Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Waarheid oor Vlakte slaan ’n harde hou

Ellen: Die Ellen Pakkies Storie met Jill Levenberg en Jarrid Geduld.
Regisseur: Daryne Joshua.
Ouderdomsbeperking: 16
*****

Hierdie uitmuntende rolprent is soos ’n vingernael wat te naby aan die lewe afgeknip is. Dit maak seer en daardie nael neem lank om terug te groei. Jy bly gedurig bewus van ’n dowwe pyn, en dis waarin die les geleë is. Die aanhoudende geklop van die waarheid aan jou vel.

Dié storie skyn tot in die donkerste hoekies van die menslike psige en ontmasker al die hartseer, trauma en woede van ’n ware gebeurtenis. Hier is geen versagting of skanse teen realisme nie. Net die waarheid wat die gruwels van dwelmmisbruik, spesifiek tik, uit die klipharde grond van die Kaapse Vlakte uitgrawe.

Lavender Hill se naam kry ’n ironiese betekenis, want daar word geen laventel oor die tragedie gespuit nie. Die regisseur kyk met skok in die hart van ’n afskuwelike probleem.

Die moordsaak het destyds vele voorblaaie gehaal. ’n Afgeremde ma, gespeel deur die weergalose en bekroonde Jill Levenberg, en haar man, Odneal (Elton Landrew), kan hul gevaarlike seun se dwelmmisbruik en aanrandings nie meer verduur nie. Hulle het al orals hulp gesoek, maar die stelsel het hulle in de steek gelaat.

En dit is die punt van die aanklag. Daar is so baie probleme, die stelsel is so oorweldig deur soortgelyke probleme (met te min personeel? of ’n optrek van die skouers?) dat ’n saak soos hierdie met tragiese gevolge deur die krake glip.

Niks wat gebeur het, kan skokkender wees as die waarheid nie. Dis ’n hulpkreet wat smag om gehoor te word.

Wanneer Ellen Pakkies haar seun, gespeel deur die briljante Jarrid Geduld, in ’n skokkende toneel vermoor, erken sy wat sy gedoen het.

Gaan die reg haar ook in die steek laat en laat opsluit?

Al klink die gegewe nie na die soort rolprent wat jy op ’n Sondagmiddag wil sien nie, is dit waar dat lewensveranderende flieks jou na plekke neem waarheen jy nie noodwendig wil gaan nie. Dit skeur die poskaartmooi prentjies van die Wes-Kaap op en werp jou midde-in ’n situasie so intens dat ’n mens getraumatiseer tot ná die einde bly sit.

Dis waarin sy trefkrag lê.

Selde gebeur dit dat ’n regisseur so sonder sensasie en met soveel openhartige eerlikheid na gebeure kyk wat daagliks steeds afspeel. Dit gaan om brutale belydenis, om die waarheid oopkop te vertel sonder verglansing vir trefkrag. Niks wat gebeur het, kan skokkender wees as die waarheid nie. Dis ’n hulpkreet wat smag om gehoor te word.

Met soberheid en insig het Daryne Joshua (van Noem my skollie-faam) ’n ware storie met bekwaamheid, professionaliteit en beheersing vertel. Die verfilming het in die werklike Ellen Pakkies se huis plaasgevind, wat die rolprent se impak verhoog. Die snuisterye in die vertrekke, die meubels, die smal dubbelbed en die kleurskema dra by tot die parallelle storie van eenvoud wat hierdie swaarkry-mense se lewens kenmerk. Die yl tralies wat later aangebring word, verteenwoordig hul magteloosheid, maar die oorweldigende teenwoordigheid van ’n ma se liefde is altyd voorop.

Hierdie ware verhaal sal jou in die maag skop en dwing om te herbesin oor waarheen ons op pad is.

Voeg daarby Amy Jephta se onberispelike draaiboek sonder tierlantyntjies en doelbewuste komiese sêgoed, maar woorde wat wáár en soepel in karakters se mond lê, en die gebeure slaan jou hard.

Melding moet ook gemaak word van Clint Brink as adv. Adrian Samuels wat die Pakkies-gesin se saak aanvaar en Ellen bygestaan het. Sy besorgdheid oor wat hy sien en die bedaardheid waarmee hy die waarheid tussen die gebeure uitgrawe, verleen ook gesag aan die rolprent.

Soms moet fliekgangers, wat dikwels liewer ontspanningsvermaak soos Marvel-superheldflieks verkies, hul fokus verander. Die realistiese, dapper helde is hiér in ons land, tussen ons. Hul spesiale kragte is durf en liefde.

Ons woon in ’n gewelddadige land. Soms moet die waarheid jou nael in die lewe afknip om jou wakker te maak. Om bewus te word dat ons rolprentmakers rolprente van wêreldgehalte maak wat by internasionale flieks kan kers vashou met hul kragdadigheid, hul verkenning van maatskaplike probleme wat weerlose mense daagliks tref, hulpeloosheid, ongeregtigheid en ons posisie 24 jaar ná demokrasie.

Hierdie ware verhaal sal jou in die maag skop en dwing om te herbesin oor waarheen ons op pad is.

Ook wat gedoen moet word om die slaggatpad te herstel. Jy kan egter nie net die slaggate vul nie. Die pad moet oorgebou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.