Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Só dwing pandemie SA loket op sy knieë

’n Nuwe verslag deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting dui vir die eerste keer aan hoe kwaai die hou was wat die Covid-19-pandemie die Suid-Afrikaanse loket gegee het. Christiaan Boonzaier berig. 

Sestien van Nu Metro se 22 rolprentteaters in Suid-Afrika is reeds oop – die ander ses sal binnekort volg. Foto: Nu Metro

Die impak van die Covid-19-pandemie op die Suid-Afrikaanse loket is deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) ontleed en in die eerste van ’n reeks beplande verslae uitgereik.

Volgens die stigting se ontleding het die plaaslike loket tussen 1 Januarie en 26 Maart vanjaar R130,5 miljoen verdien en nie ’n sent tussen 27 Maart en 27 Augustus nie. Ingevolge die maatreëls van die staat van inperking kon rolprentteaters eers weer op 28 Augustus heropen.

Dié R130,5 miljoen is honderdmiljoene rand minder as die bedrag van meer as ’n R500 miljoen wat jaar ná jaar in die eerste helfte van onderskeidelik 2016, 2017, 2018 en 2019 by die loket ingerol het (sien grafika).

Botse Matlala, nakomings- en navorsingsbestuurder van die stigting, sê aan Netwerk24 die pandemie het eintlik voor die inperking reeds sy kloue in die plaaslike loket ingeslaan.

Hoewel kaartjieverkope in Januarie vanjaar vergeleke met Januarie 2019 gestyg het, het die loket in Februarie vanjaar net R33,1 miljoen verdien – meer as R45,5 miljoen minder as in Februarie 2019.

Nadat die eerste Covid-19-geval in Suid-Afrika op 5 Maart bevestig is, het dinge baie versleg. Net R10,5 miljoen is in Maart by die loket verdien – meer as R100,2 miljoen minder as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar (sien grafika).

“Die nuus van die pandemie het ’n ongelooflike impak op die loket gehad,” sê Motlala.

“Dit het ook die tyd verkort wat ’n rolprent gewoonlik op die kringloop is. Rolprente wat meer kon verdien, het ’n kort raklewe gehad.

“Plaaslike rolprente is gewoonlik tussen vier en agt weke op die kringloop, terwyl internasionale rolprente meer as 12 weke wys. Die meeste van die rolprente wat goed gevaar het, was vanjaar minder as 12 weke op die kringloop en dit het tot inkomsteverliese gelei.”

Die verslag, wat gewoonlik twee keer per jaar uitgereik word om Suid-Afrikaners ’n halfjaar- en jaaroorsig van die plaaslike loket te bied, is vanjaar ook weens die pandemie vertraag. Die data is oudergewoonte weer by rolprentverspreiders soos Filmfinity, Empire Entertainment en United International Pictures, asook die webtuistes Box Office Mojo en IMDB ingewin, voordat dit ontleed is.

Dié ontleding toon die volgende:

  • Net 41 rolprente is in die eerste kwartaal van 2020 uitgereik – sewe minder as verlede jaar.
  • Van dié rolprente is net vier plaaslik geskep. Dié vier rolprente kon net R6,1 miljoen by die loket verdien.
  • Die aksierolprent Bad Boys for Life, met Will Smith en Martin Lawrence in die hoofrolle, het in dié tyd verreweg die meeste geld by die plaaslike loket verdien – meer as R51,3 miljoen – terwyl die avontuurrolprent Dolittle en die aksiekomedie Sonic the Hedgehog met ’n inkomste van meer as R11 miljoen en meer as R10,5 miljoen in die tweede en derde plek is.
  • Die Afrikaanse romantiese komedie Vergeet my nie het R3,7 miljoen verdien – die meeste van plaaslike rolprente; en
  • Aksie- en komedierolprente – ook rolprente uit Amerika – was in die eerste kwartaal van die jaar die gewildstes onder Suid-Afrikaanse fliekgangers.

Matlala sê die stigting beplan om binnekort ’n ekonomiese impakstudie te begin, wat die impak van die pandemie op die rolprentbedryf onder die loep wil neem en saamvat. Dit is nog nie bekend wanneer dié verslag en die jaaroorsig uitgereik sal word nie.

Die Afrikaanse romantiese komedie ‘Vergeet my nie’, wat op Valentynsdag uitgereik is, het R3,7 miljoen by die loket verdien – die meeste van die vier plaaslike rolprente wat in die eerste kwartaal van die jaar uitgereik is.

Kentering sal kom

Netwerk24 het Maandag berig dat tot 70% van rolprentteaters in Amerika kan sluit as hulle nie ’n reddingsboei van die regering kry nie.

