Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Soweto-kind se ‘Opus’ inspireer gehore
Lebo (Kagiso Rathebe) in ’n toneel uit die wen-kortrolprent ‘Opus’.

Sy aangrypende debuut-kortrolprent, Opus, is as beste kortrolprent op die Jozi-rolprentfees aangewys en die reaksie daarop van hier en oorsee is so gunstig dat hy dit nou wil ontwikkel tot ’n vollengte rolprent

Daar is baie raakpunte tussen Kgosana Monchusi en die hoofkarakter in Opus. Dit handel oor Lebo, ’n kontrabaspeler wat sy kuns in die township beoefen, en daagliks stad toe gaan om los werkies te doen of op ’n straathoek musiek te maak, terwyl hy ook oudisies aflê in ’n poging om in ’n orkes opgeneem te word.

Die kortrolprent is ’n ode aan die lewegewende krag van musiek wat lewens transformeer, en aan die dapperheid van ’n kunstenaar om te volhard ondanks alles.

Die rolprent is geïnspireer deur Monchusi se eie musiekstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Hy het sy honneursgraad in musiek in 2010 behaal en in die televisie- en rolprentbedryf as komponis begin werk.

“As ’n kind van Soweto met geen musikale opleiding nie, het die werklikheid van tydgenote wat al klassieke opleiding van vierjarige ouderdom ontvang het, ’n mens ontmoedig. Ons township-kinders kon eers begin in ons tienerjare. ’n Mens het heeltyd gevoel jy is net nie goed genoeg nie. Daarby moes jy nog 40 km daagliks na die musiekskool reis, ook huis toe en na uitvoerings.”

“As ’n kind van Soweto met geen musikale opleiding nie, het die werklikheid van tydgenote wat al klassieke opleiding van vierjarige ouderdom ontvang het, ’n mens ontmoedig. Ons township-kinders kon eers begin in ons tienerjare. ’n Mens het heeltyd gevoel jy is net nie goed genoeg nie. Daarby moes jy nog 40 km daagliks na die musiekskool reis, ook huis toe en na uitvoerings.”

Kgosana Monchusi

Hy het gesien hoe ’n vriend met sy kontrabas sukkel op openbare vervoer. “Een aand, terwyl ek Bach geoefen het in my ma se motorhuis, het ek gewonder wat die mense dink wat my hoor. Toe besef ek dit is ’n storie, en een wat ek nog nooit in die teater gesien het nie. Al het ek nog nooit ’n rolprent gemaak nie, het ek geweet ek is die enigste een wat hierdie storie kon vertel.”

Soos wat die karakter in sy rolprent sy deursettingsvermoë ontdek in die najaag van sy droom, vind Monchusi ook krag in die navolging van sy kuns. Hy werk as kreatiewe direkteur by die produksiemaatskappy Weldun Media.

“Mense wat nie in die vermaakbedryf werk nie, besef nie hoe mededingend dit eintlik is nie. Dit verg baie dapperheid om jou kuns in die openbaar te plaas. Kuns is eintlik ’n deel van jouself; voordat jy dit kan doen moet jy jou selftwyfel oorwin, ook die stemme wat die heeltyd vir jou sê jy kan sekere goed nie doen nie.

“Ek het kreatiewe advies oor Opus ontvang, om daarvan ’n sukses te maak, en ek het besluit om nie na die stemme te luister nie. Ek het geglo die storie moet op ’n spesifieke manier vertel word. Daardie besluit van my, glo ek, het tot die sukses van die kortrolprent bygedra.”

Monchusi stel nie daarin belang om die deurgetrapte Hollywood-pad te volg met sy rolprente nie. “Daar is juis duisende Amerikaanse regisseurs wat reeds Hollywood-stories vertel. Ek wil stories met hul wortels in Afrika vertel, stories wat internasionaal aanklank sal vind.

“Ek is seker baie mense sê dit. Ek het grootgeword in ’n township in Suid-Afrika, maar met ’n baie anderster ervaring van die wêreld as my gemeenskap. Dit het my soos ’n buitestander laat voel vir ’n groot deel van my lewe. Dit het egter vir my ’n unieke storie gegee, een wat ek hoop in my rolprente sal wys.”

“Die Jozi-rolprentfees is die oudste rolprentfees in Johannesburg en die gehalte van die rolprente was werklik verstommend. Om die prys te kry vir so ’n persoonlike rolprent gee my die moed om te glo dat ek ’n stem het in die bedryf as ’n rolprentvervaardiger, dit motiveer my om meer rolprente te skep.”

* Die vervaardiging van die rolprent is gesteun deur die Nasionale Rolprent- en Video-stigting.

Meer oor:  Opus  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.