Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Van drama, avontuur tot moord
’n Toneel uit die rolprent ‘Peter Rabbit 2: The Runaway’.

’n Moslem-gesinsdrama wat op die Kaapse Vlakte afspeel, ’n nuwe avontuurrolprent oor die stout hasie Peter en die negende aflewering in die grieselrige Saw-reeks haal vandeesweek die rolprentkringloop in rolprentteaters landwyd.

Barakat, wat “seëninge” in Arabies beteken, is ’n gesinsverhaal wat vir ’n verandering die fokus verskuif van dwelmhandel, bendes en geweld op die Kaapse Vlakte. Die draaiboekskrywer en regisseur Amy Jephta sê dit fokus ook ’n blik op die Moslem-kultuur.

Die familie ter sprake is die Davidse, wat bestaan uit die matriarg, Aisha, haar vier seuns en hul vroue. Twee jaar ná die dood van Aisha se man moet sy steeds probeer om die vrede tussen die vier broers te bewaar. Alles kom tot ’n punt wanneer die gesin Eid al-Fitr vier, oftewel Labarang. Dit kondig die einde van die maand lange Ramadaan aan, waar Moslems van dagbreek tot sononder vas. Onder die spelers tel Vinette Ebrahim, Quanita Adams, Leslie Fong en June van Merch.

  • Chris Rock en Samuel L. Jackson is te sien in die negende aflewering van die Saw-reeks rolprente. Dit is getiteld Spiral: From the Book of Saw. Resensente waarsku dat dié twee se betrokkenheid nie beteken dat dit ’n beter rolprent as die res in die reeks is nie. Nou het die rolprentmakers werklik niks meer om uit die mou te skud nie, meen hulle.

’n Reeks moorde hou speurder Ezekiel (Zeke) Banks (Rock) en sy jonger vennoot (Max Minghella) besig. Dit blyk dat dit nie “gewone” moorde is nie, maar dat daar ’n vreemde verbintenis met hul stad se grusame verlede is. Tog het almal vir seker gesien dat die reeksmoordenaar Jig­saw sy einde gesien het, dan nie? Dit blyk ook dat die moordenaar ’n spesiale belangstelling in Zeke het. Die gladdemond Zeke het ook ’n rits persoonlike probleme, soos sy mislukte huwelik en ’n verlede wat hom steeds onrustig stem. Die regisseur is Darren Lynn Bousman.

Peter Rabbit 2: The Runaway is gegrond op die gewilde kinderverhaal van Beatrix Potter. Dit volg die dapper, stout en onbeholpe haas Peter.

Bea (Rose Byrne) en Thomas (Domhnall Gleeson) het nes geskop saam met die hasies in hul prentjiemooi kothuis en ewe mooi tuin. Tog kriewel Peter­ se kwasstert. Hy dink hy is die spreekwoordelike swartskaap in die geluksalige opset en is nie naastenby so belangrik in die saamgestelde gesin van mense én hasies nie. Hy kies die hasepad by die tuinhek uit die groot en gevaarlike wêreld in, waar die buurman se tuinhark die minste gevaar vir hom inhou. Hy het wel nie rekening gehou met sy gesin se liefde en besorgdheid oor hom nie.

Die regisseur is Will Gluck. Spelers sluit ook in David Oyelowo­ en Margot Robbie. Peter­ se stemkuns is deur James­ Corden. – Laetitia Pople

Meer oor:  Rolprente  |  Barakat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.