Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Ysterhond moet stert sinneloos rondjaag

A.X.L.met Alex Neustaedter en Becky G. Regisseur: Oliver Daly ,

Hierdie robotbrak se blaffie is vol vals tjanke. Dit is gegrond op ’n kortfliek Miles (2015), en bewys: Dit maak nie saak hoe goed die konsep is nie, dit is die uitvoering van die idee, asook die spelers en draaiboekskrywer se vindingrykheid wat lewe daarin moet blaas.

Maar hierdie meganiese Brakanjan se ysterkabelstert waai nooit. Nog minder grom hy ’n sinvolle blaf. Want hoewel kinders ouer as tien dalk enkele sekondes van hul selfone kan opkyk hiervoor, sal dit nie meer sinvolle kontak met die You Tube- en Instagram-geslag se besige verstand maak nie.

Lanklaas het ’n vrugbare idee sy eie stert so sinneloos rondgejaag.

Jy kan dus jou kroos bo tien na dié fliek stuur: Van hulle sal dalk kunsmatig, met springmielies pleks van selfone in die hand, sporadies betrokke raak by die brullende motorfietse en ysterkake van RoboCop as ’n brakkie. Maar die indruk word gewek dat dit eintlik ’n wyedoek-videospeletjie is met soveel geraas dat ’n swerm bye sal vlug.

Leeg, leër, A.X.L. is die wagwoorde.

Dit gaan oor ’n militêre agentskap vol bleeksiele wat ’n geheime wapen, ’n robothond, skep om gevaarlike take uit te voer. Die hond is intelligent, maar het nie emosies nie. Hy moet sy take, soos bomme uitsnuffel, sonder skroom met militêre presiesheid uitvoer. Hy is vir dié werk geprogrammeer, en hy moet gehoorsaam bly aan sy ontwerpers. Natuurlik loop iets skeef, sodat A.X.L. (wat staan vir attack, exploration en logistics) die kluts kwytraak, en dan ontsnap en gejag word.

Dit herinner aan een van die swakste wetenskapfiksie-rolprente nog oor melkbaarde, die patetiese Monster Trucks (2016), waar ’n popmooi spiertier ’n monster-vragmotor ontdek met ’n soort seekat vir ’n enjin.

A.X.L. is ’n katspoegie beter, maar bevredig op geen ander terrein behalwe om jou oë op ’n piekniek te neem nie.

Selfs die gedwonge skurk is bisepsbultend mooi – ’n lopende gim-advertensie vir steroïed. En die heldin, Sara (onoortuigend gespeel deur die sing-sensasie Becky G), is die ene dik grimering en vertonerige lyfie met ’n selfbewuste, verwaande houding sonder gesag. Sy speel vir ’n spieël, nie ’n kamera nie.

Haar aangeplakte, yl karakterisering is gedeeltelik daarvoor verantwoordelik dat die rolprent robotstert tussen die bene inmekaarvou.

Alex Neustaedter is te intens en goed vir die oppervlakkige rol wat hy moet vertolk, want dit is duidelik dat hy desperaat probeer om vleis om ’n brandmaer rol se bene te plaas. Daar is nie genoeg persoonlikheid in die papierdun karakter om ’n oortuigende vlees-en-bloed-mens te skep nie.

Die hond het meer persoonlikheid as hy! Boonop ding die akteurs teen ’n kakofonie van spesiale effekte mee wat dit in ’n videospeletjie verander, want jou brein hoef nie vreeslik hard te konsentreer nie. Die motorfietse, Becky G se “OMG, maar ek’s darem sexy”-kyk en die brak se oë wat van kleur verander wanneer hy geheg begin raak aan mense, is belangriker.

Kortliks handel dit oor militariste wat ’n robothond ontwerp wat voor soldate uitloop wanneer hulle op maneuvers uitgaan of die slagveld betree. Wanneer die skepsel ontsnap, amper soos in die veel beter The Shape of Water, weet niemand wat om met hom te doen nie, en moet sy vertroue eers gewen word, anders vermorsel hy die goeie ouens. Hy het darem maatjies wat nie terugpraat nie: motorfietse! Groot dele van dié jeugrolprent word gevul deur brullende fietse wat deur die lug tuimel sodat die arme hond darem iets het om te jaag.

Hier verander die fliek in ’n baster-musiekvideo en verwag ’n mens enige oomblik dat Becky G “How Much is that Doggy in the Window?” gaan sing. Die ander karakters se funksie is om bloot as pionne te dien wat die gate in die storie moet vul.

Die uiteinde is so teleurstellend, dat dit slegs met spesiale effekte opgetert kan word. Dit vervlak die rolprent tot ’n brullende tienerfantasie wat geen volwassene se aandag sal trek nie.

Voeg daarby ’n storie wat ’n mens al vantevore gesien het in RoboCop (1987 en 2014) en jy wil hierdie brakkie by die dierebeskermingsvereniging gaan aflaai waar hy teen die wrede skrywer beskerm kan word.

Slegs vir die duimdrukgeslag.

Nuwe flieks:

The Equalizer 2 ***

Hoewel die storie hierdie rolprent nie eintlik bo die gemiddelde skiet-skop-en-doodbloei-epos laat uitstaan nie, is die fliek nogal boeiend en vermaaklik. Dit is ’n gesofistikeerde aksiefliek met meer breinselle as wat in ’n springmielieboks inpas. Denzel Washington is gesaghebbend en meer bedaard as die gewone aksieheld.

Hy vervoer mense met sy motor en raak dan by hulle betrokke; dit is ’n tema wat dié slag deegliker as tevore ontgin word. Dit is gemiddelde aksievermaak met ’n tikkie sofistikasie. Veral die slotgeveg sonder clichés op ’n toring se dak sal jou waarde vir jou geld gee.

The Wife ****

Een van die beste rolprente van die jaar. Glenn Close is uitstekend as die vrou van ’n selfsugtige skrywer (Jonathan Pryce) wat die Nobelprys vir letterkunde wen. Die draaiboek is wel-deurdag en verrassend en die regie getemper en soepel. Maar dit is die krag van ’n sterk vrou agter ’n koue man, wat verleer het wat dit is om lief te hê, wat jou uit jou fliekgemaksone neem.

Meer oor:  A.X.L.  |  Oliver Daly  |  Alex Neustaedter  |  Becky G  |  Silverskerm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.