Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Stories eerlik vertel in Venter se ‘Stam’
Tarryn Wyngaard

Stam

****

Kaapstad is haas onherkenbaar in die skrywer en regisseur Louw Venter se debuutprent, Stam.

Die stad vertoon afgeleef, verrinneweer en soms skoon lelik. Glad nie die aanloklike toeristestad met sy rykmens-speelplekke aangevly teen die hoofattraksie, die kolos Tafelberg, nie. Karakters vergader op die soom van die stad, in agterstrate, onder ’n snelweg, in vervalle huise – die aksie is in ’n hospitaal, by die polisiekantoor en meestal op straat.

Die prent begin met die eerste roeringe van ’n nuwe dag, die kamera flits tussen ’n intieme kamertoneel na ’n hawelose ma en seuntjie. Jou aandag is dadelik getrek, die storie is reeds swanger aan hoop en soveel moontlikhede. Afwagtend leef jy mee, wetend dat hier ook onheil aan die oplaai is.

Vyf stories van vyf mense word in die loop van ’n paar uur hier uitgelê. Van die mense moet hard werk om net te kan oorleef, hetsy psigies of liggaamlik. Die prent kom nie fragmentaries voor nie, dit het ’n tekstuur, asof die stories ingeweef word in ’n tapisserie, wat ons eers aan die einde in sy geheel kan betrag. Ons volg die mense van ligdag tot laat. Die karakters is verbind aan mekaar en die verwantskap skakeer van die mees intieme band tot ’n toevallige ontmoeting. Van hulle is totale vreemdelinge, maar in die loop van die dag word hulle skielik op mekaar aangewese. In ’n oogwenk kan van hulle alles verloor of kan hul lewe onherroeplik ontspoor.

Van hulle is net ’n salaristjek weg van ’n lewe op straat. Of dalk kan alles net vir eenmaal mooi uitwerk vir hulle?

Venter stel nie tipes aan die kyker bekend nie, maar ryk stories, al is dit met enkele hale geskets. Die gegewe is eintlik aan jou as kyker baie bekend. ’n Dwelmverslaafde, ’n hawelose ma wat veg om haar kind en haarself veilig te hou op straat, ’n polisieman wat wag op ’n moontlike bevordering, sy vriendin, ’n verpleegster, wat smag na ’n kind, ’n verbyganger wat hom oor ’n verlore kind ontferm en ’n man wat met geweld lewe en als om hom verwoes.

Venter is gerugsteun deur die vervaardigers van trefferprente soos Inxeba (Die wond, 2017) en die dokkie This Is Not a Burial, It’s a Resurrection (2020).

As kunstenaar is hy vrye teuels gegee, en dit werp vrugte af in die vreeslose, reguit vertel van hierdie belangrike stories.

Die spel is oorwegend uitstekend, veral Inge Beckmann imponeer as die hawelose vrou, wat hink tussen die ontsnapping wat dwelms bied, die skarrel na kos en om vir haar seuntjie te sorg. Gideon Lombard staan sterk, tog ook so weerloos as die polisieman, wat gaandeweg sy houvas blyk te verloor op alles wat sin vir hom maak; en Tarryn Wyngaard oorrompel as die verpleegster wat emosioneel kan raakvat met haar pasiënte, maar wie se drome aan die vervaag is. ’n Mens voel haar reddeloosheid aan. Al wat effens gepla het, was die voorstelling van Armand Aucamp se karakter en ook die verwantskap met sy vrou. Hierdie kyker kon die twee uiteenlopende mense nie bymekaar sit as man en vrou nie, ook het die voorstelling van sy karakter met pienk hemp en nekketting onvanpas gevoel. Mans wat geweldenaars is, lyk dalk juis gewoon en nie so “smerig” nie.

Die lewe in Stam is nie verglans nie en daarin lê sy uitklop-trefkrag. Die rolprentmaker het nie na mooi eindes gesoek om die gehoor se gemoed te salf of om te keer dat die politici frons nie. Die prent verruim die Afrikaanse rolprentskat deur die durf te hê om outentiek te wees en ’n storie te vertel soos dit is.

Stam kan tot 1 Oktober op die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) se digitale platform gekyk word. Daarna is dit van 2 Oktober af op DStv se BoxOffice beskikbaar. Die prent is die afgelope naweek as die beste Suid-Afrikaanse rolprent op die internasionale rolprentfees in Durban aangewys.

Meer oor:  Stam  |  Flieks  |  Louw Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.