Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm: Wat klop in dié masjien se dop?

Ghost in the Shell met Scarlett Johansson en Pilou Asbæk. ­Regisseur: Rupert Sanders. ***

‘Hulle het my geskep, maar hulle kan my nie beheer nie,” grom Scarlett Johansson deur rooi tuitlippies sonder enige robotdraadjies om dit in posisie te hou. Hulle kan dalk nie die meisie in die robot beheer nie, maar die robot in die meisie beheer beslis die gehoor.

Dié rolprent sleur jou visueel mee, maar maak jou nie so betrokke soos Blade Runner nie.

Om ’n masjien sodanig uit te beeld dat dit gewone mense se asem wegslaan, is ’n probleem wat selfs die baanbrekers destyds al laat kopkrap het, spesifiek met Metropolis in 1927. Maar met Ghost in the Shell is Hollywood reeds tegnologies so ver gevorderd dat jy nie meer bewus is van die spesiale effekte nie. Dit word moeiteloos geïntegreer met die menslike storie.

Fantasierolprente het mense reeds vroeg betower. ’n Voorbeeld is L’arrivée d’un train in 1896 deur Charles Pathé, waar ’n gehoor vir die eerste keer gesien het hoe ’n trein op ’n kamera afstoom. Daar was so ’n histeriese stormloop om uit die teater te vlug dat van die fliekgangers beseer is, maar die boodskap was duidelik: ’n nuwe kunsvorm is geskep wat magtiger as enigiets anders is wat die mens al ooit ­gesien het.

Le voyage dans la lune in 1902 het flieks se krag verder ontwikkel toe Georges Méliès gehore die eerste keer maan toe geneem het. Daardie mense sal hulle seker in ’n ander bloedgroep in skrik as hulle Ghost in the Shell sien. Skouspelagtiger kan dit nie. Jy moet dit egter in Imax of 3D sien, want niks kan jou voorberei op wat wag nie.

Tegnies is dit onverbeterlik. Daar is verwysings na Blade Runner en die eerste vollengte-wetenskapfiksierolprent, Metropolis. Ghost in the Shell se wortels is natuurlik in die Japannese manga-kultuur wat in 1874 in Japan ontstaan het. Manga beteken “spontane prentjies”, en is ’n gewilde strokiesvorm. Die strokie, wat ook ’n 1995-animasierolprent was, is nou met lewende beelde en asemrowende effekte veramerikaans.

In hierdie weergawe word ’n meisie se liggaam vernietig. ’n Pragtige alternatief word ontwerp met haar brein in, en sy word ’n gedugte en baie sexy vegter. Maar dan besef sy dat kuberkrakers in haar brein inskakel en haar manipuleer. Sy rebelleer daarteen.

Frankenstein se monster het ook teen sy skepper gerebelleer met katastrofiese gevolge, maar in hierdie geval val die rebellie sagter op die oog. Dit is dramaties maar bekoorlik verfilm, sodat die kyker verlei word deur ’n steeds herkenbare toekomsstad, waar kaleidoskopiese kleure en ’n immer bewegende skouspel die psigedeliese en tegnologiese kultuur weerspieël.

Nes die gehoor destyds met die trein, was die voorvertoningsgehoor oorweldig deur die beelde. Almal het ophou springmielies eet toe die kinematograaf in die verligte strate verdwaal en reuse-projeksies op geboue fliekgangers se sintuie bedwelm het.

Daarom is dit prysenswaardig dat Johansson, met of sonder klere! sorg dat haar karakter uitstyg bokant die effekte. Sy gly soos ’n ontwerper-hersenskim tussen die wriemelende ligte deur, maar omdat sy so ’n goeie aktrise is, kan jy jou oë nie van haar afhou nie. Haar kurwes help natuurlik ook! Die vraag ontstaan egter waarom ’n Amerikaner, en nie ’n Asiër nie, gebruik is. Die loket moet seker hiervoor die skuld kry. Dit doen effens afbreuk aan die produksie en die manga-kultuur.

So tussen die uitspattige effekte maak die rolprent ook stellings oor identiteit, menslikheid en emosies. Waar eindig die mens en waar begin die masjien? En watter rol speel hierdie wese in die stryd tussen goed en kwaad? ’n Deel van die sukses lê daarin om te sien hoe Major (Johansson) in ’n identiteitskrisis beland tussen mens en robot. Ook hoe emosies tog inskop en sterker blyk te wees as die opdrag wat Major van mense gekry het.

Voeg daarby die mens-robotte wie se voorkoms gedurig verander, soos Michael Carmen Pitt en Pilou Asbæk se uitdrukkinglose en realistiese robotwesens, en jy het kougom vir die brein en lekkergoed vir die oë. Uiteindelik is dit die melancholiese gevoel oor ’n robot wat dalk ’n traan kan wegpink, maar nooit ten volle mens sal wees nie, wat jou bybly.

Aanskoulike wetenskapfiksievermaak.

Nuwe flieks

The Zookeeper’s Wife **

Dis net Hollywood wat so 'n aangrypende ware verhaal so sal optert dat haar lipstiek jou vergiftig. Die opsigters by 'n Warschause dieretuin moet in die Tweede Wêreldoorlog toesien hoe die Nazi’s die dieretuin en Pole vernietig. Die twee steek dan 300 Jode in die dieretuin weg.

Die grootste fout is die eteriese en vals vertolking deur Jessica Chastain as die opsigter se vrou; ook die kunsmatige aanslag van die fliek en die sepie-agtige styl waarin dit aangebied word. 'n Groot teleurstelling.

The Bye Bye Man *

Nes in Candyman destyds, word ? grieselgees uit die bose onderwêreld opgewek wanneer iemand sy naam sê. Drie dom karakters, wat niks in ? verlate Gotiese huis verloor het nie, ontdek hom, en natuurlik suig hy elke stukkie murg uit hul beendere. Net jammer sy metodes is so verlep. Selfs Casper the Friendly Ghost is skrikwekkender. Cressida Bonas se spel is oppervlakkig en saai, terwyl daar meer clichés is as in ? skoolopstel. Koebaai spook, hallo verveling! Dit is suiwer geldmors.

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.