Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
So het Robin Williams teen demensie gestry
Die akteur Robin Williams en sy vrou, Susan. Foto’s: Argief

Die Oscar-bekroonde rolprentster Robin Williams sou op 21 Julie sy 70ste verjaardag gevier het. Hy het egter in 2014 sy eie lewe geneem. Sy dood op 63-jarige ouderdom het tot talle bespiegelings oor drank, dwelms en depressie aanleiding gegee.

In die dokumentêr Robin’s Wish, wat van 16 Julie op Showmax beskikbaar is, word dié aannames deur die werklike feite weerlê.

Wie sal ooit sy skitterende vertolking in Mrs. Doubtfire vergeet? Maar wie het geweet van die stryd wat die begaafde akteur teen Lewy Body-demensie gevoer het, ’n ongeneeslike toestand wat onder meer geheueverlies, slaaploosheid en hallusinasies veroorsaak?

In Robin’s Wish word talle onderhoude gevoer met vriende, familie, bure, regisseurs wat saam met Williams gewerk het, en nie die minste nie, met sy weduwee, Susan Williams.

In ’n berig in die Wall Street Journal word Robin’s Wish beskryf as ’n “uitbeelding van onpeilbare moed – ’n riller oor ’n held in kettings waarin Williams besef hoe sy vrugbare brein, kreatiwiteit en menswees onverklaarbaar vernietig word”.

Die dokkie gee die kyker ’n blik op die laaste maande van die akteur se lewe en vra waarom so ’n talentvolle mens, wat die publiek soveel humor besorg het, sy eie lewe neem. Ná vele bespiegelings is die skuldige gevind – die sogenaamde Lewy Body-demensie, ’n erge vorm van demensie waarvan weinig bekend was toe Williams in 2014 dood is.

Robin Williams as Mrs. Doubtfire in die gelyknamige silwerdoektreffer.

’n Opvoedkundige verduideliking van dié neurologiese toestand word in die dokkie gegee, terwyl bure, vriende en familie gesels oor die emosionele uitwerking wat sy stelselmatige agteruitgang op hulle en Williams gehad het.

Naasbestaandes se getuienis van Williams se onbaatsugtige aard, sy lojaliteit en ruim liefdadigheidswerk laat die kyker met gemengde gevoelens en ’n groot hartseer.

Die resensent Matthew Pejkovic stel dit so: “Hoe onregverdig dat so ’n briljante mens so ’n verpletterende siekte opdoen, en andersyds, hoe geseënd is ons om hom tog te kon beleef.”

Edward Porter van Brittanje se Sunday Times beskryf die dokumentêr as deels herinneringe en deels ’n mediese dokument waarin Williams se weduwee die geleentheid kry om die omstandighede rondom sy selfdood te verduidelik in die lig van talle wat geglo het dat drank en dwelms die sondaar was.

Volgens Porter gee die dokumentêr Robin Williams: Come Inside My Mind van 2018 ’n breër blik op die akteur en sy siekte.

Emma Simmonds van die tydskrif The List stem in ’n groot mate saam met Porter. Sy sê ’n nadoodse ondersoek het getoon “dat Williams gely het aan Lewy Body-demensie, ’n degeneratiewe siekte wat die slagoffer se persoonlikheid verander en in Williams se geval hom tot selfdood gedryf het”.

’n Jong Robin Williams in ‘Dead Poets Society’.

Sy betreur dit egter dat buiten ’n kykie na die TV-reeks The Crazy Ones en die derde fliek in die Night at the Museum-reeks kort voor sy dood – “kwalik sy beste werk” – en ’n vlugtige vermelding van die flieks Dead Poets Society en Aladdin, word sy merkwaardige silwerdoekloopbaan hoofsaaklik geïgnoreer.

Volgens Simmonds fokus die tonele van Williams se optrede buite karakter teen die einde van sy lewe meer op hoe hy dood is as hoe hy gelewe het.

Andrew Gaudion skryf op vulturehound.co.uk die rede vir die dokumentêr is om die werklike feite te openbaar oor die stryd wat Williams voor sy dood gevoer het teen ’n siekte wat hy nie eens geweet het hy het nie, en tweedens om bewusmaking van die neurologiese siekte te kweek.

* Volgens kenners is Lewy Body-demensie die derde grootste oorsaak van demensie naas Alzheimer se siekte en vaskulêre demensie, en dit kom in sowat 5% tot 10% van gevalle voor.

Dit word beskryf as ’n “progressiewe demensie wat tot die agteruitgang van denke, redenering en onafhanklike funksionering lei weens abnormale mikroskopiese neerslae wat die breinselle beskadig”.

Die siekte is genoem na die neuroloog dr. Frederich H. Lewy, wat in die vroeë 1900’s in Alois Alzheimer se laboratorium gewerk het. – Saamgestel deur Elretha Britz uit bronne film.list.co.uk, vulturehound.co.uk, The Sunday Times, rottentomatoes.com, alz.org

Meer oor:  Demensie  |  Robin Williams  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.