
Guy en Epp raak al hoe meer geheg aan mekaar in die ‘The Croods: A New Age’ wat van Vrydag in rolprentteaters wys.
Fliekvlooie kan teruggaan na die prehistoriese tyd en vorentoe skiet na Tokio in die toekoms danksy vandeesweek se drie uitreikings in die rolprentteaters.
• The Croods 2: A New Age. Soos die wêreld al hoe gevaarliker raak en roofdiere al hoe hongerder, moet die prehistoriese Crood-gesinnetjie ’n veilige blyplek kry.
In die vervolg op die gewilde animasiefliek ontdek hulle ’n klein paradys, dit lyk op die oog af veilig. Maar soos die noodlot dit wil hê, is ’n mens nooit alleen in die paradys nie en is daar mos altyd ’n slang op besoek.
Die Bettermans-gesin was eerste daar, en soos hul naam verklap, is hulle beter in álles. Is hulle dalk ook hoër op die evolusieleer?
Die spanning loop vinnig hoog – pa Crood (Nicolas Cage) is mos baie mededingend en Ouma het nou nie die beste maniere nie. Daar kom ook ’n bedreiging uit ’n ander oord, soos dit maar daardie tyd was. Tog blom die liefde tussen die jong paartjie Guy en Epp. Die stemkuns van Ryan Gosling kan gehoor word as Guy en Emma Watson as Epp.
Die resensent van The New York Post gee dit drie sterre en meen dit het nie dieselfde trefkrag as die eerste fliek nie, tog bied dit aksie en avontuur vir die kleinspan. Genoeg rede om dit jou vakansiefliek te maak.

Mel Gibson is te sien as die ware Kersvader in die komiese Kersfliek ‘Fatman’.
• Die eertydse aksieheld Mel Gibson is te sien in Fatman, wat as ’n agterstevoor Kersfliek beskryf kan word. Hy is Chris Cringle, wat ook diens doen as die ware Kersvader (ja, die een wat in die Noordpool bly en ’n spul elwe as werkesels het).
Sy besigheid is aan die kwyn en hy smee ’n vennootskap met die Amerikaanse weermag. Dit was ’n slegte idee. Al is hy depressief en raadop met kinders wat nie meer in hom glo nie, moes hy dalk eerder ’n ander plan gemaak het. Sy lewe versuur nog verder as daar ’n sluipmoordenaar op sy spoor kom. Dié wrede karakter is gehuur deur ’n 12-jarige seuntjie (Chance Hurstfield) wat die hoenders in is. Al was hy baie soet, het Kersvader net vir hom ’n stuk steenkool in sy Kerskous gelos.
The New York Times meen die komedie is net so donker as wat dit deurmekaar is, en die boodskap is ook soek.
• ’n Gerestoureerde weergawe van die animasierolprent Akira wat uit 1988 dateer, kan in 4K gekyk word by IMAX. In sekere teaters word dit ook in 2D vertoon. Die fliek is in die oorspronklike Japannees en word met byskrifte uitgereik. Dit speel in Tokio in die toekoms af en handel oor ’n geheime militêre projek wat skeefloop en ’n psigopaat wat dreig om als en almal uit te wis. Dit blyk dat net twee tienerseuns in sy pad staan.