Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Vroue-regisseur maak geskiedenis by Cannes

Die Nieu-Seelandse regisseur Jane Campion het dit eerste vermag – nou sluit die Franse regisseur Julia Ducournau by haar aan.

Ducournau het Saterdag by die befaamde Cannes-rolprentfees geskiedenis gemaak toe sy die fees se topprys, die Palme d’Or, vir die gruwelriller Titane gewen het. Sy het die rolprent se teks geskryf en die regie behartig.

Ducournau is naas Campion in 1993 vir The Piano slegs die tweede vrou in 74 jaar wat dié mylpaal kon behaal.

“Daar is soveel skoonheid en emosie in dít wat jy nie in ’n boks kan druk nie,” sê Ducournau.

“Dankie aan die jurie, wat aandring op groter diversiteit in ons rolprentervarings én ons lewe – en dankie dat julle die monsters ingelaat het.”

Ducournau se geskiedkundige oorwinning het met ’n titsel omstredenheid en humor gepaardgegaan: Die Amerikaanse regisseur Spike Lee, die eerste swart hoof van die Cannes-jurie, het Titane weens ’n taalversperring per ongeluk aan die begin van die prysuitdeling – nie aan die einde nie – as die wenner aangekondig. Hoewel sy medejurielede probeer het om hom te keer, kon hulle uiteindelik nie daarin slaag nie. Lee het groot om verskoning vir die blaps gevra.

Van die ander hoofpryse wat uitgedeel is, sluit die volgende in:

  • ’n Grand Prix is aan die rolprente Ghahreman (A Hero) en Hytti No. 6 (Compartment No. 6) toegeken;
  • Leos Carax is as beste regisseur aangewys vir sy regie van Annette;
  • Hamaguchi Ryusuke en Takamasa Oe het die prys vir beste teks vir Drive My Car ontvang;
  • Memoria en Ha’Berech (Ahed’s Knee) het elk ’n jurieprys gekry;
  • Renate Reinsve is bekroon as beste aktrise vir haar hoofrol in Verdens Verste Menneske (The Worst Person in the World);
  • Caleb Landry Jones het ’n kopknik as beste akteur vir sy spel in Nitram gekry;
  • Tang Yi het die Palme d’Or vir kortrolprente ontvang vir Tian Xia Wu Ya (All the Crows in the World); en
  • Die Amerikaanse aktrise-regisseur Jodie Foster en die Italiaanse rolprentvervaardiger Marco Bellocchio het elk ’n spesiale Palme d’Or-eerbewys vir hul lewenswerk ontvang.

Benewens Lee was Mati Diop, Mylène Farmer, Maggie Gyllenhaal, Jessica Hausner, Mélanie Laurent, Kleber Mendonca Filho, Tahar Rahim en Song Kang-ho lede van vanjaar se Cannes-jurie.

Die 74ste Cannes-rolprentfees het vanjaar van 6 tot 17 Julie onder streng Covid-19-maatreëls plaasgevind.

Klik hier vir ’n volledige wennerslys.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met ’n bykomende bron: deadline.com
Meer oor:  Maggie Gyllenhaal  |  Spike Lee  |  Jodie Foster  |  Flieks  |  Fliek  |  Cannes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.