Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Verfilming uitgestel ‘ná trok met kostuums gesteel is’
Die verfilming van die fliek The Madonna of Excelsior is Sondag vir eers gestaak. Foto: Verskaf

Die verfilming van die fliek The Madonna of Excelsior, wat vroeg in Februarie te midde van groot opwinding oor die ekonomiese inspuiting vir dié Vrystaatse dorp begin het, is skielik uitgestel.

Dr. Maboreng Maharaswa, besturende direkteur van St. Francis Films, wat die fliek vervaardig, sê hul trok vol kostuums vir die akteurs is Donderdag gesteel en daarom kan hulle nie nou voortgaan nie.

“Die akteurs het toe niks om op stel te dra nie en ter wille van kontinuïteit moes ons vir eers halt roep.”

Die fliek is geskoei op die skrywer Zakes Mda se boek en handel oor die ontugskandaal in die 1980’s waarby vier boere van die dorp betrokke was.

Volgens Maharaswa is ’n klag van diefstal ingedien en het sy die saaknommer.

Die polisie en ander betrokkenes stem egter nie hiermee saam nie. Brig. Sam Makhele, provinsiale woordvoerder, sê daar is nie so ’n klag ingedien nie.

Stoffel Smith van Spartan Truck Hire het bevestig die betrokke vragmotor is Donderdag terugbesorg aan die tak in Centurion.

Een van die filmspanlede wat anoniem wil bly, sê die vragmotor is Donderdag terug na Johannesburg, “waar dit hoort”, nadat Maharaswa ingemeng het met die produksie en boonop nie betaal het vir die klere nie.

“Hierdie vrou het my geld geskuld. Toe sy my moes betaal, het sy nie.”

’n Rusie het gevolg toe dié persoon Maharaswa gekonfronteer het, en sy is glo uit hul plek van verblyf gesluit.

Een van die huise waar die verfilming plaasgevind het. Hier is die huis in Januarie afgeneem toe dit nog voorberei is vir die fliek. Foto: Mlungisi Louw

Maharaswa sê die vragmotor het niks met die afdanking van die betrokke filmspanlid te make nie.

“Sy is op 23 Februarie afgedank en moes Donderdag ’n oorhandiging doen.”

’n Inwoner van Excelsior, wat ook anoniem wil bly in die hoop dat die verfilming wel voltooi sal word, sê talle inwoners wat verblyf vir die filmspan bied, “moes baklei vir geld”.

“Toe ek hoor daar is probleme en die verfilming word gestop, was ek baie hartseer en vies. Geeneen van die werkers word betaal nie.”

Maharaswa, ’n kundige op die gebied van hoër onderwys in Bloemfontein, sê hulle het tot Sondag verfilm sover as wat hulle kon. Die kontrak wat sy met diensverskaffers soos verblyfplekke gehad het, het in elk geval geëindig, sê sy.

“Die eienaars wou geld nog ver ná 28 Februarie hê en ek kon nie instem daartoe nie.”

Sy hoop nou die vragmotor word opgespoor.

“Honderdduisende rande is daarmee heen en ons sal so gou moontlik die klere probeer terugkry.”

Mda, wat optree as medevervaardiger, het Dinsdag uit Ohio in Amerika gesê die produksie is geensins gestaak nie en dat dit bloot uitgestel is.

“Andersins sou dit ’n vermorsing van miljoene rande wees. Daar is slegs enkele tonele oor en hulle sal dit binnekort hervat.”

Meer oor:  Zakes Mda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.