Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Tuinroete kry weer inryteaters

Inryteaters, daar waar die hele gesin soos sardientjies in die motor ingepak is vir Vrydag- of Saterdagaand se doublebill-fliekplesier, is terug, of minstens in die Tuinroete.

Dit het reeds die afgelope paar maande oorsee sy terugkeer gemaak – mense kan te midde van die Covid-19-pandemie in die veiligheid van hul motors die jongste flieks op die grootskerm kyk.

Tog is dit nie net danksy nostalgie nie, dit is oorsee ’n poging om weens die pandemie, wat rolprentteaters onbepaald toegemaak het, steeds ’n inkomste te kan maak uit vertonings.

Inryteaters is hierdie komende lente deel van die Garden Route International Film Festival (GRIFF), wat van 21 September tot 11 Oktober aangebied word in “inryteaters” langs die Tuinroete. Die rolprente sal ook aanlyn beskikbaar wees.

“In die lig van die Covid-19-pandemie moes ons ons konsep op kort termyn aanpas om te verseker dat die fees (voorheen die Knysna-rolprentfees) kan voortgaan. Daarom bring ons inryteaters terug na ’n paar dorpe aan die Tuinroete en neem ons ook ons fees aanlyn, sê Patrick Walton feesdirekteur van GRIFF.

Inryteaters gaan ingerig word op Riversdal, Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai, Calitzdorp, Ladysmith en Oudtshoorn, en so word nuwe plaaslike en internasionale flieks beskikbaar gestel aan fliekvlooie terwyl sosiale distansiëring gehandhaaf kan word.

Die nostalgie van die inryteater herleef hierdie lente aan die Tuinroete.

“Ons het reeds die skerms en toerusting. Die klank sal soos van ouds deur die motorradio beskikbaar wees en op groot luidsprekers,” sê Walton.

Hy onderhandel met die munisipaliteite en die eienaars van geskikte ruimtes en velde in die gebiede. ’n Span het verlede week die dorpe besoek om geskikte plekke te vind.

Indien die inperkingsmaatreëls oor Covid-19 aangepas word kan dit ook vir die inryteaters verander word. Al die beplanning is reeds gedoen, dit kan byvoorbeeld beteken dat koswaentjies beskikbaar is by die teaters, as die beperkings dit toelaat. “Ons sal graag kelners op rolskaatse wou belowe om dit werklik ’n nostalgiese ervaring te maak, maar wie weet. Dalk kom dit in die toekoms.”

Die plan is om twee rolprente vir twee aande in elk van die bogenoemde dorpe in die inryteaters te wys.

Rolprente (plaaslik en internasionaal) gaan vertoon word, sowel as ’n ouer “oldy but goodie”.

Die tweede rolprent sal ’n gesinsrolprent wees, sê Walton.

Die organiseerders verwag dat die kaartjies gesog gaan wees omdat dit beperk is tot 60 motors.

Ná die fees hoop die organiseerders om voort te gaan met die inryteaters en so die geleentheid vir individue in die dorpe te skep om ’n onderneming met die vertonings te ontwikkel.

“Ons wil graag een maal ’n maand so ’n vertoning aanbied en dan meer in Desember.”

Kaartjies word ’n maand voor die tyd verkoop.

“Ons wil hê mense moet hierdie vorm van sosialisering geniet en die tye onthou toe dit ’n hoogtepunt vir gesinne was.”

Meer inligting is beskikbaar op die fees se webblad. Die program word later bekend gemaak.

Besoek www.gardenrouteinternationalfilmfestival.com

Meer oor:  Tuinroete  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.