Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Soldaat’ net begin van Jephta as fliekregisseur
Op stel in Bishop Lavis saam met die regisseur Amy Jephta is agter van links Jayden Booysen en Elton Landrew.Foto: Gabriella Achadinha

Dit is net die begin, sê die teaterskepper Amy Jephta oor Soldaat, haar eerste poging agter die kameras as rolprentregisseur.

Dié kortprent wat die daaglikse lewe van jong mense op die Kaapse Vlakte belig, draai binnekort by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad.

Jephta, ’n bekroonde teaterskepper en -skrywer, se toneelstuk Kristalvlakte (’n verplasing van Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder na die Kaapse Vlakte), het vanjaar die Eugène Marais-prys vir drama ontvang. Jephta is van Mitchells Plain en diep vertroud met haar onderwerp.

“Ek voel dis my plig as bruin kunstenaar om my mense en my gemeenskap uit te beeld: die mooi sowel as die moeilik. Ek vertel hierdie stories omdat ek die wêreld waar ek vandaan kom op die skerm wil sien.”

Soldaat het ontwikkel uit ’n toneelstuk wat sy en Ephraim Gordon geskryf het. Gordon, vervaardiger van die prent, is ook haar vennoot in hul produksiehuis PaperJet Productions.

Soldaat speel in Bishop Lavis af. “Die kortprent is ’n studie van die spanning tussen manlikheid en kwesbaarheid op die Kaapse Vlakte. Hoe vriendskappe aangeknoop word en hoe seuns in ’n wrede omgewing oorleef.”

Die prent speel af teen die agtergrond van ’n daagliks stygende dodetal – 20 mense is reeds die afgelope twee maande in Bishop Lavis in bendegeweld dood.

Die storie handel oor twee jong seuns wat in die skoolvakansie in ’n bende se wêreld ingetrek word. “Terselfdertyd is dit die eerste dag op straat vir ’n rookie-polisieman. Soos die dag vorder, kruis en bots hierdie twee stories en word die betrokke lewens onherroeplik verander.”

Die fliek duur 24 minute. Die grootste uitdaging was juis om genoeg tyd te kry, omdat dit haar eerste rolprent is wat sy sonder enige ervaring aangepak het. “Ons het net vier dae geskiet en redigering het net een week geduur.”

Haar sterk teater-agtergrond het haar veral gehelp, glo sy. “My liefde vir stories en my vermoë om met akteurs te kommunikeer het my baie gehelp. Ek moes als op stel leer en ek is dankbaar vir ’n wonderlike span wat my ondersteun het.

“Op ’n rolprent het mens soveel medewerkers. Elkeen het ’n spesifieke taak en voeg hul talente en ‘point of view’ by die storie. As teatermaker voel ek soms baie eensaam. Beperkte begrotings gee ’n mens nie eintlik kans om met ’n groot span te werk nie.”

Die akteurs Elton Landrew, Joshua Vraagom, Jayden Booysen, Noel Oostendorp en Dustin Beck is sonder oudisies betrek. “Ons het onmiddellik geweet wie ons wou hê. Elton is ’n volkome professionele akteur en ons was baie gelukkig dat hy tyd gekry het in sy skedule. Dustin was een van my studente en ’n sterk jong talent. Dis Jayden se eerste rolprent en ek is baie trots op sy werk. Joshua was al te sien in Noem my Skollie: Hy’t homself bewys as ’n akteur om dop te hou. Noel werk al baie lank in die bedryf en sy jare van ervaring was ’n plesier op die stel.”

Sy werk al meer as tien jaar saam met Gordon. “Ons is vriende, het saam studeer en ons produksiehuis is gestig met Soldaat as ons eerste rolprent. Ons het ook sopas geld gekry van die Nasionale Film- en Videostigting vir ons tweede kortfliekprojek, so hierdie is net die begin.”

Die ontwikkeling van dié kortprent is reeds aan die gang en “dit is die inspirerende storie van hoe jazzmusiek ’n jong man se lewe verander”.

Bene wens Jephta se teaterwerk skryf sy ook tans vir die kykNET-sepie Suidooster.

* 64 rolprente word van 23 tot 26 Augustus by die kykNET Silwerskermfees in die The Bay-hotel in Kampsbaai vertoon.

Daar is 21 nuwe kortprente en agt vollengte rolprente. Benewens premières van die jongste Afrikaanse prente draai John Trengove se The Wound en Akin Omotso se Vaya, wat reeds opslae op oorsese feeste gemaak het. Dokkies is ook deel van die fees wat insluit Doc-U-Mentally, Strike a Rock, asook die Suid-Afrikaanse première van Winnie.

Die fees open met Raaiselkind, ’n verwerking van Annelie Botes se roman, en sluit af met Vaselinetjie, ’n verwerking van Anoeschka von Meck se roman.

Meer oor:  Silwerskermfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.