Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Joernalis verwesenlik skryfdroom
Irna van Zyl. Foto: Verskaf

'n Derde skrywer uit die joernalistiekklas van 1979 (aan die US) maak nou haar debuut.

Irna van Zyl, wat destyds saam met Marita van der Vyver en Rachelle Greeff in die klas was, het pas ’n kontrak onderteken vir haar eerstemisdaadroman. Die titel is Moordvis en dit gaan in Julie volgende jaar gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn. Die Engels titel is nog nie bekend nie.

“Ek het altyd die droom gehad om ’n roman te skryf,” vertel Van Zyl. “In ons honneursjaar in joernalistiek het Madeleine van Biljon ons toegespreek en gesê dis moeilik om beide joernalis en skrywer te wees. En dit is waar.”

Van Zyl het ná jare in die joernalistiek en later ook aan die bestuurskant van die bedryf bedank om voltyds te skryf.

Sy gee dadelik aan ander skrywers die raad om nie moed op te gee nie. Haar eerste roman (wat nie vir publikasie aanvaar is nie) was ’n leerskool en “lê diep weggebêre onder in ’n laai”.

“Ek het sewe jaar lank tussendeur werk probeer, maar om vyfuur op te staan en op ál jou vakansies en naweke te sit en skryf, het net nie gewerk nie.”

Sy het in April by New Media uit diens getree en het toe die roman klaar geskryf.

Die hoofkarakter in haar roman is speur-adjudant Storm van der Merwe. Die verhaal speel af naby Hermanus op die fiktiewe dorpie Grootbaai, haaiduikhoofstad van die wêreld.

“Storm ry ’n Volla, sy is aan die kort kant, sy is versot op diere en word in die diepkant ingegooi wanneer ’n lyk minus ’n arm op die strand uitspoel. Sy kom gou agter dat die stand van sake op Grootbaai selfs gevaarliker as haaiduik is – sonder die hok!” aldus die mediaverklaring.

Van Zyl hou ooglopend van haar karakter en gaan haar in ’n volgende roman weer ’n rol te laat speel. Sy werk reeds daaraan.

Sy besef sy begeef haar in ’n baie kompeterende genre.

“Dis kompeterend omdat daar ’n mark is,” is haar filosofie. Sy het ook gevind dat ander skrywers in die genre baie ondersteunend is.

Van haar gunsteling- plaaslike skrywers is Deon Meyer en Karin Brynard.

“Ek dink my belangstelling in speur­verhale het begin met die Famous 5 en Secret  7. Ek was nie baie lief vir Engelse boeke nie en my pa het my 20c gegee per boek wat ek gelees het,” vertel sy met ’n laggie.

Toe sy begin skryf het, het sy eers besef hoeveel navorsing daar in ’n roman ingaan.

“Ek het besef ’n mens moet visiueel skryf, aandag gee aan detail en verduidelik hoe dinge werk. Die navorsing het my weer laat dink aan die joernalistiek toe ek met boekie en bandmasjien onderhoude gedoen het.

“Wat anders is aan wat ek nóú doen, is dat dit soms soos ’n marathon voel. Jy skryf en skryf en hou aan en aan. Jy moet hare op jou tande hê.”

Maar dié selferkende vasbyter laat nou uiteindelik haar droom realiseer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.