Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Suid-Afrikaners se inherente gulheid ‘kaalgat’ gevier
Die akteurs in Kaalgat Karel is van links Siv Ngesi, Eden Classens, Christia Visser, Francois Jacobs, Tracey-Lee Oliver en Schalk Bezuidenhout.

Dieselfde vervaardigers wat die swaargewigrolprent Tess en die dokumentêr 1994: The Bloody Miracle die lig laat sien het, het pas met die verfilming van ’n lighartige romantiese komedie begin.

Kaalgat Karel is ’n liefdesverhaal propvol humor, sporttonele en aksiebelaaide pret,” lui die mediaverklaring oor dié nuwe toevoeging tot Suid-Afrika se arsenaal van ontvlugtingsvermaak.

Meg Rickards van Boondogle Films en die Kaalgat-regisseur, sê sy en haar vennoot Paul Egan wil nie in ’n genre vasgevang word nie.

“Ná Tess en 1994 wou ons ’n fliek maak wat ons laat lag, wat ligtheid bring en Suid-Afrikaners se veerkragtigheid en gulhartigheid belig. Ja, die fliek het klugtige elemente en die humor is soms stoutgat, soms satiries, maar dit is ook ’n eerlike liefdesverhaal oor die werklikheid van virtuele verbintenisse tussen mense,” sê Rickards.

“Ons glo Afrikaanse gehore sal mal wees oor die fliek. Dit bied ’n vars blik op die gewilde romkom en is beslis nie spookasem nie. Nog ’n pluspunt is die tasbare energie tussen die akteurs.”

Die verhaal gaan oor Karel Venter wat kaal nael op ’n sportbyeenkoms en halsoorkop verlief raak op die paramedikus wat hom “red” toe die grap skeefloop.

Sy is egter ’n enkelma, ernstig, pligsgetrou en stel geensins in ’n vent soos Karel belang nie.

Rickards sê haar vennoot, Paul Egan, se nuuskierigheid oor wat ’n mens sou besiel om voor ’n skare mense kaal te nael het hom tot navorsing gedryf. Daarby wou hy uitvind waarom toeskouers dit oënskynlik geniet al word ’n byeenkoms deur so ’n opportunis ontwrig.

Die navorsing het hom gelei na sosiale media en die band wat dit tussen twee mense kan skep. Die vraag is nou: Is ’n virtuele verbintenis genoeg om ’n verhouding te laat slaag?

As die storie nie gehore lok nie, sal die rolverdeling wel. Al die akteurs in die belangrike rolle is bekend: Christia Visser, Francois Jacobs, Schalk Bezuidenhout, Siv Ngesi, Tracey-Lee Oliver en Eden Classens. Rosebelle Clasen, die dogter van die akteurspaar Neels en Eloise Clasen, is die enigste nuweling en maak hierin haar debuut op die silwerdoek.

Jacobs, wat Sampie in Vir die voëls gespeel het en ook in Donkerland en Pad na jou hart te sien was, vertolk Karel die kaalnaeler.

Bezuidenhout, tans op kykNET in die komedie Hotel, het in Kanarie gewys hy kan ook ernstige rolle vertolk, maar in dié romkom haal hy sy komediestreke uit as Karel se kamermaat Flip.

Visser vertolk die ernstige enkelma-paramedikus Rita, waarvoor sy nie naasteby so diep na emosies moet delf soos vir die aangrypende Tess nie.

Ngesi (Knuckle City, 24, Black Sails) is te sien as Karel se kaalnael-teenstander Vuyo, Oliver (The Voice, Project Fame) is Rita se kollega en Classens (Suidooster, Dancing with the Stars) is in die rol van die glansryke rekonstruktiewe chirurg Jean-Pierre du Toit.

Boondogle bied saam met filmvervaardiging ook opleiding aan diegene met ’n passie vir die bedryf. Volgens Rickards neem hulle tans heelparty mense onder hul vlerk wat hopelik die rolprentbedryf in die Oos-Kaap sal uitbrei.

Kaalgat Karel word in samewerking met kykNET en verskeie ander instansies verfilm.

Die eerste dag op stel was op 5 Februarie en op 24 September sal die fliek reeds in bioskoopteaters begin draai.

Meer oor:  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.