Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Hermien Dommisse, kampvegter vir teater, gedenk
Kunsterade se rol aan haar te danke
Hermien Dommisse Foto: DAWID ROUX

Was dit nie vir wyle Hermien Dommisse nie, het Suid-Afrika nooit die kunsterade gehad wat na die belange van ­kunstenaars omgesien het nie. Al was dit van korte duur.

Was dit nie vir die outokratiese houding van administrateurs in die apartheidsjare nie, kon álle kunstenaars in die land dalk vandag nog hul talente in die veilige, gesubsidieerde strukture van instansies soos die kunsterade uitgeleef het, ’n bestel waarvoor dié doyenne van die teater haar haar lewe lank beywer het.

Dommisse se passie vir die kunste is maar een van die eienskappe van hierdie merkwaardige vrou wat op die viering van haar 100ste ­geboortejaar belig is.

Die geleentheid is Saterdag in die Nasionale Afrikaanse ­Literêre ­Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein gehou.

Die geleentheid is bygewoon deur familie wat van heinde en ver ­gekom het.

Onder hulle was ­Dommisse se drie kinders, Jeanne McCaul (wat in Frankryk woon), Gilbert McCaul en Nina Bach van Gauteng, asook ’n kleinseun, Pierre Coetzer, en ’n ­agterkleinkind.

Dommisse se onvermoeide ywer om ’n menswaardige bestel vir kunstenaars te skep, en te verhinder dat hulle ’n nomadiese bestaan voer of die land moet verlaat om hul talente te kan uitleef, was ’n openbaring.

McCaul het in ’n indrukwekkende huldeblyk aan haar ma vertel ­Dommisse was nog ’n universiteit­student in die 1930’s toe sy reeds ’n pleidooi vir groter erkenning van die kunste aan die destydse eerste minister, genl. J.B. Hertzog, gerig het. Sy onbelangstellende reaksie het haar net meer aangevuur en “van daardie dag het sy kulturele opheffing haar persoonlike plig ­geag”.

Terwyl sy as aktrise die land vir die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) deurkruis het, het sy in die 1950’s by John Vorster vir finansiële sekuriteit vir kunstenaars gepleit.

Dit het haar gegrief dat NTO-administrateurs salarisse, pensioen en verlof kry, maar nie die kunstenaars nie.

Dommisse het die onregverdigheid uitgewys en male sonder tal ’n pleidooi namens wit én swart ­kunstenaars gelewer.

In 1962 het sy die vrugte van haar onverpoosde alleenveldtog gepluk toe die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) gestig is.

Die NTO is daarin opgeneem ­terwyl musiek, opera en ballet ook onder dié gesubsidieerde sambreel ’n tuiste gevind het.

“Dit was vir Dommisse ’n enorme triomf en die verwesenliking van ’n droom,” het McCaul gesê.

Ongelukkig het dit net 30 jaar ­geduur voordat die aftakeling daarvan begin het.

In die 1990’s het die vier kunste­rade onder die nuwe demokrasie honderde kunstenaars en tegnici ontslaan en teen 2000 was niks meer van die rade oor nie.

Nou is kunstenaars weer nomades wat van fees tot fees trek, terwyl ­talle talentvolles, veral sangers, ­musici en balletdansers, weer na die buiteland moet uitwyk om ’n ­volhoubare loopbaan te vestig, het McCaul gesê.

Sy het ’n beroep op mense in die kunste gedoen om Dommisse se ­ideale te laat herleef en gesê haar ma se aanbevelings vir die bestuur van die kunste is tydloos.

Dit is vervat in haar D.Phil.-tesis, Die dramaturg en sy gemeenskap, wat in 1976 in boekvorm uitgegee is. Sy het haar doktorsgraad aan die UP verwerf.

McCaul het ten slotte gesê Dommisse se lewe as kampvegter vir die kunste bied ’n gulde geleentheid vir ’n akademiese verhandeling.

■ Dommisse is in 2010 in die ­ouder­dom van 94 jaar in haar slaap oorlede.

Persoonlike lewe

Hermien Dommisse se toneelloopbaan het begin toe sy laat in die 1930’s vir die SAUK in regstreekse radio-uitsendings van toneelstukke gespeel het.

Toe die gesin ná ’n Amerikaanse verblyf van sowat twee jaar in Kaapstad gewoon het, het sy die regie gedoen van die operas

Die Fledermaus, La Bohème en Die Towerfluit .

Sy het haar beywer vir behoorlike strukture vir die uitvoerende kunste.

Sy was te sien in die rolprente Die Kandidaat, Jannie Totsiens, Pappa Lap, Ma Skryf Matriek en later ook Plekkie in die Son, Fiela se Kind en die rol van Emily in twee Engelse ­rolprente oor Emily Hobhouse.

Ná die dood van haar man in 1979 het sy op 60 jaar met ’n loopbaan in televisie begin. Sy sal veral as Monika in die sepie Egoli onthou word. Sy het die rol vertolk totdat sy 89 jaar oud was.

In 1996 was sy een van die ­stigterslede van die Aardklop­kunstefees.

Sy het twee boeke gepubliseer: Voetspore, ’n versameling van haar artikels, toesprake en vertoë, en Long Journey of the Heart oor die geskiedenis van ballet in Suid-Afrika.

Vir die werk wat sy vir die kunste gedoen het, is sy beloon met ’n FAK-toekenning in 1987, ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1990 en die Fleur du Cap-prys in 1999.

Dommisse is op 27 October 1915 gebore is op 24 Maart 2010 aan longontsteking in Pretoria oorlede. Sy was 94 jaar oud.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.