Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Star is Born’ stuur wildste drome op galop
Lady Gaga in die rol van Ally, ’n nuwe sangsensasie wat oornag aanhangers versamel.

A Star is Born

Drama

****

Stof af jou drome. Bradley Cooper se rou nuwe weergawe van A Star is Born stuur die kyker se wildste drome op galop en besiel nie net oor die liefde nie, maar ook oor die volg van jou eie drome en onderstreep die helende krag van musiek.

Dié aangrypende musiekprent besin oor die aard van ware talent en die musiekwêreld se oppervlakkige siening en misbruik daarvan. ’n Ster kán vernietig word. Die prent se klankbaan stuur verby “aansteeklike” liedjies na ware sielsmusiek – tydloos en helder.

Die intrige van die hoofkarakters vang werklik jou hart vas, die musiek dra en verdiep die tragiese liefdesverhaal tussen Jackson, die amper-oor-die-muur-countryrocker, en Ally, die skitternuwe talent. Boonop gee dit nog ’n pasella of twee vir diegene wat die weergawe met Kris Kristofferson en Barbra Streisand soos ’n kleinood bewaar. Die musiek is ook herverbeel in Cooper se gawe debuut as regisseur.

Cooper is dwingend sterk teenwoordig as Jackson Maine, die countryrock-sanger geteister deur vele duiwels uit sy kinderjare. Soos sy loopbaan taan, verrys Ally s’n, die jong kelnerin wat hy in ’n kroeg raakgeloop het, na die sterre en verby.

Cooper speel Jackson met ’n twêng in die stem, ’n vreemde skugterheid en ’n geboë liggaamstaal – Cooper (Silver Linings Playbook) is amper onherkenbaar. Teenoor hom is Lady Gaga se Ally, lewenslustig en snaaks met onbetwisbare talent – wel, dié vaal muis ís Lady Gaga! Die superster se gemaklike debuut op die silwerdoek gryp aan – hier kom beslis nog rolle vir haar. Veral haar vertolking van “La Vie en Rose” laat die planke bewe en “Always Remember Us This Way” is die emosionele spilpunt van die prent.

Die twee akteurs het ’n witwarm chemie en ’n speelsheid op die silwerdoek. Sam Elliott is ook reg geplaas as die broer wat om sy jonger grootmaakbroer (Cooper) kloek.

Die musiek in die prent is die derde ster daarvan – al die liedjies is oorspronklik deur Gaga en Cooper geskryf en uitgevoer. Bykomende lirieke is deur Lukas Nelson, Jason Isbell en Mark Ronson. ’n Oscar-benoeming wink reeds vir die liedjies “Shallow”, “Look What I Found” en “Always Remember Us This Way”. Die musiek is in pas, “handgemaak”, natuurlik reg vir ’n nuwe tydvak en prent.

Die reikwydte van A Star is Born is wyd. Hoewel die persoonlike verwikkeling tussen die sterre die traankliere tap, is dit die boodskap van drome en die opgee daarvan wat ontroer, dat ware kunstenaars iets het om te sê vir hul gehore, want hulle volg nie die jongste mode nie.

*Ouderdomsperk: 16DTS, Tydsduur: 136 minute.

Meer oor:  Bradley Cooper  |  Lady Gaga  |  A Star Is Born
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.