Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Sophia Loren (84) in hoofrol in prent wat seun regisseer

Die Italiaanse rolprentlegende Sophia Loren gaan vir die eerste keer in ’n dekade weer in ’n vollengterolprent te sien wees, berig Variety.

Die 84-jarige se rol in La vita davanti a sé (The Life Ahead) is boonop ook haar eerste hoofrol in ’n vollengterolprent sedert 2004.

Sophia Loren in 2017 by die internasionale Bravo-musiekpryse in Moskou, Rusland. Foto: Getty Images

Edoardo Ponti, Loren se seun, behartig die regie van haar jongste projek, wat tans in Italië vervaardig word. Dit is die derde keer wat die ma en seun saamwerk, naas Between Strangers in 2002 en Voce umana (Human Voice) in 2014.

“Hy (Edoardo) ken my so goed,” het Loren gesê. “Hy ken elke sentimeter van my gesig, my hart, my siel. Hy beweeg net aan na die volgende skoot wanneer my vertolking eg is.”

Sy het bygelas gehore sal “baie verras” wees oor die manier waarop sy haarself op die grootskerm uitdruk.

Ponti het gesê dit is net ’n eer om weer die regie te behartig van ’n fliek waarin sy Oscar-bekroonde ma in die kollig is. Loren het die Oscar vir beste aktrise in 1962 gewen vir haar rol in Two Women. Sy was die eerste aktrise wat ’n Oscar vir ’n nie-Engelssprekende rol gewen het.

“Op 84 hou sy nie terug nie,” sê Ponti. “Sy wil ’n fliek maak wat diepsinnig en ook emosioneel en fisiek ’n uitdaging is,” het hy gesê. “Dit is wonderlik om die energie en geesdrif te aanskou waarmee sy elke toneel aanpak.”

In The Life Ahead vertolk Loren die rol van Madame Rosa, wat die Joodse slagting oorleef het. Sy ontferm haar in ’n Italiaanse dorpie oor ’n 35-jarige transgendervrou en twee straatkinders, onderskeidelik tien en 12 jaar oud. Die rolverdeling sluit Abril Zamora, Renato Carpentieri, Babak Karimi en Ibrahima Gueye in.

Die rolprent is gebaseer op die boek La vie devant soiThe Life Before Us” deur Emile Ajar, die skuilnaam van die Fransman Romain Gary. Dit is in 1977 in ’n rolprent omskep, Madame Rosa, wat in 1978 die Oscar vir die beste buitelandse rolprent gewen het.

Ponti sê sy eindproduk sal aansienlik van die 1977-verwerking verskil.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.