Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Venesiese fliekfees 1ste wat Covid-19 nie pootjie
Frances McDormand vertolk die hoofrol in “Nomadland”.

Die 77ste Venesiese rolprentfees, wat aanstaande maand in die historiese waterstad aangebied word, is die eerste groot fliekgebeurtenis van die jaar wat nie deur die Covid-19-pandemie verongeluk is nie.

’n Kleiner weergawe van die fees, die oudste fliekfees in die wêreld, word van 2 tot 12 September aangebied. Daar sal ’n kleiner Hollywood-glansteenwoordigheid wees en geen groot Amerikaanse lokettreffers is op die spyskaart nie. Internasionale reise is steeds beperk en Italië het pas uit sy inperking begin kom.

Al vanjaar se groot feeste soos die Cannes-fees in Frankryk en Tribeca in New York is vroeër afgelas en virtuele weergawes is aangebied. Die Toronto-filmfees, wat van 10 tot 19 September aangebied word, is ook virtueel met net ’n paar vertonings vir gehore terwyl rooitapyt-gebeure en nuuskonferensies aanlyn geskied.

Sosiale distansiëring en sterker veiligheids- en higiënemaatreëls sal vanjaar in Venesië toegepas word, berig The Hollywood Reporter verder,

Vanessa Kirby en ’n medester op die stel van “The World to Come”.

Vanjaar maak die werk van vroueregisseurs 44% uit van die prente (agt van die 18) wat in kompetisie vertoon word, berig IndieWire. Die twee groot ateljeeprente wat om die Goue Leeu meeding, is deur vroue geregisseer. Twee vroue wat diep spore in die internasionale filmbedryf getrap het, word ook op die fees vir hul lewenswerk vereer. Hulle is die Hongkongse regisseur Ann Hui, wie se jongste prent, Love After Love, ook op die fees vertoon word, en die Skotse aktrise Tilda Swinton, wat vir haar eksentrieke en eklektiese benadering tot haar rolkeuses bekend is.

*Die een groot ateljeeprent wat in die Lido gaan pronk, is Nomadland, ’n roadmovie met Frances McDormand van die Chinese regisseur Chloé Zhao. Dit is gegrond op die niefiksieboek Nomadland: Surviving America in the Twenty First Century deur Jessica Bruder. Dit handel oor ouer Amerikaanse werkers wat die VSA ná die 2007-2009 inkrimping deurkruis met ’n woonwa om werk te soek. David Strathairn speel teenoor McDormand. Die prent kry baie aftrek en gaan ook in September op die rolprentfees in Toronto wys, asook op die New Yorkse filmfees. Daar word ook ’n inryteater-geleentheid daarvoor in Los Angeles beplan.

*Die ander groot Amerikaanse ateljeeprent is die intieme drama The World to Come van die regisseur Mona Fastvold met Casey Affleck en Vanessa Kirby in twee van die hoofrolle. Dit speel af in die negentiende-eeuse ongenaakbare landskap waarin twee pionier-paartjies hul bes probeer om te oorleef. Katherine Waterston en Christopher Abbott vertolk die ander hoofrolle. Affleck is ’n vervaardiger van die prent.

*Ander prente in kompetisie is onder meer: Die Venesië-veteraan Amos Gitai met Laila in Haifa, wat gaan oor een aand in die Israelse hawestad Haifa, waar die lewens van vyf vroue se lewens blootgelê word (met die Russiese regisseur Andrei Konchalovsky); Dear Comrades, wat handel oor ’n vrou wat ontgogel word deur die kommunistiese bestel toe die owerhede deelnemers aan ’n straatprotes gewelddadig aanval; die Iranse rolprentmaker Majid Majidi se nuwe prent, Sun Children, wat fokus op ’n 12-jarige seun en sy drie vriende wat moet werk om hul gesinne te onderhou (Majidi is bekend om die veelbekroonde Children of Heaven); die Indiese regisseur Chaitanya Tamhane se The Disciple, wat handel oor ’n Indiese musiekstudent wat die streng tradisies en dissipline van die ou meesters volg om homself as ’n vooraanstaande musikus te vestig; en die Duitse regisseur Julia Von Heinz se politieke drama And Tomorrow the Entire World, wat handel oor ’n jong student wat aansluit by ’n anti-facistiese-beweging nadat Duitsland deur verskeie rasgegronde terreuraanvalle geteister word.

Die Australiese aktrise Cate Blanchett lei die internasionale jurie wat oor die wenprente beslis. Onder die mense op haar paneel is die Britse regisseur Joanna Hogg, die Oostenrykse filmmaker Veronika Franz, die Duitse

Jim Broadbent en Helen Mirren in “The Duke”.

regisseur Christian Petzold en die Franse aktrise Ludivine Sagnier.

Onder die prente wat buite die kompetisie draai, is Roger Michell, die regisseur van Notting Hill-faam se misdaadkomedie, The Duke met Jim Broadbent en Helen Mirren en die dokkie Greta van die regisseur Nathan Grossman, wat handel oor die Sweedse klimaataktivis Greta Thunberg. Die fees open op 2 September met die prent The Ties (Lucci) van die Italiaanse regisseur Daniel Luchetti.

Nog ’n prent van belang is die dokkie Molecole, wat in Venesië ten tyde van inperking in die toeristestad geskiet is. Die regisseur is Andrea Segre.

– saamgestel deur Laetitia Pople uit Screen Daily, the Hollywood Reporter en Indiewire

Meer oor:  Venesiese Rolprentfees  |  Nomadland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.