Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Toorbos’ vir Oscars ingeskryf!

Dit is amptelik: Die regisseur René van Rooyen se Afrikaanse rolprent Toorbos gaan Suid-Afrika by die 2021 Oscars verteenwoordig.

Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF), wat jaarliks Suid-Afrika se inskrywing in die kategorie beste internasionale rolprent aanwys, het dié nuus Dinsdag op Twitter bekend gemaak.

“Geluk aan René van Rooyen se Toorbos, wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die kategorie beste internasionale rolprent by die 2021 Academy Awards is,” lui die twiet.

“Ons wens René en haar span alles van die beste. #LoveSAFilm #Oscars2021.”

Dit is vermoedelik net die derde keer – naas Katinka Heyns in 1997 met Paljas en Jann Turner in 2009 met White Wedding – dat Suid-Afrika ’n vroueregisseur se rolprent kies om die land op die wêreld se grootste rolprentverhoog te verteenwoordig.

Luidens 'n mediaverklaring het die NFVF benewens Toorbos en Flatland ook die Afrikaanse rolprente Fiela se kind, Stam en Wesens vir dié eer oorweeg.

René van Rooyen Foto: Argief

Van Rooyen sê aan Netwerk24 dit het haar ’n “paar uur geneem” om die nuus werklik te glo.

“Tot die vervaardiger die brief wat dit bevestig het, gestuur het, kon ek dit nie inneem nie,” sê sy.

“Ek is oneindig dankbaar vir die erkenning wat dit vir die vervaardigers (André Scholtz en Dries Scholtz), die akteurs en die rolprentspan gee – hulle het hul hart en siel in die projek gestort.

Toorbos ondersoek die belangrikheid om nie alleenlik ’n balans in die toutrek tussen die manlike en vroulike te vind nie, maar ook die dringende behoefte om ons gebroke wêreld deur middel van ons verbintenis tot die natuur heel te maak.

“Die rolprent word nou wêreldwyd onder die kollig geplaas. ’n Absolute droom het waar geword en ek hoop regtig haar vlerke sal nou vlieg.”

Die tydsberekening van dié aankondiging kon nie beter wees nie: Die rolprent, ’n grootskerm verwerking van die skrywer Dalene Matthee se laaste bosroman, is Vrydag landwyd in Suid-Afrika uitgereik – dít nadat die oorspronklike uitreikdatum in Mei vanjaar twee keer weens die Covid-19-pandemie aangeskuif moes word.

Elani Dekker en Stiaan Smith vertolk die hoofrolle in ‘Toorbos’. Ira Blanckenberg, Gretschen Ramsden, Clare Marshall en Ivan Abrahams is ook onder andere in die rolverdeling.

Die rolprent is reeds wyd deur resensente geloof, ook hier op Netwerk24 waar Laetitia Pople dit met vyf sterre bekroon het.

“Sy (Van Rooyen) het ’n rolprent geskep met ’n eie magie – dit is te vind in die besonderse storie, die kinematografie, die unieke karakters, uitstekende spel van ál die akteurs en in haar diep, sensitiewe ontginning van die temas van Dalene Matthee se geliefde bosroman,” het Pople in haar resensie geskryf.

“Dit voel outentiek, dit is ’n projek wat met integriteit en met sorg aanmekaargesit is. Dit wys in elke ‘raampie’.”

Toorbos is vermoedelik Suid-Afrika se 17de inskrywing vir die Oscars sedert 1989. Oliver Schmitz se Life, Above All (in 2010) en John Trengove se Inxeba (2017) het albei die kortlys gehaal wat in die kategorie beste internasionale rolprent opgestel word nadat al die inskrywings beoordeel word.

Darrell Roodt se Yesterday het in 2005 die topvyf gehaal en ’n Oscar-benoeming ontvang – terwyl Gavin Hood se Tsotsi in 2006 die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing is wat tot op hede die goue beeldjie kon wen.

Meer oor:  Gavin Hood  |  Dalene Matthee  |  Inxeba  |  Stam  |  Wesens  |  Fiela Se Kind  |  Flatland  |  Katinka Heyns  |  Nfvf  |  Nasionale Rolprent-En-Video-Stigting  |  Toorbos  |  Flieks  |  Academy Awards  |  Oscars  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.