Hoewel die rolprentteaterbedryf in Suid-Afrika ook onder finansiële druk gebuk gaan, het verteenwoordigers van Nu Metro Cinemas en Ster-Kinekor aan Netwerk24 gesê hulle beplan in dié stadium nie om – soos in die buiteland – enige van hul teaters heeltyds te sluit nie.

Volgens Chantelle Burrows, Nu Metro se hoof van bemarking en inhoud, het die gesamentlike rolprentteaterbedryf in Suid-Afrika in die eerste kwartaal van die jaar ’n gemiddeld van R19 miljoen per week uit kaartjieverkope verdien.

“As ’n mens dié gemiddelde raming én die sluiting van rolprentteaters vir ses maande in ag neem, illustreer dit baie duidelik watter rampspoedige impak die staat van inperking op die plaaslike rolprentbedryf gehad het,” sê sy.

“Daarby moet ’n mens ook byreken dat die bedryf twee van sy mees winsgewende tydperke kwyt is: die jaarlikse skoolvakansies in April en Julie.”

Burrows sê 18 van Nu Metro se 24 rolprentteaters – 16 in Suid-Afrika en een elk in Mosambiek en Zambië – is reeds oop. Hul rolprentteaters in Suid-Afrika, wat op 28 Augustus heropen het, is nog net op Vrydae, Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae oop, as deel van ’n heropeningstrategie om die volhoubaarheid van die onderneming te verseker.

“Die ses rolprentteaters wat nog toe is, is net tydelik gesluit. Géén Nu Metro-rolprentteaters sal permanent toe bly nie,” sê sy.

Burrows sê hul bywoningsyfers, wat hulle nie bekend maak nie, is “natuurlik” laer as in die ooreenstemmende tydperk in 2019, deels weens die inperkingsregulasies, die impak van die pandemie op die bedryf en die vertraging van groot internasionale ateljees se uitreikings.

“Tog is ons ’n maand ná ons heropening tevrede met die bywoningsyfers in ons teaters. Dit is wat ons in dié omstandighede verwag het. Dit is ook bemoedigend om te sien dat dié syfers stadig maar seker, week ná week klim.”

Hoewel sy erken dat fliekgangers, soos klante in ander bedrywe, oor die algemeen nog skrikkerig is om na rolprentteaters terug te keer, is ook dié vrese besig om te verdamp, veral omdat al hoe meer fliekgangers vertrou dat rolprentteaters “veilige sosiale plekke” vir ’n blaaskans is, sê sy.

“Ons hoofdoelstellings met ons bemarkingsveldtogte is om die verskillende voorsorg- en veiligheidsmaatreëls in ons rolprentteaters – wat deur die regering goedgekeur is en selfs hul regulasies oortref – doeltreffend te kommunikeer; om die magic van die grootskerm, wat ’n mens werklik nie kan namaak nie, te benadruk en weer te laat opvlam; en om die publiek oor ons nuwe inhoud en talle spesiale aanbiedinge in kennis te stel.”

Ook al 52 van Ster-Kinekor se rolprentteaters in Suid-Afrika is oop. Foto: Ster-Kinekor

Lynne Wylie, Ster-Kinekor se hoof van bemarking, stem met Burrows saam dat dinge weer sal verander.

“Ons bedryf het al twee wêreldoorloë, talle groot pandemies, en die koms van televisie, videowinkels en die internet oorleef – en steeds groei ons syfers jaar ná jaar by die loket,” sê sy.

“Covid-19 het mense en bedrywe deurmekaar geskud, maar ons vertrou dat sake weer na normaal sal terugkeer – en dat ons saam weer sal opmaak vir alles wat ons in die afgelope paar maande verloor het.”

Wylie sê Ster-Kinekor se 52 teaters in Suid-Afrika en vyf teaters in Namibië, Zimbabwe en Zambië is nou oop nadat hulle in twee fases – 28 Augustus en 18 September – hul deure oopgeswaai het.

Sy sê die vlak 1-inperkings het die rolprentteaterbedryf beslis gehelp, maar dít alleen gaan fliekgangers nie weer na rolprentteaters lok nie.

“In ons bedryf is inhoud die belangrikste, so ons groei gaan berus op ’n mengsel van die rolprente wat ons aanbied, die getal fliekgangers wat ons kan verwelkom, en die selfvertroue van ons gaste.

“Ster-Kinekor pas voorsorgmaatreëls toe wat verseker dat ons gaste veilig is sodat dié wat kies om ons te besoek, weet dat niks vir ons belangriker as hul welsyn is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.