Vermaak
Gedigte oor yskaste en landskappe

Andries Bezuidenhout se tweede bundel, Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, het pas verskyn. Hy sê ’n navorsingsbesoek aan yskas-fabrieke het hom aan die dink gesit.

Andries Bezuidenhout

Jy het in 2007 met Retoer gedebuteer. Waarom het dit jou so lank geneem om die bundel op te volg?

Gedigte kom aanvanklik as bevliegings, maar dan begin die oorskryf en die weggooi van pogings wat niks meer as bevliegings is nie. Gedigte perkoleer soos goeie koffie en moet ’n bietjie trek soos rooibostee. Dit vat net veel langer as koffie of tee. 

Vanwaar jou bemoeienis met huishoudelike toestelle?

Navorsingsbesoeke aan yskasfabrieke in Suid-Afrika, Suid-Korea en Australië het my aanvanklik aan die dink gesit. Dít, asook die aande in hotelkamers in dié drie lande. 

Die bundel was ’n resultaat van jou magisterstudie in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Stellenbosch. Wat was die titel van jou verhandeling en waaroor het dit gehandel?

My essay se titel was “Die drukking van dakke: Ruimtelikheid en morele agentskap in Gert Vlok Nel se digbundel Om te lewe is onnatuurlik.” Al het Nel net een digbundel gepubliseer, het daardie bundel steeds ’n invloed op veral jong digters. Iets wat my opgeval het, is hoe hy die intieme ruimtes van sy huishouding met die wyer landskap van Beaufort-Wes en Suid Afrika kon verbind. Ek het probeer om daardie wisselwerking tussen intieme en openbare ruimtes in sy digkuns te ontleed.

Wat het jou aangespoor om patentesketse na te skets en dit in die bundel te gebruik?

Patentesketse se doel is om toestelle as intellektuele eiendom te proklameer. Die sketse gaan geensins oor kuns nie. Sommige van hulle is egter werklik mooi, met slim lyne en perspektief. Ek wou daardie spanning tussen beheer en kuns laat vervaag. 

Te oordeel na die inhoud van die bundel was jy baie op die pad. Hoe so?

Ek hou van Suid-Afrika se landskappe – veral die Hoëveld, die Karoo, die mielielande van Eybers se Wes-Transvaal. Ek reis altyd met ’n notaboek en ’n kamera. Soms skryf ek gedigte oor die paaie en soms skilder ek hulle. Ek skryf darem nie terwyl ek bestuur nie. In tye van ekologiese verval is ’n bemoeienis met landskappe as gedigte of skilderye dalk meer radikaal as die nostalgie wat gewoonlik daaraan toegedig word.

* Lees Maandag ’n resensie van die bundel op die boekeblad.

Soek Profiel Kontak Volg
Volg Netwerk24