Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Tema van recces met respek gepak
’n Toneel uit die rolprent met die werktitel The Recce, wat tans verfilm word.

Noem die woord “recce” en jy krap herinneringe, emosies en vooropgestelde idees oop.

Greg Kriek gaan probeer om met soveel respek moontlik reg te laat geskied aan die verhaal van die soldate van dié spesiale weermageenheid en wat hulle moes beleef in ’n vollengterolprent wat nou onder die werktitel The Recce verfilm word.

“Dis ’n emosionele en fisieke uitdaging, maar tog ’n groot eer om die rol te kan vertolk,” sê hy.

Die filmspan is tans in die Oos-Kaap waar hulle hierdie week begin verfilm het.

Kriek self is te jonk om enige van die gebeure te kon beleef, maar soos byna alle wit mense in Suid-Afrika het hy familie wat op die grens was.

“Daar was baie dinge wat ek as kind nie verstaan het nie, maar nou word dit vir my baie duidelik. Van alles kom ek die meeste onder die besef dat niemand, nie die soldate of hul gesinne, onaangeraak gelaat is nie.

“Ek het met baie mans gesels terwyl ek navorsing gedoen het vir die rol. Sommige van hulle wou anoniem bly. Baie trane het geloop terwyl hulle van hul ondervindinge vertel het.

“Ek besef nou eers hoe baie mans hul ondervindinge probeer vergeet het en watter uitwerking alles op emosionele vlak het.”

Afgesien van navorsing moes hy ook fiks word, leer hoe om te beweeg en wat om met ’n geweer te doen.

Volgens Jac Williams (een van die vervaardigers van die produksiemaatskappy Man Makes a Picture, of kortweg MMaP) is daar spesialiste op stel wat met alles help.

“Dis ons eerste vollengterolprent en ons maak dit heeltemal onafhanklik sodat ons kreatiewe vryheid kan behou. Ons het al heelwat kortflieks gemaak en televisiewerk gedoen,” sê hy.

Op die terrein waar verfilm word is Greg Kriek (regs) wat die hoofrol vertolk en DeVille van Niekerk (links) wat instaan vir sommige van die aksietonele.

Vorige projekte sluit in ’n reeks van 13 episodes vir CNBC Africa met die titel It’s Africa’s Time. Vir kykNET se Silwerskermfees het hulle al die kortflieks Juweeldiewe en Jan Umkwetha gemaak.

Volgens Williams skiet hulle tans op sy ouers se plaas in die Oos-Kaap. Alles word op ’n baie klein begroting gedoen. Hulle kry studente in van die nuwe Afda-rolprentskool in Port Elizabeth. Hulle leer hier hoe dinge op ’n rolprentstel werk en sommige van hulle is ook byspelers.

Van die ander bekende akteurs in die rolprent is Marius Weyers, Grant Swanby, Christia Visser, Albert Maritz, Elsabé Daneel en Maurice Carpede.

Daar word al meer as twee jaar lank aan die rolprent gewerk, sê Williams. Die skrywer en regisseur is Ferdinand van Zyl wat onlangs saam met MMaP begin werk het. Williams het die maatskappy saam met Jacques le Roux begin.

Die rolprent sal in Afrikaans en Engels met Engelse onderskrifte versprei word. Dit sal waarskynlik in die tweede helfte van volgende jaar uitgereik word.

Besoek www.facebook.com/reccefilm vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.