Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Van boek tot silwerdoek’ op RSG bied staaltjies, blik op proses

Skrywers se reaksie op flieks wat op hul boeke gegrond is en ander staaltjies word gedeel in die reeks Van boek tot silwerdoek wat Donderdag op RSG begin.

Ilse Salzwedel

Die omroeper Ilse Salzwedel, onder meer aanbieder van Skrywers en boeke op dié radiostasie, gesels in die 13 episodes met die skrywer en fliekresensent Leon van Nierop oor boeke soos Gone with the Wind, The Great Gatsby en Out of Africa se fliekweergawes. Elke week fokus hulle op ’n ander boek. Elke episode sluit grepe uit die fliek se klankbaan in en soms klank uit ’n sekere toneel in die fliek.

In sommige gevalle was die boek ’n topverkoper, in ander was die fliek ’n lokettreffer.

In die eerste episode gesels Van Nierop oor die proses van die verwerking van ’n boek na ’n draaiboek.

“Omdat Leon self ’n skrywer is wie se werk al verfilm is, het hy eerstehandse ervaring hoe dinge werk,” sê Salzwedel.

“Maar Leon deel ook verskeie voorbeelde en heerlike staaltjies uit verskeie internasionale rolprente oor hoe ’n boek ’n draaiboek word, en hoe skrywers oor die eindproduk voel. Daar is baie slaggate wat met die verwerking na ’n rolprent opduik. Op watter karakter moet die fokus val? Hoe gemaak met ’n eerstepersoonverteller? “Boonop is dit dikwels onmoontlik om die hele storie in 90 minute of twee ure te vertel, en moet die regisseur en draaiboekskrywer ’n aspek kies waarmee die skrywer nie noodwendig saamstem nie. Leon gee in elke program ’n kort oorsig oor die fliek en interessanthede wat daarop betrekking het.”

Leon van Nierop

Salzwedel kies gewoonlik om net die boek of net die fliek te kyk.

“As ek reeds die boek gelees het, gaan kyk ek nie sommer na die rolprentweergawe van die storie nie. Dit het nog altyd vir my tot teleurstelling gelei – die prentjie wat ’n mens in jou kop geskep het van ’n plek of ’n karakter verskil altyd van die fliek s’n. Ek weet daar is mense wat albei doen en dan graag die twee weergawes vergelyk, maar ek is nie een van hulle nie. Daarvoor is die lewe te kort met te veel boeke om te lees en flieks om te sien.”

Sommige boeke was betreklik onbekend, maar die rolprentweergawes het groot gehore gelok.

“Mooi musiek en interessante stories rondom die boek of rolprent gee vir my die deurslag wanneer ek besluit waaroor om ’n program te maak.”

In die eerste episode is Margaret Mitchell se roman Gone with the Wind onder die loep.

Die regisseur Victor Flemming se rolprentweergawe hiervan het van Vivien Leigh ’n ster gemaak.

In die tweede episode kom Steven Spielberg se fliek Schindler’s List, gegrond op Thomas Keneally se roman Schindler’s Ark, aan die beurt. Dit is gegrond op ’n ware verhaal.

“In die episode oor The Notebook gaan ek bietjie wyer kyk na die werk van Nicholas Sparks, van wie daar verskeie romans verfilm is. The Great Gatsby en Out of Africa is ook op my lysie, en ook iets uit die pen van Stephen King, oor wie se boeke daar al verskeie flieks gemaak is. Ek glo daar sal iets vir elke smaak wees.”

Van boek tot silwerdoek word Donderdae om 20:30 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Rsg  |  Ilse Salzwedel  |  Leon Van Nierop  |  Boeke  |  Flieks  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.