Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Vlak 1 bring tog verligting vir rolprentteaters

Die rolprentteatergroepe Nu Metro Cinemas en Ster-Kinekor sê vlak 1 van die nasionale staat van inperking bring vir hulle verligting, al is die veranderinge wat hulle kan aanbring klein.

Nu Metro Cinemas is steeds slegs van Vrydae tot Sondae en op openbare vakansiedae oop.

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners Sondag ingelig het dat die inperking op 1 Maart van vlak 3 tot vlak 1 verslap word, het talle rolspelers in die dans-, teater- en musiekbedryf aan Netwerk24 gesê dat die vlak 1-maatreëls soos ’n korter aandklokreël en ietwat groter gehore nie veel klippe uit die kunste se pad rol nie.

Chantelle Burrows, Nu Metro Cinemas se hoof van bemarking en inhoud, sê egter dié nuwe maatreëls laat hulle toe om meer mense in hul rolprentteaters toe te laat, wat kaartjieverkope uiteindelik ’n hupstoot kan gee.

“ ’n Maksimum van 100 mense per rolprentteater of 50% van die beskikbare sitplekke, as distansiëring en ’n rolprentteater se grootte in ag geneem word, word nou toegelaat. Ons is voorheen slegs toegelaat om 50 mense per rolprentteater toe te laat.”

Burrows sê die afgradering tot vlak 1 beteken egter nie dat hulle hul Covid-19-beleid versaak het nie.

“Dieselfde streng Covid-19-gesondheids- en -veiligheidsmaatreëls geld in al ons rolprentteaters. Meer inligting is op die webblad www.numetro.co.za/covid-19 beskikbaar.”

Ook hul bedryfstrategie bly onveranderd, sê sy.

“Ons rolprentteaters is tans slegs op Vrydae, Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae oop. Ons vertonings begin om 09:15 en die laaste vertoning omstreeks 20:00.

“Die aangepaste aandklokreël gee ons wel meer tyd om ons spitstyd-aandvertonings af te handel sodat ons rolprentteaters teen 23:00 kan sluit en al ons werknemers by die huis kan kom voordat die aandklokreël om middernag begin.”

Sy sê geen bykomende vertonings word in dié stadium op hul program aangebring nie. Hul rolprentteaters in die Masingita-winkelsentrum (Giyani), Mams-winkelsentrum (Mamelodi), Parkview (Pretoria), Key West (Krugersdorp), Bedford (Johannesburg), die Cornubia-winkelsentrum (Durban) en The Strip (Welkom) is ook steeds tydelik gesluit en sal hopelik in die nabye toekoms heropen.

Ster-Kinekor-teaters is landwyd oop, maar sommige teaters is steeds van Maandae tot Donderdae toe.

Verteenwoordigers van Ster-Kinekor het soos Burrows gesê vlak 1-maatreëls hou vir hulle “positiewe gevolge” in.

Netwerk24 het in Januarie berig dat dié rolprentteatergroep in vrywillige sakeredding geplaas is.

Ster-Kinekor sal ook danksy vlak 1 meer mense in sy rolprentteaters kan toelaat en vertonings later kan aanbied. ’n Streng Covid-19-protokol geld steeds, wat voortaan ook insluit dat fliekgangers ná ’n vertoning die teater ry vir ry moet verlaat en dat hulle ook hul eie leë pakkies eet- en drinkgoed in vullisdromme moet gooi.

Al Ster-Kinekor se teaters is van Vrydae tot Sondag oop; slegs ’n handvol bied ook van Maandae tot Donderdae vertonings aan.

  • Fliekgangers in Kaapstad wat opgelet het dat die Cinema Nouveau in die V&A Waterfront agter ’n plankheining versteek is, hoef nie bekommerd te wees nie: Dié teater is net tydelik toe en word opgeknap as deel van die winkelsentrum se opknappingswerk.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ster-Kinekor  |  Nu Metro  |  Inperking  |  Flieks  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Staat Van Inperking  |  Fliek  |  Covid-19-Pandemie  |  Vlak 1  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.