spelregie. Die effekte, redigering en skouspel is belangriker as die mense.

Die grootste probleem is dus die rolprent se moderne, koel styl spesiaal vir ’n jonger geslag ontwerp, maar ook vir Ritchie-bewonderaars wat hom sal onthou vir sy uitstekende Lock, Stock and Two Smoking Barrels. Ongelukkig wil die koning Arthur-legende nie in hierdie moderne klere pas waarin elke vegter se baard netjies gesnoei is en sy kostuum lyk asof dit pas van die droogskoonmaker teruggekom het nie.

Daar is al talle weergawes van dié legende gemaak. Een van die bestes is John Boorman se Excalibur. Die storie het ook al gestalte gekry in sentimentele musiekspele soos Camelot, waar die soetsappigheid oordoen is, maar waar die glorie van die legende tog suksesvol uitgebeeld is.

Ná rampe soos Swept Away en teleurstellings soos The Man from U.N.C.L.E. skaad hierdie rolprent Ritchie se reputasie nog verder. ’n Mens wonder wat Madonna hiervan sou sê? Sy is die enigste glanspersoonlikheid wat nie daarin voorkom nie.

Nuwe flieks

The Warrior’s Gate *

Melkbaardjies wat hulle voordoen as macho vegters wat swaarde heelhuids sal insluk, is hier hopeloos te lig in die broek.

Vergeet van Arthur! 'n Ontwerper-laaitie wat lyk asof hy pas van die loopplank af in die verkeerde fliek verdwaal het, is dol op videospeletjies. Dan raak die speletjie 'n werklikheid wanneer 'n kung fu-meester hom oplei om ? demoon te oorwin. Net aanbeveel as jou duime beter ontwikkel is as jou brein.

20th Century Women ****

’n Ma (die uitmuntende An­nette Benning) besef dat dit nie net maanskyn en rose is om as enkelma haar seun groot te maak nie.

Saam met ’n groep van die eksentriekste en bekkigste vriendinne buite ’n pantomime probeer sy die goue middeweg vind.

Vroue sal dol wees op hierdie dapper stukkie waarheid. Dit is ’n skande dat hierdie fliek by die Oscars geïgnoreer is. Met 'n verrassende Greta Gerwig.

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.