Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Uiteenlopende vermaak vir fliekvlooie
Jamie Lee Curtis in die moordraaiseldrama Knives Out.

Vandeesweek begin ’n hele paar nuwe rolprente in verskillende genres, waarvan meer as een by fliekvlooie byval behoort te vind. Boonop begin die Europese rolprentfees in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad se Cinema Nouveau-teaters.

* Oorsese resensente besing die moordraaisel Knives Out as ’n lekkerte van begin tot einde.

Die skrywer en regisseur Rian Johnson is geïnspireer deur die meester van dié genre, Agatha Christie.

Die fliek handel oor die skrywer Harlan Thrombey (Christopher Plummer) wat sy uitgebreide familie nooi vir ’n partytjie om sy 85ste verjaardag te vier. Die volgende oggend word Thrombey dood aangetref. Die speurder Benoit Blanc (Daniel Craig) verskyn op raaiselagtige wyse op die toneel en begin die een ná die ander familielid uitvra. Hy krap ou wonde oop en familiegeheime word só blootgelê. Jamie Lee Curtis, Toni Collette en Don Johnson is deel van die rolverdeling. Die ouderdomsperk is 16 vir dwelms, taal en geweld.

* Die akteur, omroeper en beroepstoeier John Cena speel die hoofrol in die gesinsfliek Playing with Fire. Dit handel oor ’n klompie brandbestryders wat ná ’n ongeluk moet omsien na drie kinders wat van hul ouers geskei is. Die manne het omtrent hul hande vol. Ouerbegeleiding word aanbeveel.

Helen Mirren en Ian McKellen vertolk die hoofrolle in die riller The Good Liar wat in Londen afspeel.

* Die swaargewigte Helen Mirren en Ian McKellen span hul kragte saam vir die misdaadriller The Good Liar. McKellen is Roy Courtnay, ’n geharde misdadiger wat sy prooi goed kies: welgestelde weduwees. Hy ontmoet Betty McLeish (Mirren) en hulle kom goed oor die weg, maar dit word gou ’n kat-en-muis-speletjie, wat gevaar en onheil voorspel. Dit is die eerste keer dat Mirren en McKellen, twee van Brittanje se beste akteurs, saam in ’n rolprent is. Die regisseur is Bill Condon. Die fliek speel in Londen af. Oorsese resensente loof die spel van die veterane, maar is nie so opgetrek met die voorspelbare storielyn nie. Die ouderdomsbeperking is 16 vir taal, seksuele geweld en geweld.

* 21 Bridges is ’n aksiebelaaide misdaaddrama wat pas op die Jozi-rolprentfees vertoon is waar dit goed ontvang is. Dit handel oor ’n speurder in die New Yorkse polisiediens wat warm op die spoor is van twee jong mans wat polisielede vermoor het. Hy kom egter gou agter dat daar op hom ook jag gemaak word. Chadwick Boseman bekend om Black Panther vertolk die hoofrol. Die regisseur is Brian Kirk. Die ouderdomsbeperking is 16 vir taal, geweld en dwelms.

* Couples’ Night handel oor ’n paartjie wat pas na Washington DC verhuis het. Hulle ontmoet hul bure en dink dat daar ’n kosbare vriendskap gesmee is. Tog blyk dit nie die geval te wees nie. Dit is ’n romantiese komedie met ’n paar kinkels. Die plattelandse paartjie word afgespeel teen die stedelinge en hul ander lewensuitkyk. Die regisseur is Mark Harris. Die ouderdomsperk is 13 vir taal.

* Rolprente van Oostenryk, Frankryk, Portugal en Spanje wys op die Europese rolprentfees. Sien berig hiernaas.

Meer oor:  Knives Out  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.