Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘The Square’ tref kyker tussen die oë
’n Toneel uit die rolprent The Square met Terry Notary as ’n aap wat mense aanval.

Ruben Östlund se prent The Square (2017), wenner van die Goue Palm in 2017 op die Cannes-rolprentfees, tref die kyker in die maag en tussen die oë. Dit is ’n hooggestemde prent wat oënskynlik oor die kunswêreld handel. Hierdie kyker was onder die indruk sy is skokbestand. Toe nie. Dit begin met Christian (Claes Bang), die kurator en bestuurder van ’n museum, wat deur sakkerollers beroof word.

Dit lyk aanvanklik na ’n vrou wat hulp behoef met iemand wat haar gaan aanrand, maar uiteindelik word Christian mislei. En sakkerollers, emosioneel en intellektueel, is waaroor hierdie prent handel – met Dominic West in pakke wat lyk soos pajamas.

Sleuteloomblikke belig Christian se uitgelewerdheid.

*Christian plaas briewe in woonstelle se posbusse om die vermeende dief vas te trek en ons sien hoe hy trappe op en af klim.

*’n Pakkie keer terug met die gesteelde goedere nadat ’n Google-soektog die adres opspoor.

*’n Jong ontstoke kind konfronteer Christian in sy woonstel omdat hy van diefstal beskuldig word en Christian soek in die reën tussen vullissakke na sy selfoonnommer.

*Die soektog na die kind is vrugteloos, die kind verdwyn sonder ’n adres.

*Daar is ’n YouTube-video van ’n jong kind wat opgeblaas word as sosiale kommentaar op haweloses.

*’n Man met tourette-sindroom maak ontoepaslike opmerkings, terwyl ’n gehoorlid sy regte beskerm as iemand wat “abnormaal” is, maar mag aanspraak maak op regte.

*’n Eennagafspraak met ’n joernalis (Elizabeth Moss) wat sy semen probeer kaap in ’n kondoom omdat sy waarskynlik haarself wil bevrug en later aandring op ’n regte verhouding.

*’n Kunsaand met ’n kunstenaar as ’n aanvallende aap (Terry Notary in ’n angswekkende vertolking) wat werklik mense aanval, is nog ’n tema. Dit word voorafgegaan met die joernalis wat ’n aap as huisdier het.

Dit is ’n satiriese rolprent wat ’n mens deur al die ellendes neem van ons tyd. Die kunswêreld as ’n plek (hierom die titel) waar enige klomp snert as “kuns” verkoop kan word en die moderne mens se weerloosheid in die aangesig van intellektuele terreur en #MeToo-bewegings waar nuanses verlore gaan.

Christian stuur ’n YouTube-apologie aan die kind wat hy te na gekom het (en wat verdwyn het) en selfs die bedelaars in hierdie prent het regte. In ’n skokkende oomblik in ’n winkelsentrum verloor Christian sy kinders en die biddende Moslem-man pas sy pakkies op. . .

En die titel?

The Square is ’n “kunswerk” van Lola Arias wat soos volg tipeer word: “The Square is a sanctuary of trust and caring. Within it we all share equal rights and obligations.” En daardie YouTube-video rondom die bemarking van die kunswerk lei weer tot die media wat vrae stel – en niks wat Christian doen, kan red wat daar te redde is nie. Uiteindelik word hy beskuldig van selfsensuur wanneer hy bedank. (Hier wil die resensent nie alles verklap nie.)

Dalk ook ’n toespeling op die sêding ’n “square peg in a round hole” (vir iemand wat nie inpas nie).

Die markplein is immers die sentrum van ’n stad waar mense ontmoet. En die moderne markplein is YouTube wat hier tot 300 000 kykers in ’n ommesientjie haal.

Humor is daar – soos dit satire betaam. Kunsinstallasies bestaande uit sand word per ongeluk deur skoonmakers opgevee. Met Christian wat moet opmop – gelukkig is daar foto’s om alles te herstel na die “oorspronklike” vorm.

Dit is verfilm in Gothenburg, Stockholm en Berlyn. Dit is 157 minute van intellektuele en emosionele houe wat die regisseur uitdeel, verpak met puik spel van briljante akteurs.

Dit is ’n prent waarop Ingmar Bergman sou trots wees.

Gaan kyk dit. Dis ’n 5 uit 5.

The Square word net by die Labiateater in Kaapstad vertoon.

Meer oor:  Cannes  |  The Square  |  Goue Palm-Wenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.