Vermaak
Kontreifees fokus op PJ Philander

PJ Philander

Die digter P.J. Philander se werk gaan Saterdagoggend op Caledon onder die loep kom.

Skrywers en digters, onder wie Daniel Hugo en Bettina Wyngaard en die boerekos-ghoeroe Dine van Zyl, gaan aan die program deelneem.

Hugo gaan in ’n “PJ Philander-trialoog” op die program praat oor hoe Philander, wat op Caledon gebore is, die plaaslike natuurskoon en karakters in sy gedigte laat neerslag vind het.

Die gesprek word aangebied in navolging van ’n vers waarin Philander pleit dat die jare van stryd plek moet maak vir gesprek:

“Ons wil niks meer hoor omtrent koker, gifpyl en boog,

slegs ’n hiep-hiep-hoera vir Piet Philander se trialoog.”

Hugo, wie se jongste digbundel Hanekraai verlede jaar uitgereik is, het in 1996 ’n keur van Philander se gedigte saamgestel ter viering van sy 75ste verjaardag.

Wyngaard, wat oorspronklik van Grabouw is, sal praat oor hoekom dit vir haar belangrik is om die Overberg in haar werk te laat figureer, terwyl Van Zyl oor “blomme in die (kos)pot” sal praat om aan te sluit by die tema van die gesprek, naamlik “Die woord blom”.

Musiek sal verskaf word deur Frazer Barry van die groep Tribal Echo, wat bekend is om hul op en wakker en oorspronklike Afrikaanse liedjies.

Die Philander-gesprek sal van 09:00 tot 11:00 in Caledon se stadsaal plaasvind as deel van die tweede Caledonse kontreifees wat die plaaslike blommeseisoen inlei.•

Skakel 083 285 7031 met navrae of stuur epos na​ heinw@mweb. co.za.

Volg Netwerk24