Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Vier ’n ‘Boere-Krismis’ op die kassie hierdie Desember
A Boere-Krismis is een van die plaaslike prente in M-Net se gerf aanbiedinge vir die feestyd.

As jy ’n ruk gelede vir hom gesê het dat hy die regisseur van ’n feestelike prent op die kassie sou wees, sou hy lekker gelag het. Werk was bitter skaars en wel, hy sien homself nie só feestelik nie.

So vertel die regisseur Willem Grobler, bekend om die kortprent Hum, wat enkele jare gelede aandag getrek het op die kykNET Silwerskermfees. Hy het die kortprent, oor ’n man wat die gesuis in sy ore nie kan verdra nie, nou in ’n vollengteprent omskep en hoop om dit aanstaande jaar te verfilm.

“Dit was bitter stil op die werkfront, maar vandat ons vlak 2 (van die staat van inperking) bereik het, is daar skielik meer werk as wat ek nog ooit gehad het, so ek moet op die oomblik amper begin nee sê vir projekte, waaroor ek baie bly en verskriklik dankbaar is.”

Hy was besig om uit te reik na vervaardigers wat belangstelling getoon het in ’n nuwe projek van hom, onder andere Jaco Smit by Marche Media. Dié maatskappy is verantwoordelik vir prente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie, ’n Ander mens en Die seemeeu.

“Die dag nadat ek hom oor dié projek genader het, het hy my gekontak oor A Boere-Krismis en gevra of ek sou belang stel om ’n voorlegging in te dien as regisseur. Ek het vir die draaiboek gevra, en dit was ’n baie sterk poging deur Ludwig Binge, wat by my aanklank gevind het. Dit het soveel hart, en my voorlegging het gewen.”

Daarna het alles sommer baie vinnig gebeur.

A Boere-Krismis het die nuweling-aktrise Lara Tosseli en veterane soos Albert Maritz, Ira Blanckenberg en Lida Botha in die hoofrolle. Ander spelers is Gideon Lombard, Cintaine Schutte, Carel Nel en Peter Butler.

Tosseli is te sien as die 27-jarige Claire Watson, wat vele ysters in die vuur moet hou om in die rolprentbedryf te oorleef. In ’n poging om haar loopbaan aan die gang te sit, gebruik sy haar aanstaande se familie in haar eerste prent. Hulle is ’n eienaardige, eksentrieke klompie met harte wat warm klop. In die rol van haar verloofde, Thinus, is die akteur Johann Vermaak te sien.

“My werk is gewoonlik baie donker en ernstig, selfs pessimisties, maar dié jaar was so swaar, ek was op soek na werk, en dit het op die perfekte tyd oor my pad gekom. Die storie het my werklik geraak.

“Ek wil kykers net herinner om in tye soos dié te onthou wat belangrik is: familie, en liefde. Ons sê so min vir ons geliefdes dat ons eintlik lief is vir hulle, en dis iets wat ek dink baie belangrik is, veral dié jaar.”

Hy glo Suid-Afrikaanse Kersprente gaan al meer ’n plaaslike gevoel ontwikkel. “Ons Kers-milieu is so anders as die res van die wêreld: Ons hou Kersfees in die somer, en ons braai, swem en ons gaan see toe. Rolprentmakers mik in daai rigting om ons stories ’n eie geur te gee.”

Hy hoop sy prent sal die kykers ná ’n baie moeilike jaar “vir ’n uur of twee wegvoer en herinner dat daar nog mooi en goed in die wêreld is, veral in families, met al hul streke inkluis. Dit klink dit miskien na ’n cliché, maar liefde wen altyd.”

Ek wil kykers net herinner om in tye soos dié te onthou wat belangrik is: familie, en liefde. Ons sê so min vir ons geliefdes dat ons eintlik lief is vir hulle, en dis iets wat ek dink baie belangrik is, veral dié jaar.”

Hy identifiseer nogal sterk met die hoofkarakter.

“Die argetipe van die struggling artist wat ’n deurbraak probeer maak. Toselli, wat die hoofrol speel, het self ’n webreek gemaak met die naam Chin Up, wat met soortgelyke temas (van die kunstenaar) werk, so sy was perfek vir die rol. En, omdat Claire ’n Engelse vrou is wat haar eerste Kersfees saam met haar aanstaande Afrikaanse skoonfamilie gaan deurbring, is daar ook ’n bietjie van ’n komiese ‘fish out of water’-element. Claire ondergaan ’n reuse-transformasie, te danke aan haar verloofde, Thinus, en sy lawwe familie. Die vonke spat ook omdat ’n familie net vir so lank onder dieselfde dak kan saamwoon voordat ou konflikte weer opvlam!”

Hy kon vinnig akteurs in die rolle sien, danksy Binge se sterk karakterisering. “Ek kon net na akteurs in die Kaap kyk, weens die begroting. Ek het bykans al my eerste keuses aangestel.”

Voor Kerstyd moet hy ’n hele paar draaiboeke inhandig en hy hoop om in Februarie ’n dokumentêre reeks te verfilm.

Eers is dit tyd vir Kersfees vier. Sy gunsteling-herinneringe aan Kerstyd is die lekker kos soos “skaapboud, ham, soet sjampanje, klappers”, maar ook tyd saam met sy familie, omdat almal so ver uitmekaar bly. Vanjaar gaan hy heel waarskynlik Kersfees saam met sy verloofde se familie deurbring.

“Al wat ek wil doen, is lekker eet en bietjie rus; die laaste paar maande was lekker rof.”

A Boere-Krismis word op 5 Desember om 21:00 op M-Net en op 19 Desember om 20:00 op kykNET vertoon.

Meer oor:  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.