Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Vermaak vir kleingoed

The Grinch

Michiel Jacobsz

Animasie, komedie, musiekblyspel

***

The Grinch is terug in sy soveelste inkarnasie sedert die eerste boek in 1955 uitgereik is.

Dr. Seuss-boeke gee al amper sewe dekades lank vrye teuels aan kinders en volwassenes se verbeelding, en vorm gewoonlik ’n fantastiese basis vir huisvlyt soos legkaarte en speelgoed, asook teaterproduksies en natuurlik flieks.

En so is The Grinch terug in sy soveelste inkarnasie sedert die eerste boek in 1955 uitgereik is – dié keer wéér op die silwerdoek, weliswaar in ’n kindervriendeliker formaat as die 2000-weergawe met Jim Carrey. Laasgenoemde weergawe het kinder-tjies nagmerries gegee en is in die algemeen bestempel as ’n relatief onindrukwekkende interpretasie.

Om ’n kinderboek van net meer as 30 bladsye in ’n vollengte fliek te verander, verg ’n bietjie kopkrap en lyf aan die karakters gee.

In die 2018-weergawe is Cindy Lou Who die oudste dogter van ’n ma wat baie hard werk. Vir Kersfees soek Cindy net ’n bietjie geluk vir haar ma. Die Grinch verlaat sy eensame bestaan in ’n grot op die berg Crumpet met slinkse planne om Kersfees en almal se vreugde daarmee saam te steel.

Enigiemand met ’n liefde vir Dr. Seuss behoort te weet hoe die storie gaan eindig, maar om die storie te rek na skrams onder ’n uur en ’n half kry ons gelukkig ’n paar nuwe karakters by, met veral een hoogtepunt. Die Grinch se stapelgek hond, Max, is sy enigste geselskap en die liewe, lawwe brak en die Grinch se vreemde kontrepsies is omtrent die lewensdraad van die hele fliek.

In die 2018-weergawe is Cindy Lou Who die oudste dogter van ’n ma wat baie hard werk.

Dié weergawe se animasiewerk is gedoen deur Illumination Studios, wat verantwoordelik is vir die Minions. Jy kan dus dieselfde soort karakters en uitvindsels verwag – by tye skreeusnaaks, maar nie heeltemal op dieselfde peil as ons geel maats nie.

Dit bly wel genotvolle vermaak vir die jonger gesinslede en die Grinch kry ’n geskiedenis by wat jou help om ’n bietjie simpatie vir die ou groen suurpruim te hê.

Ondanks Benedict Cumberbatch en Angela Lansbury (onder andere) in die stemrolverdeling bly dit slegs ’n fliek vir jonger kinders.

Die feit dat ’n mens amper met die Grinch assosieer as jy by ’n winkelsentrum instap en Kersliedere hoor, maak dit dalk ’n bietjie meer verteerbaar vir die ouer garde, maar op die ou end gaan die fliek enigiemand ouer as 13 moontlik net verveel.

Regisseurs: Yarrow Cheney en Scott Mosier. Musiek: Danny Elfman. Stemme: Benedict Cumberbatch (The Grinch), Cameron Seely (Cindy Lou Who), Rashida Jones (Donna Who). 86 minute.

Meer oor:  Dr. Seuss  |  Michiel Jacobsz  |  The Grinch  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.