Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Toorbos’ se akteurs praat ‘horisontaal’
Elani Dekker as Karoliena Kapp op die stel van die fliek Toorbos, wat in rolprentteaters te sien is. Foto: Fathom Media

Die fliek Toorbos is op baie mense se lippe, maar dit was nie ’n maklike taak om die akteurs se tonge daarvoor voor te berei nie.

Dit het drie maande se harde werk gekos voordat hulle soos Knysna-bosbewoners van die 1930’s en 1950’s geklink het.

“Jitte, dit was moeilik,” sê Elani Dekker, een van die hoofrolspelers. “Dit het nie gehelp om net ’n kopskuif te maak nie. Ek moes dit inoefen totdat jy gewoond raak daaraan.

“Vir my is die aksent vreeslik mooi omdat dit misterieus is, amper soos die Knysnabos, dis baie magies. Terselfdertyd het dit nie na ’n vreemde taal geklink nie en ’n mens kan verstaan dat dit deel is van ons geskiedenis.”

In die fliek, gegrond op Dalene Matthee se gelyknamige bosroman, speel Dekker die rol van Karoliena Kapp. Dié raak verlief op die dorpenaar Johannes Stander (Stiaan Smith), ’n suksesvolle sakeman wat haar wegneem van haar armoedige bestaan. Tog voel sy ingehok in die dorp en verlang sy na die bos. Boonop moet sy dan veg vir die voortbestaan van die bos en sy mense.

Die fliek is die afgelope week gekies as Suid-Afrika se kandidaat vir volgende jaar se Oscars in die kategorie vir beste buitelandse rolprent.

Elani Dekker
Elani Dekker moes ’n spesiale dialek aanleer vir die tipe Afrikaans wat die Knysna-bosbewoners in die 1930’s gepraat het. Foto: Fathom Media

Dekker het ’n studiestuk by die Universiteit Stellenbosch ontdek wat haar en haar medeakteurs met die dialek gehelp het.

Prof. Marth Munro van die Universiteit van Pretoria se dramadepartement sê: “Ek was deel van ’n span wat die akteurs gehelp het en die regisseur, René van Rooyen, het ook met bestaande boswerkers gepraat en vir ons video’s gewys. Die mense het baie aards en na aan die bos en grond geleef om hul daaglikse brood te verdien. Hoe ’n mens leef beïnvloed hoe jy praat.”

Sy sê die klank is “horisontaal”, menende daar is min ruimte tussen die bo- en die ondertande wanneer hulle praat. Die klanke vibreer ver agter teen die harde deel van die verhemelte en nie voor, soos wanneer ’n mens duideliker artikuleer nie.

“Daar was ook baie assimilasie en eindkonsonante, soos ’n ‘r’ is uitgelaat. Volume en lengte van vokale is ook eerder gebruik om klem te lê op woorde of frases as toonhoogte,” sê Munro.

Vir Dekker was dit nie net die taal wat tydens die verfilming met haar “getoor” het nie. Sy en Smith het tydens die produksie op mekaar verlief geraak.

“Ek was en is net so gemaklik by hom en hy is een van die snaaksste en eerlikste mense wat ek al ontmoet het,” sê sy.

Meer oor:  Elani Dekker  |  Prof. Marth Munro  |  Aksent  |  Knysna-Bosbewoners  |  Toorbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.