Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Wahlberg se laaste vol aksie gepomp

Transformers: The Last Knight met Mark Wahlberg, Josh Duhamel en Laura Haddock. Regisseur: Michael Bay***

Die grootste nuus is nie noodwendig die soveelste hoofstuk in hierdie gemeganiseerde ekstravaganza oor die oorlog tussen robotte en mense nie, maar Michael Bay en Mark Wahlberg wat aangekondig het dat hulle nou die tuig gaan neerlê. Genoeg is glo genoeg!

’n Mens kan jou nie voorstel dat die Transformers enige lood in hul staalare gaan hê sonder daardie twee flambojante bulle in beheer nie, want as daar een ding is waarin Michael Bay uitblink, is dit aksie. Hy weet wat vir sy bewonderaars werk, en hy gee telkens vir hulle selfs nog meer.

Die flambojansie en tegnologiese vaardigheid waarmee hierdie rolprente aanmekaargesit word, is verstommend, en dit is wat onbekeerdes soos ek tot die einde laat bly sit. Om te kyk hoe Bay homself met elke nuwe toneel oortref. Hy is die koning Midas van aksie (dink aan sy oppervlakkige Pearl Harbor en Armageddon) en hy gee met elke nuwe rolprent genoeg aksie-inspuitings om verslaafdes te bevredig.

Hierdie reeks kan nie eintlik as volwaardige rolprente beskryf word nie. Dit word hoofsaaklik teen groen skerms en op rekenaars gemaak en lyk eintlik soos videospeletjies op die wye doek. Die storie het darem meer om die lyf as gewoonlik, maar aksie voer steeds die botoon.

Dié slag is koning Arthur en die towenaar Merlin direk betrokke by die robot-ekstravaganza. Eeue gelede het Arthur ’n amulet gekry waarna die alien-robotte soek. En dan is daar ’n bose vrouerobot wat soos Medusa met staalkabels vir hare lyk wat die robotte op hul verlate planeet aanhits om aarde toe te kom om die staf wat Merlin het, af te neem om hul planeet te red en ons planeet in die proses te vernietig.

Intussen hardloop Mark Wahlberg as Cade Yeager nog vinniger as in die verlede, maar dié slag het hy, nes Logan vroeër vanjaar, ’n dogtertjie wat saam met hom die avonture meemaak. Die enigste rede hoekom sy daar is (en Isabela Moner speel die rol baie goed) is om ’n jong gehoor te trek wat hulle met haar kan vereenselwig.

Verder verander vaartbelynde motors blitsvinnig in robotte wat mekaar in Dolby Stereo opdons, maar ons helde ongeskonde laat.

Dit is die probleem. ’n Mens weet die held gaan ongeskonde hier uitstap. Miskien met twee ekstra bultende spiere, maar skaars ’n skrapie aan sy gespierde lyf. So is daar vurige tonele waar Wahlberg uit ’n hysbak gepluk word en van dakke aftuimel en oor vlieënde robotte spring wat verdere woema aan die rolprent verleen. Waaghalstoertjies is die rolprent se sterk punt.

En dan is daar Anthony Hopkins as sir Edmund Burton – ’n nasaat van die destydse ridders. Tussen al die buitensporige aksie en masjienoorloë bring hy ’n waardigheid en rustigheid na die rolprent wat ’n mens kans gee om asem te haal. Net die kasteel waarin hy woon is indrukwekkender as al die robottonele ­aanmekaargelas.

Maar uiteindelik gaan kyk ’n mens vir die spesiale effekte. Die rolprent open met ’n magtige stryd tussen Arthur en die barbaarse vyand wat toe reeds deur robotte uit die ruimte beheer is. Lyke vlieg grasieus deur die lug in 3D en land op jou skoot. Robotte raak kwinkslae kwyt tussen die menseslagting, en ’n vuurspuwende draak veroorsaak ­tipiese Michael Bay-chaos.

As jy dus ’n Transformers-bewonderaar is: Dié slag is daar selfs meer aksie as in die vorige rolprente, en Mark Wahlberg het die kuns van avonturier wees vervolmaak. Hy het ’n kombinasie van macho vreesloosheid, maar ook menslikheid wat van hom ’n oortuigende protagonis maak. Sonder Wahlberg (en destyds het Shia LaBeouf dieselfde soort rol vertolk voordat hy uit die reeks verwyder is) sou Transformers: The Last Knight nie so suksesvol gewees het nie.

Soos sy voorgangers kom die rolprent alleenlik tot sy reg op ’n reuse-Imax-doek met oordonderende klank en beelde wat aanslae op al jou sintuie maak. Dit is nie ’n ervaring waarna jy onbetrokke sit en kyk nie – jy word deel van die aksie om dit behoorlik te waardeer, en dit kan jy net in Imax doen.

Teen ’n verhoogde kaartjieprys natuurlik. En ’n ekstragroot springmielieboks.

Nuwe flieks

The Promise ***

Hoewel sy motiewe goed is, en die rolprent 'n tema uitbeeld wat selde aangeraak word, is dit 'n moeilike en veeleisende ervaring wat dalk te veel in twee uur probeer inprop.

Dit gaan oor die Turke wat met die val van die Ottomaanse Ryk destyds Armeniërs uit hul gebied gejaag en duisende onskuldige mense uitgemoor het. 

'n Liefdesdriehoek rond dié drama af.

Met Christian Bale en Oscar Isaac.

Everything, Everything **

Tieners sal dalk nie saamstem met die twee sterre nie, want dié rolprent is stroperig, pragtig om na te kyk en dit verglans lyding en hunkering tot in die oortreffende trap.

'n Pragtige meisie (gespeel deur Amandla Stenberg) wat aan 'n seldsame siekte ly, mag nie uit die huis gaan nie.

Sy knoop 'n verhouding per selfoon en rekenaar met 'n oulike outjie (Nick Robinson) aan. Maar daar is 'n kinkel in die liefdeskabel . . .

Sentimenteel en romanties.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Transformers  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.