Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Stroop’ wen nóg ’n prys

Ondanks die vervaardigers se vrees dat niemand die dokumentêre rolprent Stroop, oor renosterstropery, sal wil kyk nie, het dit onlangs met die Kudu-natuurbewaringspryse van Sanparke sy 26ste prys losgeslaan.

Dit is die tweede prys wat die fliek plaaslik wen, terwyl dit reeds verskeie pryse in die buiteland ontvang het.

Stroop
'n Veldwagter van Sanpark en Bonné de Bod by 'n weesrenoster.

Die rolprent is verlede jaar uitgereik en is op 30 rolprentfeeste oor die wêreld heen vertoon.

Die beoordelaars van die Kudu-pryse het die fliek geloof vir die manier waarop die storie vertel is.

“Ons wou ’n impak maak, maar die reaksie het ons verwagtinge oortref,” sê Bonné de Bod, wat die rolprent saam met Susan Scott vervaardig het.

Die prys van Sanparke beloop R20 000.

De Bod sê hulle gaan die prysgeld aan die honde-eenheid van die Krugerwildtuin se ereveldwagters skenk.

“Húlle is die ware helde wat die werk op die grond doen,” sê De Bod, voorheen ’n aanbieder van die natuurreeks 50/50 op SABC2.

Stroop wen nóg 'n prys
Susan Scott en Bonné de Bod

“Dit is ook om aan hulle erkenning te gee. Hulle het ons ongelooflike toegang gegee tot die werk wat hulle doen. Ons as die publiek raak dalk vuisvoos om van renosterstropery te hoor, maar hulle is die span wat hul lewens in gevaar stel, want stropery kom nog baie gereeld voor.”

Scott, ’n kameravrou, sê die geld word juis aan die ereveldwagters geskenk omdat hulle dit die heel beste kan bestee aan onder meer toerusting om hul taak te verrig.

DVD’s van die rolprent word ook in die wildtuin verkoop, waarvan 10% van die verkope aan die veldwagters gaan.

Die fliek het drie weke gelede ook die SAB se omgewingsprys gewen.

“Ons moes die rolprent onafhanklik versprei. Rolprentteaters was nie te gretig om dit te vertoon nie,” sê Scott.

“Ons het oplaas die fliek onafhanklik versprei gekry en die lokale gehuur, waar dit uitverkoop het. Daar was wonderlike ondersteuning van die publiek. Ons het die fliek onafhanklik met die hulp van skarefinansiering vervaardig. Ons het ook gedink ons moet die fliek oorsee neem en indien dit daar goeie terugvoering kry, sal mense tuis daarvan kennis neem. Ons kon deur middel van sosiale media sien dat mense wel baie in die onderwerp belang stel.”

’n Toneel uit die dokumentêre rolprent Stroop.

Scott en De Bod het aanvanklik gereken hul projek gaan ses maande neem om te voltooi, maar dit het uiteindelik vier jaar geneem.

“Dit was die onafhanklike vervaardiging wat dit so ’n lang proses gemaak het,” sê Scott.

Hulle wou dit nie in samewerking met ’n uitsaaier doen nie weens die beperkings wat daarmee gepaardgaan. Hulle wou die onderwerp van renosterstropery kaalvuis pak.

“Ons is baie dankbaar vir Suid-Afrikaners se ondersteuning, asook vir die erkenning wat die fliek kry,” sê De Bod.

“Jy voel ’n verbintenis met elke karakter in die fliek. Baie mense het vir ons gesê die fliek het hulle werklik geroer. Ons is baie dankbaar daaroor want ons het dit eerstens vir Suid-Afrikaners gemaak.”

Meer oor:  Stroop  |  Dokumentêr  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.