Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Voorreg om Poppie te speel én prys te wen – Mosimane

Die aktrise Clementine Mosimane, wat onlangs ’n Safta-prys as beste aktrise vir haar hoofrol in die fliek Poppie Nongena gewen het, beaam dat Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena die sluier oor die destydse onreg in die land gelig het. Sy en nog mense gesels met AJ Opperman oor die roman, die teaterproduksies daarvan en die fliek.

Die stryd van vroue lê Clementine Mosimane veral na aan die hart in die fliek Poppie Nongena, waarvoor sy verlede week die Safta vir beste aktrise gewen het.

Clementine Mosimane vertolk die hoofrol in die rolprent ‘Poppie Nongena’. Foto: Melanie Cleary

“Poppie Nongena se storie vertel van waar vroue vandaan kom,” sê Mosimane, wat Woensdag rondom middernag van haar prys verneem het toe dit op Safta (pryse vir die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf) se sosiale media bekend gemaak is. 

Dié fliek deur Christiaan Olwagen het verlede jaar sy debuut op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gemaak. Hy en Saartjie Botha het die rolprentverwerking gedoen. 

Die fliek is op 31 Januarie landwyd uitgereik en sal na verwagting eersdaags op DStv se BoxOffice beskikbaar wees. 

“Die jonger geslag het nie hierdie stryd ervaar nie,” sê Mosimane.

“Dit is ’n stryd waarvan die saad lank gelede geplant is, en vandag se jongmense ervaar die oes daarvan. Ek onthou die Soweto-onluste. My ma, Sophie Tema, was in daardie tyd ’n joernalis. Ek onthou die struggle presies soos wat dit in die fliek uitgebeeld word.”

Clementine Mosimane as Poppie Nongena in die gelyknamige rolprent wat op Elsa Joubert se roman ‘Die swerfjare van Poppie Nongena’ gegrond is. Foto: Melanie Cleary

Dit was vir ’n haar voorreg om die rol te vertolk en boonop bekroon te word. 

“Ek het egter nog nie die beeldjie nie,” sê Mosimane, wat in Soweto, Johannesburg, woon. 

“Dis so ironies dat Eunice Ntsatha (Poppie se regte naam) in 1992, so kort voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994, dood is. Ek wonder hoe sy sou voel om daar te wees, om haar kruisie te trek, ongeag vir watter party.

“Iemand het my met die Safta geluk gewens en gesê haar seun lees dit nou as voorgeskrewe boek op skool en danksy die fliek sal hy die boek nog beter verstaan. Ek hoop eintlik die fliek word op Netflix uitgereik. Baie mense het dit al vir my in boodskappe gevra.”

Elsa Joubert

Mosimane wil Joubert baie graag ontmoet.

“Ek salueer Elsa Joubert dat sy hierdie boek geskryf het. Dit het baie mense se oë oopgemaak. En om jou huiswerker se verhaal te skryf. Wie doen dit?

“Ek het ’n eksemplaar van Die swerfjare van Poppie Nongena ontvang wat sy vir my geteken het. Dis kosbaar.”

Oor die boek

Die swerfjare van Poppie Nongena is in 1978 deur Tafelberg uitgereik. Dit is onder meer met die W.A. Hofmeyr- en CNA-toekennings vereer en dit is in 2002 as een van die 100 beste boeke uit Afrika in die 20ste eeu aangewys.

Die letterkundige Willie Joubert, ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria, sê Joubert het haar posisie as bekroonde skrywer gebruik om ’n stem te gee aan iemand sonder ’n stem.

‘Die swerfjare van Poppie Nongena’ deur Elsa Joubert

Joubert het deur middel van gesprekvoering met haar huiswerker, Eunice Ntsatha, die verhaal opgeteken.

“Die verhaal van Poppie se lewe sou maklik net vergete kon raak as dit nie opgeteken was nie, maar belangriker is dat hierdie verhaal dit onder baie mense se aandag gebring het wat presies die gevolge van die apartheidswette op swart mense was,” sê Burger.

“Baie wit mense het nie destyds eers nagedink oor die gevolge van wetgewing soos die paswette nie en is deur hierdie verhaal met die werklikheid daarvan gekonfronteer.”

Sonder die boek sou Poppie se storie nie wyer gehoor kon word nie. “Omdat sy nie ’n skrywer was nie, maar ook omdat sy, selfs al het sy haar eie verhaal neergeskryf, nie toegang tot uitgewers gehad nie.”

