Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Twee SA’ners maak dokkie-debuut op Sundance
’n Greep uit 'Influence', die Suid-Afrikaanse dokumentêr oor die Bell Pottinger-sage wat volgende maand op die Sundance-fees in die VSA vertoon word.

Die rolprentmaker en joernalis Richard Poplak en Diana Neille is die eerste Suid-Afrikaanse regisseurs wat vir die World Cinema-kompetisie vir dokumentêre rolprente op Sundance-rolprentfees in Amerika aanvaar is.

Hul vollengte-dokumentêre prent, Influence, sal volgende maand in Utah op die fees gesien word. Dit handel oor die oopvlek van die opspraakwekkende Bell Pottinger-debakel.

Nog ’n sege vir Suid-Afrika is die deelname van This Is Not a Burial, It’s a Resurrection aan die World Drama-kompetisie op die fees.

Influence spruit uit die #GuptaLeaks, ’n magdom e-posse wat ’n span van die plaaslike Daily Maverick, amaBhungane en News24 ondersoek het.

In 2017 kon hulle bekend maak dat die skakelmaatskappy Bell Pottinger ’n rasverdelende veldtog tot voordeel van die berugte Gupta-familie en oudpres. Jacob Zuma gevoer het.

Druk deur die media, die burgerlike gemeenskap en opposisie-politici het dié eens onaanvegbare multinasionale maatskappy genoodsaak om sy deure te sluit.

Vir dié 80-jarige weduwee in die fliek 'This Is Not a Burial, It’s a Resurrection' voel haar verskuiwing van haar voorvaders se grond af soos die dood.

“Ons het die gebeure tot die droesem van geopolitieke beeldpoetsery gevolg en op die ‘vingerafdrukke’ van lord Timothy Bell, stigter van Bell Pottinger, afgekom,” sê Neille.

“Invloed en breinspoeling wat die sogenaamde post-waarheid-era tot stand gebring het, kan net verstaan word as ’n mens die storie van die begin af vertel. Dit gee duidelikheid oor die konteks waarin talle demokrasieë nou voortstrompel.”

Influence, ’n gesamentlike produksie deur Suid-Afrika en Kanada, is volgens die rolprentmakers ’n “unieke Afrika-narratief in die sentrum van ’n globale debat oor ’n wêreld waar feit en fiksie uitruilbaar geword het, of soos Leonard Cohen dit gestel het, dat die lig by krake inkom, ” sê die vervaardiger, Neil Brandt.

This Is Not a Burial gaan oor ’n 80-jarige weduwee, een van die inwoners van ’n dorpie in Lesotho wat hervestig moet word omdat ’n dam daar naby gebou gaan word.

Die weduwee het haar verset omdat sy haar huis en die begraafplaas waar haar familielede ter ruste gelê is, wou beskerm.

Dit is die gevolg van die Hoogland-projek wat Suid-Afrika in Lesotho gevestig het om hidro-elektriese krag aan dié bergkoninkryk en terselfdertyd water aan Suid-Afrika te verskaf.

Volgens die regisseur, Lemohang Mosese, is die fliek gegrond op ware gebeure wat in Lesotho afgespeel het en beeld die veerkragtigheid van die mens se gees uit.

Die bou van nog opgaardamme die afgelope drie dekades het duisende inwoners ontheem.

“Die mense het nie net hul lewenswyse verloor nie, maar ook hul individuele en kollektiewe identiteit. Wanneer jy so diep gewortel is in die land van jou voorvaders, is só iets ondenkbaar. Die mense met wie ek onderhoude gevoer het, vergelyk dié hervestiging met die dood,” sê Mosese.

It’s not a Burial se wêreldpremière was vroeër vanjaar in Venesië. Die spelers is Mary Twala Mhlongo, Jerry Mofokeng (Wa Makhetha), Makhaola Ndebele, Tseko Monaheng en Siphiwe Nzima. – LA Times, Variety.com, Sundance Film Festival-webblad

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.