Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Uitspattige feëverhaal doepa vir nuwe krag

Beauty and the Beast **** met Emma Watson en Dan ­Stevens. Regisseur: Bill Condon

Die enigste manier om aan die nasionale depressie wat in die land heers te ontkom, is om na hierdie uitbundige en luidrugtige musiekspel te gaan kyk wat jou sal wegruk uit die nare werklikheid en sal laat glo dat mense tog gelukkig kan saamwoon, met geld kan werk en uit die droefste omstandighede inspirasie kan put.

Beauty and the Beast is gegrond op ’n feëverhaal wat in 1740 as La belle et la bête ontstaan het, en wat gehandel het oor ’n verwaande prins (hier gespeel deur Dan Stevens) wat vervloek word oor sy selfsugtige optrede. Hy en sy personeel word dan gevange gehou in ’n kasteel waar hy verander word in ’n ondier met meer hare as ’n Elvis-nabootser. Die enigste manier om van hierdie ballingskap te ontsnap sou wees as ’n pragtige meisie op hom verlief raak en hom liefdevol soen. Sy daag op in die vorm van Emma Watson wat in opstand kom teen hom, maar geleidelik die mens in die ondier ontdek.

Hierdie is geen roos-getinte Aspoestertjie wat passief meedoen aan die reëls van ’n feëverhaal nie. Sy is ’n feminis wat bekommerd toekyk hoe slegs die seuns in haar speelgoeddorpie die voorreg het om te leer lees en skryf. Die vroue word verban tot die kombuis of die wasbalie waar hulle daaglikse sleurwerk moet doen. Sy glo ook nie daaraan dat ’n vrou haar moet onderwerp aan manlike heerskappy nie, en sy veg vir vroueregte, wat haar in botsing bring met die konserwatiewe dorpenaars.

Sy is ook die aangewese vroutjie van die flambojante en ewe arrogante Gaston (’n uitmuntende Luke Evans), maar sy rebelleer teen hom. Haar avontuurlike reis na liefde en geluk vorm die ruggraat van hierdie uitspattige, hoogs vermaaklike musiekspel.

Dit is ook die begin van Walt Disney se nuwe inisiatief om klassieke animasieflieks in lewende aksie te omskep, maar steeds die oorspronklike verhaal te respekteer, en daarin slaag Bill Condon uitstekend.

Sowat van ’n kwistige en oorweldigende skouspel het jy lanklaas gesien. Wees verseker: al kos die 3D- en Imax-kaartjies meer, is dit die moeite werd om die glansryke produksie op die grootste moontlike skerm te sien. Net die openingstoneel, waar die selfsugtige prins ’n selfvertroetelende dans doen, en die interaksie tussen die geanimeerde karakters en die akteurs, is elke sent van jou geld werd. Soms moet ’n mens duur betaal om van slegte nuus te ontsnap, en dan wil jy waarde vir jou geld hê. Hierdie produksie bied dit in oormaat.

Die spesiale effekte, veral die eetstelle, meubels en selfs kandelare wat lewe kry, is so manjifiek deur rekenaartowenaars geskep, dat jy hoegenaamd nie kan sien waar effekte eindig en die lewende aksie begin nie. Dit is slegs in die bos, waar rekenaarwolwe koetse en reisigers bedreig, dat die effekte vals lyk. Maar die stimulerende musiek en lirieke, mobiele kamera wat saamdans en aan die aksie deelneem, en oortuigende spel, maak hiervan ’n meevoerende ervaring.

Baie tonele word gesteel deur Josh Gad as die kamp LeFou, en moedswillige negatiewe reklame wou dit hê dat hierdie gay karakter dan sou “skok” en onvanpas sou wees. Niks is verder van die waarheid nie. Die akteur steek behoorlik die draak met sy karakter en sorg vir skadelose komedie en ’n blomryke vertoning wat jou in die paadjies sal laat rondrol van die lag.

Maar dit is Emma Watson se stewige karakterisering wat opval, al is sy dalk nie die beste sanger nie, terwyl die ondier se voorkoms so realisties is dat Chewbacca van Star Wars dalk in ’n ligte identiteitskrisis sal beland wanneer hy hom gewaar.

Wat ook opval, is die kunsregie en kostuums wat heel moontlik vir Oscars benoem sal word. Dit ondersteun die storie op gesaghebbende en indrukwekkende wyse.

Nuwe liedjies is vir die rolprent geskryf, maar die oorspronklike treffers weergalm met oortuiging deur die kasteel. En Emma Thompson, wat dit waag om in Angela Lansbury se voetspore te probeer volg as Mrs. Potts die teepot, lewer vyf-rose-spel.

Vergeet van jou kwellings en skep ’n klein bietjie nuwe moed deur jou oor te gee aan hierdie bekoorlike rolprent.

Nuwe flieks

The Fate of the Furious ***

Adrenalienverslaafdes en testosteroonbulletjies sal hierdie aksiefliek sommer vyf sterre gee, veral wanneer hulle dit in 4DX of Imax sien. Sowat van ’n bombastiese klankmanipulering het jy laas in die sewende hoofstuk van hierdie reeks gesien. In die soveelste vervolg verlei ’n bose rekenaargenie (’n selfbewuste Charlize Theron) die bisepsbesmette held (Vin Diesel), en breek só die “familie” op. Maar is ’n rooi tuitbekkie en ’n wip-in-die-stap-poniestert genoeg? Die ergste is dat dié bose vrou alle motors met die druk van ’n knoppie kan reguleer, wat ’n vernietigende skouspel tot gevolg het. Oordonderend. Net vir aksievrate.

Gold **

Die ware verhaal van ’n prospekteerder (Matthew McConaughey) wat beleggers oortuig dat goud in die Indonesiese oerwoud ontdek is, is omslagtig en teleurstellend. McConaughey se oordrewe karakterisering help ook nie om ’n mens van die waarheid te oortuig nie. Dit is die stiefkind van die Paasnaweek. Wag liewer vir die DVD.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.