Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Ons oorlog’
Klaas Steytler se laaste roman terug op rakke
Die laaste roman uit die pen van Klaas Steytler, Ons oorlog, is pas heruitgereik. Elsa Joubert, sy vrou, het aan Willem de Vries van sy persoonlike Odussee met die skryf van ­hierdie roman vertel.
Ons Oorlog deur Klaas Steytler.

Ons oorlog is opnuut te lees as ’n waardige sluitstuk vir die ­lewenswerk van die romanskrywer Klaas Steytler wat in lewe onder meer joernalis, tydskrifredakteur en niefiksie-uitgewer was. Dit is ook ’n boek wat Elsa Joubert “baie na aan die hart” lê.

Toe Klaas Steytler in 1998 oorlede is, was die boek nog in manuskripvorm. Vertel asseblief hoe dit tot publikasie gevorder het.

Ek was nog emosioneel daardie tyd, veral ná Klaas se siekte. Hy het alles geskrywe gehad, maar dit was nog in manuskripvorm. Ons het nie daaraan ­gepeuter nie, net uitgelig.

Later, nadat ons seun, Nico, dit by my kom haal het, het hy twee weke verlof geneem om dit verder bymekaar te sit. Nico het geweldige respek vir sy pa se werk en ’n aanvoeling daarvoor. Dit is die boek soos Klaas dit ­gevisualiseer het. Jy sien sy stempel daarop.

Die boek begin waar ’n karakter die Onderwêreld bereik. Hier blaas hy mense uit die geskiedenis lewe in. En uit hierdie Odussee herrys ­verhale uit die Anglo-Boereoorlog. Vertel van jul gedeelde liefde vir die geskiedenis.

Ek kom uit die Boland, maar ek het altyd ’n geweldige verering vir die mense van die ­Anglo-Boereoorlog gehad. My oupa De Villiers was met verlof van sy gemeente vir ses maande om, soos hy gesê het, vroue en kinders in die kamp in Aliwal-Noord te begrawe. Toe ek met Klaas trou, kom ek agter sy ­familie is pens en pootjies in die Boereoorlog. Dit was vir my wonderlik om al daardie stories te hoor. Die verhale in die boek het ons almal gehoor by mense soos Klaas se ma en ouma. Klaas se pa het ’n geskiedenis van Harrismith geskryf.

In die vyftigerjare is die embargo op inligting oor die Anglo-Boereoorlog opgehef. En Klaas se pa, Fred Steytler, het na ­Londen gereis en vir twee jaar daar die ABO-dokumente aan Engelse kant deurgesoek en geliasseer, uitgesoek en geïnterpreteer. Die geskiedenis-atmosfeer was baie sterk in daardie huis.

Sedert die boek se verskyning in 2000 en heruitreiking so pas het talle boeke oor die ABO verskyn. Waaraan is dit te wyte?

Daardie groter hedendaagse vraag na boeke oor die oorlog is deel van ons, amperse soeke na, ek wil nie sê na outentisiteit of identiteit nie, maar miskien na helde.

Berus dit op ’n familie­geskiedenis?

In breë trekke berus die boek op familiegeskiedenis, maar daaraan is natuurlik vlees ­gegee. Klaas moes vir dié boek uit familiestories en flardes ­vertelling outentieke karakters opbou. Daar wás ’n oom Jan Visser wat so swaar gekry het toe hy die eerste keer iemand moes skiet. Dié deel van die ­verhaal was net ’n sín in die oorlewering, maar daaruit het Klaas ’n karakter gebou, en toe word dit roman­matig. Hy het dit op sy manier geënsceneer. Klaas het aan dit alles lewe gegee. Dit was vir hom ’n persoonlike Odussee.

Hoe lank het hy aan die boek ­geskryf?

Hy het altyd die begeerte ­gehad. Dit is nie net ’n storie wat hy opgetel en vertel het nie, dis ’n storie wat hy moes skryf. Hy het ook baie navorsing ­gedoen. Hy het hom ondergedompel in hierdie vertellinge.

Klaas het stadig geskryf, want hy wou ’n immersie in sy karak­ters hê. Vir sy benadering van skryfwerk, van romans, moes jy as skrywer daaruit ­verdwyn. 

Hy het altyd dié beeld gebruik: Jy moet jou karakter kan opwen, jy moet hom só goed ken dat as jy hom opgewen het, hy self moet begin loop. Jy moenie deur die karakter praat nie. Jy moet verdwyn. Dít gee aan die karakters groot outentisiteit en geloofwaardigheid.

- Tafelberg-Uitgewers publiseer Ons Oorlog.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.