Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Zog’ kry toe sy goue ster – ’n Emmy!
Die nimlike drakie Zog en sy maatjie in die bekroonde animasieprent ‘Zog’.

Die kostelike kinderverhaal van ’n lomp dog leergierige drakie het internasionale beoordelaars weer behoorlik aan die swymel. Boonop is dié animasieprent, wat reeds ’n hele paar toekennings ontvang het, deur Suid-Afrikaners gemaak.

Zog het pas aan die regisseur Daniel Snaddon (Stick Man) en Max Lang (The Gruffalo en Room on the Broom) die internasionale Emmy vir beste kinder-animasieprent besorg. Die Kaapstadse animasie-ateljee Triggerfish het dié kortprent van 27 minute geskep en Magic Light Pictures in Londen het dit vervaardig.

Stuart Forrest, die uitvoerende hoof van Triggerfish, het dit as goeie nuus in ’n uitdagende tyd beskryf. “Die span het hul hart en siel daarin gestort om lewe te gee aan ’n dierbare karakter en dit is wonderlike erkenning aan ’n ongelooflike span om een van die toppryse in die internasionale televisiebedryf te ontvang,” het hy in ’n verklaring gesê.

Zog het al ’n hele paar vererings ingeryg soos onder meer die kindertoekenning van die Royal Television Society en dit is ook op die internasionale televisiefees in Sjanghai as die beste animasieprent aangewys. Dit het ook die gehoortoekenning op die New Yorkse kinderrolprentfees verower.

Die kortprent is gegrond op die prenteboek Zog, geskryf deur Julia Donaldson en geïllustreer deur Axel Scheffler. Die boek het in 2010 verskyn en meer as 1,5 miljoen eksemplare is verkoop. Dit handel oor Zog, ’n oranje drakie, wat graag ’n goue ster wil verower, maar daar wag enorme uitdagings op hom, soos dat hy moet leer vlieg, brul én vuur blaas. Hy ontvang hulp uit ’n onverwagse oord – ’n jong meisie wat hom kom help, wat pleisters op sy wonde plak en na sy stories luister. En hom dalk met die grootste toets vir ’n jong draak kan help? Waar gaan hy ’n prinses kry om te ontvoer?

Die stemkuns is deur Hugh Skinner as Zog, Patsy Ferran is sy maatjie en Kit Harington is die onbeholpe ridder, sir Gadabout. Die sanger Tracey Ullman is madame Dragon.

Zog is in Augustus verlede jaar op Showmax gewys. Dit het vyfster-resensies gekry toe dit in 2018 op die BBC begin het.

*The Snail and the Whale is die vyfde animasieprent deur Triggerfish en Magic Light Pictures, wat ook gegrond is op ’n prenteboek van Donaldson met illustrasies deur Scheffler, en kan tans op Showmax gesien word. Zog is die vierde animasieprent deur Triggerfish, wat gevolg het op Stick Man (2015), The Highway Rat (2017) en die Oscar-benoemde verwerking van Roald Dahl se Revolting Rhymes (2016).

Ouers kan ook uitkyk vir die volgende prente geskep deur Magic Light Pictures wat tans op Showmax te sien is: The Gruffalo (2009), Room on the Broom (2012) en die Annecy-wenner The Gruffalo’s Child (2011).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.