Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Verbeel jou daar’s geen Beatles . . .

Yesterday met Himesh Patel en Lily James;

Regisseur: Danny Boyle 

****

Ly jy nog aan ’n sestigs-babelaas? Hier’s verligting! ’n Teruggryp na The Beatles se ikoniese musiek om jou kopseer te lawe!

So is daar onlangs beweer dat Hollywood voor ’n bus beland het. Tot en met Spider-Man: Far From Home het vervolge soos dooie kewers oor jou windskerm gespat.

Jobstroosters rou in purper en pienk oor “die einde van Hollywood”, want geen suksesresep werk meer nie.

Maar wag! Wat van ’n terugkeer na musiekprente? Hierdie huldeblyk aan The Beatles tokkel skynbaar weer op die regte snaar. Dit skakel in by die nuwe tendens om musiek-legendes te vereer en hul geskiedenis oor te vertel.

Dit het alles met Queen in Bohemian Rhapsody begin. Selfs A Star is Born het ’n dooie ster in ’n meteoriet verander, terwyl Bruce Springsteen weer in sy stywe jeans probeer inpas in Blinded by the Light, en Elton John sy verebolla laat ruk en rol in Rocketman.

Musiekspele het uit die mode geraak, maar hierdie flieks is ’n tussenin-allegaartjie – dit koppel nostalgiese treffers met ’n byderwetse aanslag aan ’n romantiese storie. Wetenskapfiksie is die verskoning, want om Yes­terday te waardeer, moet jy jou breinselle by die deur los.

’n Sukkelende musikant Jack (’n bedaarde Himesh Patel) is die regte ou op die regte tyd. Beurtkrag verlam die aarde 12 sekondes lank. In daardie tyd word alle tekens van The Beatles uitgewis.

Wanneer Jack herstel ná ’n ongeluk het hy sy voortande verloor, maar ’n skatkis van Beatles-liedjies geërf. Niemand weet nou wie The Beatles was nie, net hy.

Dus: wanneer Patel as Jack “Yes­terday” sing, luister sy vriende in vervoering. Gou besef Jack dat hy geld hieruit kan maak. Hy “komponeer” 17 van The Beatles se grootste treffers.

Dit plaas hom in die visier van ’n Hollywoodse staal-papawer, knap gespeel deur Kate McKinnon. Sy stel net belang in hoeveel huise sy gaan koop met die geld wat sy uit Jack maak.

Sy voel vere vir die musiek. “Ek is onseker oor wat my aan die komposisie pla,” mymer sy. Maar die lirieke en musiek, wat terugkom na Jack se geheue, oorweldig en verander hom. Nie net kom hy opnuut onder die indruk van genialiteit nie, sy gewete pla hom.

Nou ry die fliek wipplank tussen twee storiefonteine. Gaan Jack erken dat The Beatles eintlik die musiek geskryf het? Of gaan hy deel van Los Angeles se musiekbedryf raak, elke aand voor gillende meisies sing en ’n bietjie geld in sy sak steek? Maar wat het geword van eerlikheid? Eerbetoon? Respek vir ander se talent?

Nuwe flieks:

Child’s Play *

Nadat Annabelle se bloosgesiggie die kriewels deur jou gestuur het, speel Chucky/Buddi tweede viool. Onderspeelde grillers (Annabelle) maak plek vir die uitbundige viering van morsjors-geweld. Wanneer gruwels soos bloedige vlaterte in ’n slapstick-fliek rondgegooi word en met ’n vuis in jou oë gedruk word, raak jy geweldvoos. Die bloedbevlekte humor vol menseslagtings sluit aan by die eerste Child’s Play, maar die moordenaarspop se herkoms uit Viëtnam wil dit na diplomatieke oorlogswraak laat lyk! Grusaamheid raak eentonig, veral wanneer dit dieselfde tam storie oorvertel, ’n soort bloedige variasie op Toy Story se speelgoed.

Kings of Mulberry Street **

Dié dapper fliek onderskat sy gehoor. Twee koel laaities bevriend mekaar in ’n bedenklike woonbuurt waar rampokkers dwelms vir soetkoek verkoop, en dit stel eise aan vriendskapsbande. Maar die storie, wat nie eintlik op kinders onder 13 gemik is nie, raak dunner as ’n stertriempie, terwyl die regie eentonig is sonder verrassings. En die latere slapstick tref nooit die kol nie.

Danny Boyle weet hoe om hierdie twee blink stories met mekaar te verbind. Met ’n melankoliese hartseer wys hy hoe niets iets word, en hoe dit hom omkrap. Maar sal hy heeltemal verlei word deur die duiwel aan wie hy sy siel verkoop het? Sal hierdie moderne dr. Faustus betyds be­sin?

’n Mens gaan eintlik na die baldadige rolprent kyk omdat jy nostalgies wil raak. Elke Beatles-liedjie sal volwassenes seker laat terughunker na daardie oomblik toe hulle The Beatles die eerste keer gehoor het. Ja, toe! Dink bietjie: Wanneer het jy “Let It Be” die eerste keer gehoor? En watter invloed het “The Long and Winding Road” op jou gehad toe jy dit uit volle bors saam met LM-radio se platejoggies gesing het?

En dan steek romanse ook kop uit in die vorm van die pragtige Lily James. Sy het Jack lief vir die eerlike bleeksiel wat hy is. Nie die super-popster wat soos ’n psigedeliese skoenlapper uit sy kokon wikkel nie.

En wanneer ’n skoenlapper eers vlerke gekry het, kan jy hom ooit weer vang? Lekker dilemma!

Die tergendste vraag is egter: Sal die moderne geslag, wat gek is oor Miley Cyrus, die Jonas-broers en Taylor Swift, hoegenaamd deur The Beatles se musiek geraak word? Laat staan nog ontroer word?

Neem jou kinders saam na die vrolik-hartseer fliek en kyk hoe hulle reageer.

Yesterday vra: Is daar nog ’n plekkie vir integriteit en eerlikheid in die glansryke vermaaklikheidsbedryf? En hoe verander roem ’n mens?

  • Kinders tussen 10 en 12 moet deur volwassenes vergesel word weens taalgebruik en tonele van dwelms.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.