"Dit is ook in Afrikaans geskryf om aan te dui dat apartheid nie goeie gevolge kan hê nie, maar ’n doodloopstraat is en dat verset daarteen onvermydelik en noodsaaklik is.”

Die roman het kort ná die Soweto-opstande in 1976 verskyn.

“Baie wit mense het nie besef wat die oorsaak daarvan was nie.”

Die verhaal van Poppie het die sluier gelig.

Prof. Willie Burger

Volgens Burger vermag die roman twee dinge: “Aan die een kant doen dit wat fiksie so goed kan doen, naamlik om op die lotgeval van een individu se ervaring van die wêreld te fokus. Die leser kan dit as’t ware van binne uit Poppie se ervaring beleef en dit is veel meer emosioneel oorredend as blote statistiek. Aan die ander kant bied die gebruik van ’n skuilnaam, Poppie, die moontlikheid dat dit nie bloot een enkele spesifieke slagoffer van die apartheidswetgewing is nie, maar dat sy verteenwoordigend van baie soortgelyke ervarings word.”

Poppie was Afrikaanssprekend en ’n Christen, en Joubert het die verhaal in Afrikaans geskryf omdat sy dit op Afrikaners gemik het.

“Daarom het dit sommige mense juis onthuts,” sê Burger.

“Om gekonfronteer te word met iemand wat ’n mens soos hulself is – in teenstelling met die apartheidsbestel wat ander dikwels ‘ontmenslik’ het en as ‘ander’ ver weg gehou het. Dit is ook in Afrikaans geskryf om aan te dui dat apartheid nie goeie gevolge kan hê nie, maar ’n doodloopstraat is en dat verset daarteen onvermydelik en noodsaaklik is.”

Burger reken die styl van die roman was ook vernuwend deurdat sy met “besondere effek” haar en Poppie se stemme afgewissel het.

“Dit is nie maar bloot deurgaans die storie van Poppie uit haar eie oogpunt nie, maar ook Joubert se eie nadenke, haar probleme om die verhaal mooi te verstaan, haar eie onkunde en onbegrip en onsekerhede word met Poppie se verhaal verweef. Op hierdie manier word die leser voortdurend herinner aan sy/haar eie aandeel in wat met Poppie gebeur, dat dit nie maar net ’n verhaal ‘doer ver’ is nie, maar een waarin elkeen betrokke is.”

"Een van die opmerkings ná die tyd was: ‘Ons het nie geweet dis só erg nie.’”

Poppie leef op die verhoog

Verskeie produksies van Die swerfjare van Poppie Nongena is op die verhoog opgevoer.

Dit is ook in die buiteland opgevoer en dit het in Londen ’n Laurence Olivier-teaterprys gewen.

Marthinus Basson

Die teaterregisseur Marthinus Basson het die rol van Stone, Poppie se man, vertolk toe dit met ’n wit rolverdeling opgevoer is.

“Ja, êrens in die verre verskiet was ons in ’n toerproduksie van Poppie Nongena met regie deur Sandra Kotzé,” sê Basson.

“Dit was in die hoogapartheidsjare en ons mag nie ‘persone van kleur’ in die geselskap gehad het nie. Brümilda van Rensburg, Ian Roberts en Willem de la Querra was ook deel van die geselskap.

“Ons het die uithoeke van die Kaapprovinsie besoek. Natuurlik net wit gemeenskappe, maar die impak daarvan was groot as ’n mens die reaksie van die gehore in ag neem. Poppie, die boek, het ’n enorme impak op die gemeenskap gehad en ek glo dit het baie bygedra tot die referendum wat alles verander het.”

Die akteur Marius Weyers het met ’n produksie van Die swerfjare van Poppie Nongena die eerste keer sy hand aan regie gewaag.

Dit is in die Staatsteater in Pretoria opgevoer.

Marius Weyers

“Dit was ’n moeilike tyd in die land en Truk se raad was gekant teen ’n gemengde rolverdeling,” sê Weyers. “Maar die direkteur, Gerrit Geertsema, en ek het besluit kom wat wil, ons gaan vasbyt. Openingsaand in die Staatsteater, nogal!! Dit was ’n uiters roerende ervaring, maar ook benoud. In daardie stadium is die sing van “Nkosi Sikelel’ iAfrikaverbied. Ons het die stuk afgesluit met die sing daarvan – die spelers net stil op verhoog, singende. En toe, toe staan daai hele gehoor op. Hoendervel en trane. Een van die opmerkings ná die tyd was: ‘Ons het nie geweet dis só erg nie.’”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.