Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Volkies in Potch maak fliek saam met Theunis Nel

Meng ’n bietjie Covid-19-regulasies, geesdriftige skoolkinders en onderwysers, asook ’n fliekghoeroe.

En daar het jy dit: ’n storie op die grootskerm wat nie net harte roer nie, maar ook ’n advertensie vir jou skool is.

Dit is die plan wat die Hoër Volkskool in Potchefstroom beraam het toe die skool vroeër vanjaar nie sy opedag kon hou nie weens die inperking. Die laaste toneel van Volkies se fliek is Woensdag geskiet.

“’n Virtuele opedag sou nie die atmosfeer en tradisies van die skool vasvat nie,” sê Elretha Janse van Rensburg, ’n rekeningkunde- en geografie-onderwyser by die skool. Onderwysers en ouers het in April op ’n vergadering die moontlikheid van ’n bemarkingsvideo bespreek.

Justin Scheepers en Niel Smit tydens die verfilming van die fliek. Foto: Verskaf
Christoff Nel en Luca Nzizi, leerlinge van die Hoër Volkskool wat in die fliek speel. Foto: Verskaf
Lede van die Hoër Volkskool se koor tydens die verfilming van die fliek. Foto: Verskaf

Theunis Nel, die akteur, televisieaanbieder en vervaardiger, was ook by dié vergadering en stel toe voor hulle maak ’n fliek. Nel en sy gesin woon in Potchefstroom. Sy seun, Christoff is ’n gr. 8-leerling in Volkskool.

As eienaar van die ervare produksiemaatskappy Woema Produksies, het Nel, Janse van Rensburg, onderwysers, leerlinge en Terry Nicholenas, die skoolhoof, dadelik aan die werk gespring om die plan in werking te stel.

Nel vertel hy het die draaiboek geskryf, maar dit sou nie moontlik wees sonder die baie insette van die onderwysers, ouers en leerlinge nie.

“Ek moes weet wat hulle laat lag, watter soort woorde hulle gebruik en waarmee die kinders aanklank sou hê. Die kinders was so gretig en opgewonde. Die glimlag op hul gesig het vir my baie beteken, dit was vir my ’n groot voorreg om deel hiervan te wees.”

Janse van Rensburg sê die fliek se titel is Brokkie van my Hart omdat dié frase in die skoollied voorkom. “Die storie gaan oor Amanda, ’n meisie wat by die skool inskryf, maar eintlik nie daar wil wees nie. Deur haar omgang met ander kinders en onderwysers, besef sy later dis presies waar sy wil wees. Ons skool se waardes, atmosfeer, tradisies en die koshuislewe is alles vervleg in die storie.”

Elretha Janse van Rensburg en Chrisné van Tonder (wat die rol van die hoofkarakter Amanda vertolk), tydens die verfilming van die fliek. Foto: Verskaf
Geert Stoop en Willis Viljoen tydens die verfilming van die fliek. Foto: Verskaf
Ruben Crous, Mighael de Beer (‘n onderwyser by die Hoër Volkskool) en Stephan Fourie. Foto: Verskaf
’n Bemarkingsplakkaat vir die Hoër Volkskool in Potchefstroom se fliek. Foto: Verskaf

Die aanvanklike oudisies vir die rolle tydens inperking is per video gedoen. Toe die kinders weer kon terugkeer skool toe, is die finale oudisies gedoen.

“Al die karakters word deur ons leerlinge en onderwysers vertolk,” sê Janse van Rensburg.

“Selfs mnr. Nicholenas is in die fliek te sien. Daar is nege hoofkarakters en 15 byspelers, benewens die baie kinders wat as ekstras gebruik is. Die kinders het dit so geniet. Een van ons kinders wat aan depressie ly, het begin blom. Van ons kinders het tegniese opleiding by Woema gekry om self te help met die opnames. Hulle kon Woema se toerusting gebruik. ’n Nuwe wêreld het vir hulle oopgegaan.”

Chrisné van Tonder wat Amanda vertolk, sê sy was verras om die hoofrol los te slaan.

“Ek sal die ervaring om saam met Theunis Nel te werk en die fliek te maak, vir niks verruil nie.”

Janse van Rensburg sê dit was ’n uitdaging om ná die inperking by te hou met die leerplan en die fliek te maak. “Ons het dit meestal smiddags en saans gedoen. Ons het soms tot 22:00 wanneer die aandklokreël (van die inperking) begin het, geskiet. Ons het geskiedenis gemaak deur ’n fliek by die skool, deur die skool, oor die skool en vir die skool te maak.”

• Die fliek word op 14, 15 en 16 Oktober in inry-formaat op ’n groot skerm by die skool vertoon vir gr. 7-leeringe en ouers wat normaalweg die opedag sou bywoon. Die publiek kan op 17 en 20 Oktober teen R50 per motor gaan kyk.

Meer oor:  Hoër Volkskool  |  Theunis Nel  |  Potchefstroom  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.