Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Vroue openbaar hul veggees in ‘Stroomop’

Soms gaan dit opdraand in die lewe, maar daar is gewoonlik lig aan die einde van die tonnel. Dus is dit belangrik om positief en gemotiveerd te bly. Vanjaar kan Suid-Afrikaners op Vrouedag, Donderdag 9 Augustus, in fliekteaters inspirasie gaan put uit Stroomop. Danielle Daniëls gesels met regisseur Ivan Botha en hoofaktrise Donnalee Roberts oor dié rolprent vir vroue.

Die lewe loop soms wye draaie met ’n mens, maar die belangrikste is hoe jy aan die anderkant uitkom.

In die splinternuwe fliek Stroomop ontmoet ons vyf vroue wat besig is om in hul realiteite te verdrink. Die hoofkarakters word gespeel deur Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink en Carla Classen.

Maak seker jy teken Stroomop se datum in jou dagboek aan, want dié aksiebelaaide fliek wil jy verseker nie misloop nie! Foto: Keyart Services

“Die vroue sukkel almal met verskillende kwessies en ontmoet vir die eerste keer by ’n ondersteuningsgroep in Johannesburg. Daar word hulle die geleentheid aangebied om op avontuur-terapie op die Oranjerivier te gaan wat riviervaart insluit.

“Op hierdie reis loop dinge ongelooflik skeef en hulle bevind hulself in lewe-en-dood-situasies. Die groot vraag is of hulle gaan oorleef en sal leer dat alles wat hulle in hulself het, genoeg is om die struikelblokke van hierdie avontuur en die lewe te oorkom,” vertel Ivan.

“Vir my as regisseur is dit ’n fliek wat gaan oor genesing. ’n Fliek oor lewe en dood, letterlik en figuurlik. Die karakters is dood aan die binnekant, en hoe meer hulle hulself in lewe-en-dood-situasies bevind, hoe meer begin hulle leer om te leef,” sê Ivan.

Stroomop draai vir die eerste keer op Vrouedag in teaters, en volgens Ivan maak dit vir hom 100% sin om dit op dié dag uit te bring.

“Dit is Vrouedag en die fliek is vir vroue, maar mans sal dit ook geniet omdat daar groot avontuur en ook universele temas is, wat baie lewenskwessies aanraak. Vrouedag gaan alles oor vroue vier en die film is presies dit.”

In dié fliek is daar verskeie belangrike aspekte wat uitstaan. Vir Ivan is twee van hierdie aspekte die avonture wat kykers gaan geniet en dan ook die logistieke uitdagings om die fliek te maak.

“Ek hoop mense sien en waardeer wat dit geverg het om die fliek te maak. Daar is water, wilde diere, hope avontuur en baie hart. Die logistieke sy was ’n eerste vir Suid-Afrika, en ek is net ongelooflike trots om die storie te kon vertel. Dan is daar ook die vyf aktrises – die absolute rouheid van hul toneelspel en dit wat hulle na elkeen van die karakters gebring het.”

Donnalee sê Stroomop is ’n fliek waarin die vrouekarakters die heldinne van hul eie storie is, en dit is vir haar ’n belangrike aspek daarvan.

“Daar is al fantastiese flieks gemaak waarin die manlike hoofrol die redder is, maar wat wonderlik van Stroomop is, is dat die vroue hierdie keer hulself red.

“Tweedens, wat vir ons as storievertellers bitter belangrik is en waarvoor ons onbeskryflik dankbaar is, is mense se tyd. Ons sê altyd dat die kosbaarste geskenk wat iemand ooit vir jou kan gee, hul tyd is. As die publiek vir ons twee ure van hulle tyd kan gee om die fliek te kom kyk, dan is dit ons verantwoordelikheid om vir hulle waarde te gee.

“Dit is ook lekker vir ons as storievertellers om kykers na dele van ons land te neem waar baie mense nog nooit was nie en ook nie van geweet het.”

Met die verfilming van Stroomop moes Ivan en Donnalee verskeie uitdagings trotseer.

“Vir my persoonlik was daar op verskeie vlakke uitdagings. Een van die grootste hiervan is die elemente van die natuur. Ons het kilometers ver van alles af verfilm – elke dag in ongeveer 46° C – so fisies moes ons daagliks deur riviere swem, roei en berge uitklim. Maar wat ook lekker was, was my karakter. Ek vertolk die rol van ’n dokter en sy is so bietjie van ’n rebel.” vertel Donnalee.

“Haar moue is altyd opgestoot – of dit nou is om ’n

bakleiery te begin of iemand se lewe te red. Dit was vir my ’n lekker uitdagende karakter wat ek nog nie vantevore die geleentheid gekry het om te kan vertolk nie. Ook om op haar emosionele reis te gaan, was ’n heerlike uitdaging,” verduidelik sy.

Met soveel avontuur en lewenslesse, is Stroomop verseker ’n fliek wat jy nie wil mis nie!

Kykers het vir Ivan en Donnalee nou al in verskeie flieks saam gesien, maar dié keer werk hulle as paartjie saam, hy agter en sy voor die skerm.

“Dit is altyd ’n voorreg om saam te werk. Ons werk nou al vir ’n hele tydjie saam, so ons verstaan mekaar baie goed en ons vul mekaar aan. Ons is 100% ’n span as medeskrywers en vervaardigers asook op ’n kreatiewe te vlak. Toe ons die dag begin verfilm het, het Donnalee my 100% vertrou as regisseur en ek het haar 100% vertrou in die vertolking van haar karakter. Dit was regtig ’n spanpoging, nie net met haar nie, maar met elke liewe persoon wat deel was van die projek,” sê Ivan.

Donnalee sê dit was vir haar wonderlik om saam met Ivan te werk.

“Ek was nog altyd baie trots op Ivan, maar hierdie is die trotsste wat ek nog ooit op hom was. Hy het onbeskryflik hard gewerk. Hy was eerste op stel in die oggende en laaste daar weg in die aande. Sy gemoed het net so ’n wonderlike toon gestel vir almal.”

Met soveel avontuur en lewenslesse, is Stroomop verseker ’n fliek wat jy nie wil mis nie!

“Ons raai die publiek aan om die fliek te gaan kyk omdat dit die mees epiese avontuur is waarop jy in ’n lang tyd sal gaan. Ons gaan jou emosioneel en fisies uitdaag. Jy gaan verlore raak en hopelik jouself saam met die karakters vind! Ons kan nie wag om dit met die hele land te deel nie. Dit is iets waarby nie net vroue, maar die hele mensdom gaan aanklank vind,” sê Donnalee en Ivan.

Meer oor:  Stroomop  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.