Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Will Smith of nie, dié fliek kort ’n storie

Gemini Man met Will Smith en Mary Elizabeth Winstead.

Regisseur: Ang Lee. *

Ang Lee is een van die mees gerespekteerde regisseurs vandag. Hy was verantwoordelik vir groot ervarings soos Brokeback Mountain, Life of Pi en Crouching Tiger, Hidden Dragon. Maar vir elke The Wedding Banquet het hy met eksperimente misluk soos Billy Lynn’s Long Halftime Walk. En ná Gemini Man sal ’n mens katvoet loop vir sy volgende probeerslag.

Lee is te behep met tegnologiese truuks. Sy rolprente moet anders en “beter” lyk as ander films. Vir Gemini Man gebruik hy ’n spesiale tegniek, waarmee hy ook onsuksesvol in Billy Lynn geëksperimenteer het.

Dit is in HFR 3D geskiet, waarin 60 raampies per sekonde by die oog verbyskiet in plaas van 24. In Xtreme-teaters met Dolby Atmos, asook 4DX-teaters, sal dit dus in hierdie unieke formaat te siene wees, asook in gewone teaters. Die probleem is jou oë, wat gewoond is aan 24 raampies, kan dikwels nie byhou nie en raak vermoeid.

Hierdie tegniek druk swaar op die onderbewussyn, want dit is net te skerp, te helder en te striemend. Maar as jy sommer net hierna gaan kyk om te sien hoe Will Smith met homself baklei, sal die tegniese gevorderdheid jou nie eintlik pla nie.

Die grootste probleem is nie die getal raampies wat jy in een sekonde kan verteer nie, maar die langdradige styl. Lee is nie so bedrewe met aksietonele soos byvoorbeeld David Leitch met die jongste Fast & Furious nie. Die gevegte voel aangeplak – asof dit net daar is om ’n tam storie op te kikker.

Nuwe flieks

Parasite *****

Wat ’n unieke, spitsvondige en verfrissende suiwering van ’n fliekvoos brein! Die donker, byna surrealistiese Cannes-pryswenner uit Suid-Korea handel oor ’n arm gesin in Seoel wat die lewens van ’n skatryk gesin oorneem met rampspoedige gevolge. Die storie is verbluffend oorspronklik, die kinkels verras telkens en die donker humor is aansteeklik.

Dis ’n soepel rolprent waarin die onverwagse die norm is terwyl dit jou rondomtalie draai met sy oorrompelende sjarme.

Diaboliese slim en venynige skelmstreke met ’n onverwagse wending in die middel sal jou katswink slaan! Dit lewer suur kommentaar op klasseverskille in Korea. Met groot lof aanbeveel vir kunsfliekgangers as die verrassing van die jaar.

Zulu Wedding *

Wat ’n yslike teleurstelling. ’n Belowende storie vervlak blitsig tot ’n romantiese chaos wanneer die komiese elemente momentum verloor.

’n Zoeloe-meisie gaan New York toe en wil met ’n Amerikaner trou. Maar haar tradisies verhoed haar.

Dis ’n onewe, oordrewe komedie wat die kluts vroeg kwyt raak.

Daar is egter ’n uitsondering: ’n besonder pakkende jaagtoneel op motorfietse wat vergoed vir die eerste trae begintonele. Maar die daaropvolgende jaag- en gevegstonele voel soos nat beskuit wat in jou maag plons. Jy is bewus van die plonk! en geniet nie die voltrekking van die aksie nie. Jy voel oorversadig aan te veel fliekkalorieë.

Verder word die gehoor gekonfronteer met twee Will Smiths. Die een is 51 jaar oud, die ander ’n melkbaard. ’n Mens betrap jouself dat jy probeer uitpluis hoe Lee en sy spesiale-effekte­towenaars daarin geslaag het om Smith so jonk te maak. (Dit kan dalk die redding van vele ander ouer rolprentsterre wees! Botox per kamera.)

Maar hier kom die struikelblok. Die kontras tussen die twee manne, en hul aanhoudende konfrontasies, raak vermoeiend. (Daar is daardie woord alweer!) Jy kyk telkens, in watter vorm ook al, van buite af onbetrokke hierna. Jy raak nooit deel van die storie nie. Boonop gaan dit mank aan persoonlikheid. Dit is, anders as vele ander opwindende aksieprente, nie onderhoudend nie. Die aksie vloei nie gemaklik uit die konfrontasietonele nie, want die spanning word nie volgehou nie. Dit is dikwels (maar nie altyd nie) gedwonge.

Boonop is die tempo onewe. Dit swiep jou nie op of deurweek jou met die gebeure nie. Dit plaas uitroeptekens agter die gevegte asof Lee sê: “Kyk hoe goed is ek!” En dit veroorsaak dat ’n mens later belangstelling verloor en ongeduldig wag op die slot­titels.

Met daardie beswaar uit die pad, mag doodgewone fliekgangers, wat ’n kruiwa nodig het om hul springmielies en koeldrank in die teater te stoot, dankbaar wees dat hulle nie hul grys breinselletjies hoef te ooreis nie. Jy kan selfs piepiepouses neem sonder om veel te verloor.

Terug by die positiewe kant. Mary Elizabeth Winstead is ’n uitstekende aktrise wat van niets iets maak. Sy is ongelukkig bagasie wat saam met die aksie gekarwei word sodat Smith ’n handige klankbord het vir verduidelikende dialoog. Maar ten spyte daarvan, steel sy amper Smith se kalklig. Sy is die beste ding in die rolprent. In teenstelling met die storie, borrel sy oor van persoonlikheid, onderspeel sy waar Smith oorspeel, en beïndruk sy met haar getemperde spel.

Haar talente word egter vermors op ’n dunnerige karakter.

As jy vir jou parkeerplek betaal, het ’n mens al die helfte van die rolprent vergeet. En teen slapenstyd het die hele storie vervaag. Soos X-Men: Dark Phoenix was die verwagting net te groot en het die glansryke lokprent die verkeerde indruk gewek.

Tegnologies gevorderd of nie, ’n goeie storie is baie meer werd as 60 (in die buiteland 120) raampies per sekonde!

  • Niemand onder 13 nie as gevolg van geweld en taal.
Meer oor:  Gemini Man  |  Will Smith  |  Fliek  |  Fliekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.