Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Tarantino-fliek as briljant tot skokkend beskryf

Die reaksie op die regisseur en skrywer Quentin Tarantino se nuutste fliek, Once Upon a Time in Hollywood, vandeesweek op die Cannes-fliekfees het gewissel van briljant tot skokkend.

Dié swart komedie, wat in die 1960’s in Hollywood afspeel, het ’n indrukwekkende rolverdeling. Dit was egter die twee hoofspelers, Leonardo DiCaprio en Brad Pitt, wat die kollig gesteel het.

Brad Pitt (links) en Leonardo DiCaprio daag op vir die vertoning van Once Upon a Time in Hollywood in Cannes. Foto: Reuters

Once Upon a Time in Hollywood is Pitt en DiCaprio se eerste keer saam in ’n fliek nadat albei ’n hele ruk nie op die silwerdoek verskyn het nie.

Pitt het die afgelope tyd agter die skerms gewerk aan onder meer If Beale Street Could Talk en Vice, terwyl DiCaprio meestal as kampvegter vir klimaatsverandering opgetree het. Sy vorige verskyning in ’n fliek was in 2015 in The Revenant.

“Dit lyk egter of Once Upon a Time in Hollywood alles gaan verander,” berig People, met verwysing na moontlike verdere samewerking deur die twee akteurs.

BBC.com noem Pitt en DiCaprio die nuwe Robert Redford en Paul Newman (The Sting en Butch Cassidy and the Sundance Kid) en sê “dié twee hoëprofiel-akteurs blyk ’n inspirerende vennootskap te wees”.

Saam met Pitt en DiCaprio op die rooi tapyt van die 72ste Cannes-fees in Frankryk was Tarantino en die 28-jarige Margot Robbie, wat die ikoniese Sharon Tate in die fliek vertolk.

Robbie het haar hare in twee dun vlegsels langs haar gesig laat hang, presies soos Tate toe sy in 1968 op die Cannes-fees verskyn het. Sy het in 2013 saam met DiCaprio in The Wolf of Wall Street gespeel.

Quentin Tarantino en Margot Robbie. Tarantino is die skrywer en regisseur van Once Upon a Time in Hollywood, waarin Robbie die rol van Sharon Tate vertolk. Foto: Anthony Harvey/REX/Shutterstock

Tarantino open sy fliek met ’n swart-wit toneel wat fokus op die akteurs Rick Dalton (DiCaprio) en Cliff Booth (Pitt) in die 1950’s. Wanneer hulle weer verskyn, is dit ’n dekade later en het albei se ster verdof. Hulle is nou twee sukkelaars in die bedryf, maar steeds goeie vriende.

Die fliek bestaan uit ’n versameling vinjette wat die sjarme van die Hollywood-droomfabriek in 1969 uitbeeld. “Dis ’n opgewekte prent – te opgewek as in ag geneem word dat die Charles Manson-kultus en Tate se moord hierin saamgevoeg word,” skryf The Economist wat dié huldeblyk aan Hollywood “Love letters to La La Land” noem.

Volgens Peter Bradshaw van The Guardian is die fliek “skokkend, verwarrend, onverantwoordelik en terselfdertyd briljant”.

Ander bekende Hollywood-sterre hierin is Al Pacino, Dakota Fanning, Kurt Russell, Damian Lewis, selfs Roman Polanski, asook Luke Perry. Perry het sy laaste tonele voltooi kort voordat hy in Maart vanjaar dood is.

Once Upon a Time in Hollywood is van 26 Julie in teaters te sien. – Bronne: BBC.com, People, The Hollywood Reporter, The Guardian, The Economist.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.