Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Trump suur oor Oscars se top-rolprent van Suid-Korea
Die skrywer-regisseur Bong Joon-ho met twee van die vier Oscars wat sy rolprent ‘Parasite’ gewen het. Foto: Getty Images

Pres. Donald Trump van Amerika het (weer) sy mond uitgespoel oor die Oscars, dié keer omdat ’n Suid-Koreaanse rolprent die topprys op die glansgeleentheid gewen het.

Die skrywer-regisseur Bong Joon-ho se rolprent Parasite het op 10 Februarie die geskiedenisboeke herskryf toe dit die eerste rolprent met ’n nie-Engelse dialoog geword het om die Oscar vir beste rolprent te wen.

Dít het Trump duidelik nie geval nie. Reuters en CNN berig Trump het Donderdag op ’n politieke saamtrek in Colorado Springs dié keuse bevraagteken en gesê hy verlang na klassieke Amerikaanse rolprente.

“Hoe sleg was die Academy Awards vanjaar, het julle gesien?” het Trump vir ’n skare gevra.

“En die wenner is . . . ’n rolprent van Suid-Korea? Wat de duiwel het daar gebeur? Ons het met handel genoeg probleme met Suid-Korea, nou gee hulle (die Oscars) boonop vir hulle die prys vir beste rolprent van die jaar?”

Trump sê hy sou eerder flieks soos Gone With the Wind, wat die Oscar in 1940 gewen het of Sunset Boulevard wil sien, hoewel hy ook erken het hy weet nie of Parasite goed is nie.

“Ek het gedink dit is (net) die beste buitelandse rolprent – maar nee, dit is die beste. Het dit al ooit gebeur?”

Die antwoord op Trump se vraag, is nee. Benewens die topprys het Parasite ook die eerste rolprent geword om die Oscar vir beste internasionale rolprent én beste rolprent te wen. Daarby het Bong Joon-ho die Oscar vir beste regisseur gewen en hy het die prys vir beste oorspronklike draaiboek met Han Jin-won gedeel.

Ek was nooit ’n groot aanhanger van hom (Brad Pitt) nie. Hy het opgestaan en ’n klein wysneusstelling gemaak. Klein wysneus, hy’s ’n klein wysneus.
Donald Trump

Trump het ook sy mes in gehad vir die akteur Brad Pitt wat die Oscar vir beste byspeler vir sy rol in Once Upon a Time . . . in Hollywood gewen het. Pitt het in sy toespraak ’n grap gemaak oor die verhoor in die senaat wat Trump uit die kussings kon lig.

“Ek was nooit ’n groot aanhanger van hom (Pitt) nie,” sê Trump.

“Hy het opgestaan en ’n klein wysneusstelling gemaak. Klein wysneus, hy’s ’n klein wysneus.”

Trump se woordevloed was oor die jare heen die soveelste wat hy oor die Oscars uitgespreek het.

In 2014 het hy die spoggeleentheid in twiets as “vervelig” en “aaklig” beskryf. In die daaropvolgende jaar het hy dit ook in ’n twiet as ’n “hartseer grap” afgemaak – en toe die Mexikaanse regisseur Alejandro G. Inárritu die prys vir beste regisseur wen, het hy die geleentheid ook gebruik om Mexiko by te kom.

“Dit was ’n ongelooflike aand vir Mexiko by die Oscars, en hoekom nie – hulle kul die VSA meer as amper enige ander land,” het hy toe getwiet.

In 2018, toe hy reeds president was, het hy ook getwiet: “Die kleinste kykertal vir die Oscars in die geskiedenis. Die probleem is, ons het nie meer sterre nie – behalwe jul president (grap net, natuurlik)!”

Neon, die verspreider van Parasite in Amerika, het intussen op Trump se jongste tirade reageer en met verwysing na sy kritiek én die rolprent se Engelse onderskrifte grappenderwys getwiet: “Dit (Trump se kritiek) is te verstane. Hy kan nie lees nie.”

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Oscars  |  Donald Trump  |  Trump  |  Bong Joon-Ho  |  Flieks  |  Parasite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.